Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Beleggings
Dink dalk wyer as die geldmark

Absa het verlede week in ’n brief, wat na my mening grens aan die bisarre, aan alle beleggers in sy geldmark-effektetrust kennis gegee dat hy die fonds gaan sluit en dat hulle 90 dae het om een van ’n paar opsies uit te oefen.

k
Andró Griessel

Dit is ’n fonds met meer as R80 miljard se bates, dus beleggersgeld.

Ek meen die rede wat Absa vir die sluiting van die fonds aanvoer, is of kan nie die oorwegende rede wees nie, maar dat die werklike rede moontlik iets met Basel III se vereiste kapitaaltoereikendheidsverhouding te doen het. Basel III is ’n internasionale reguleringsraamwerk vir banke.

Daar moet teen 1 Januarie 2022 hieraan voldoen word, wat moontlik ook die “haas” waarmee hierdie ontbinding van die fonds gepaardgaan, verklaar.

Maar wat ook al die werklike rede dalk kan wees, is dit sinvoller om eerder tyd af te staan aan die alternatiewe opsies wat Absa aanbied en dit dan op te weeg teen ’n wyer stel opsies.

  

Absa se opsies

  

Kom ons kyk net eers wat is die opsies wat Absa aan beleggers voorhou. Ek haal aan uit die brief (die vetgedrukte gedeeltes is my eie om jou aandag hierop te fokus):

“Daarom het jy 90 dae van die datum van die brief om: 

  • Jou geld regstreeks te onttrek en oor te skuif na een van jou bankrekeninge;
  • Met ’n finansiële adviseur te gesels indien jy die geld maklik wil oorskakel na enige van ons finansiële produkte; of
  • Die geld ná 90 dae maklik en veilig na ’n Absa-beleggingsbankrekening in jou naam oor te dra.”

Let op dat alle opsies daartoe lei dat Absa die geld herwin wat uit die geldmarkrekening onttrek word, maar wel grotendeels in sy bankprodukte (wat dus op sy balansstaat kom), terwyl die geldmarkfonds nie op sy balansstaat was nie.

Die verstekopsie, wat uitgeoefen sal word vir talle beleggers wat nie gaan reageer of nie betyds gaan reageer nie, is om die geld te skuif na ’n bankgewaarborgde produk wat ’n opbrengs sal betaal wat “vergelykbaar” is met dié van die geldmark.

  

Watter ander opsies het beleggers? 3 keuses met lae risiko

  

1. ’n Alternatiewe geldmarkfonds

Daar is meer as 30 alternatiewe geldmarkfondse waarin jy kan belê.

Indien jy Absa se geldmarkrekening soos ’n maandelikse onttrekkingsrekening gebruik het en sommer geld van die kitsbank af daaruit onttrek het, gaan die meeste van die ander opsies waarskynlik nie naastenby so gerieflik wees nie omdat hulle nie by Absa gaan wees nie en dit jou ook nie dié funksionaliteit gaan bied nie.

Vir mense wat egter die geldmarkrekening vir kapitaal-bewaring en -akkumulasie gebruik het, sal die alternatiewe fondse goed kan werk.

Sien hiernaas ’n paar van die meer bekendes en hul vergelykende tienjaaropbrengssyfers.

k

Na my mening is dit ’n gulde geleentheid vir geldmarkbeleggers, nie net vir Absa s’n nie, om hul toewysing aan die geldmark te heroorweeg.

Vir die tipiese belegger in die geldmark is die nominale bewaring van kapitaal die hoofoorweging, met ander woorde ’n sterk behoefte of ’n verpligting om nie kapitaalrisiko (al is dit oor hoe ’n kort tydperk) te neem nie. Hierdie streng vereiste veroorsaak egter dat kapitaal in reële terme met wesenlike risiko te kampe het.

Die huidige opbrengs op geldmarkbeleggings is in die omgewing van net 4,18% (Allan Gray) per jaar.

As die belegger ’n maatskappy is, is die opbrengs (ná belasting) ’n skrale 3,01%. Indien die belegger ’n trust is wat nie die geleibuisbeginsel kan benut nie of ’n individu wat op die top- marginale belastingkoers is, daal die opbrengs verder tot ’n skamele 2,3%.

Hoewel beleggers dus geld in nominale terme beskerm kry, is hulle besig om koopkragwaarde te verloor.

  

2. Inkomstefondse

Inkomstefondse is ’n trappie hoër op die risiko-skaal, maar verskaf ten minste die geleentheid om jou kapitaal teen inflasie te beskerm op ’n nabelaste grondslag.

Sien hiernaas ook vyf bekende inkomstefondse en hul jaarlikse prestasie oor die afgelope tien jaar.

k

Bogenoemde fondse presteer oor tyd effens beter as die geldmark, met baie min bykomende risiko. Let op dat nie een van die fondse ’n negatiewe kalenderjaaropbrengs opgelewer het oor die afgelope tien jaar nie.

  

3. Lae-aandelefondse (maksimum 40% aandeleblootstelling)

Beleggers in geldmarkfondse wat nie “verplig” word om geen wisselvalligheid te aanvaar nie, maar vrywillig hulself tot hierdie strategie beperk, kan na my mening selfs lae-aandelefondse oorweeg, mits hulle realistiese verwagtinge oor korttermynverliese het.

Sien hiernaas ook die kalenderjaarprestasie van vyf van die bekendste lae-aandelefondse oor die afgelope tien jaar.

k

Onder dié vyf is dit slegs Prudential Inflation Plus wat negatiewe kalenderjaaropbrengste opgelewer het. Die ander het almal ’n skoon rekord in dié verband.

Die beste van die vyf fondse sou egter oor ’n tienjaartydperk 55% meer groei behaal het as die beste geldmarkfonds.

Die vermoë om ’n bietjie ongemak te verduur, was nog altyd die toegangskaartjie na beter langtermynopbrengste.

Opsommend

Wat ek vermoed in die praktyk gaan gebeur, is dat ’n baie van die beleggers wat die brief van Absa gekry het, hulle nie veel daaraan gaan steur nie en eenvoudig die verstekopsie gaan aanvaar.

Vir die meer bedagte belegger sou dit egter goeie tydsbesteding gewees het om:

  • Hul besluit om in die geldmark te belê, in die eerste plek te heroorweeg; en
  • Na alle alternatiewe opsies te kyk en nie net dié wat Absa voorhou nie.

* Andró Griessel is ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en besturende direkteur van ProVérte Wealth & Risk Management. Kontak hom by info@proverte.co.za. Hy skryf gereeld vir Sake.

Oorweeg alternatiewe opsies ook, nie net dié wat Absa voorhou nie. Foto: iStock
Meer oor:  Andró Griessel  |  Bankbedryf  |  Effektetrustfondse  |  Beleggers  |  Geldmark  |  Geldmarkfonds  |  Bank  |  Banke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.