Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Beleggings
Dínk voor jy jou beleggings skuif

Ek gaan ongelukkig vandag ’n holruggeryde perd wéér moet opsaal in die hoop dat dit dalk een of twee mense sal help om nie wat na my mening ’n fout is, te maak nie. Terwyl ons nou die ou perd nader trek, kom ons ry hom sommer bloots vandag.

  

2018 was ’n besonders uitdagende jaar in die finansiële markte – wêreldwyd, nie net in Suid-Afrika nie.

Andró Griessel

Om jou ’n idee te gee, die Allan Gray- gebalanseerde fonds (die grootste gebalanseerde fonds in Suid-Afrika) het -3,1% opgelewer voor administrasie- en advies-gelde. Die mediaan gebalanseerde fonds uit 188 fondse het -3,6% opgelewer.

Dit was die Allan Gray-gebalanseerde fonds se swakste prestasie oor ’n kalenderjaar sedert die aanvang van die fonds en selfs swakker as die 2008-finansiële krisis se -1,82%.

Die doel van hierdie inligting is nie om op dié spesifieke fonds te pik nie, maar om die aard van die beleggingsomgewing te illustreer.

Vir die res van die artikel, probeer asseblief nie te veel ag slaan op die spesifieke fondse waarna ek verwys nie, maar op die beginsel ter sprake.

Die ontleding behoort waar te wees vir enige soortgelyke fondse by enige ander batebestuurder.

Of jy dit wil weet of nie, jou langtermynbeleggingsuitkoms word grotendeels deur jou eie besluite bepaal. Dit is waar dinge interessant kan raak wanneer mense hul “eie ding doen” of ’n adviseur het wat nie die nodige ervaring of emosionele deursettingsvermoë het nie.

Ek het vandeesweek bewus geword van iemand wat onlangs (ná hierdie daling) sy beleggings wat in die Allan Gray- gebalanseerde fonds was, omgeskakel het na die stabiele fonds.

Dit is ’n meer konserwatiewe fonds met ’n laer toewysing aan groei- of sogenaamde risiko­bates.

Hierdie optrede is verstaanbaar en ons het simpatie dat mense by ’n punt kom waar hulle eenvoudig die bloeding wil stop. Laat ek dit egter in geen onduidelike terme stel nie: Hierdie omskakeling was amper ongetwyfeld ’n fout wat hierdie persoon ’n paar honderdduisend rand kan kos in die komende jaar of jare.

Kan ek dit met 100% sekerheid sê?

Natuurlik nie, maar kom ons wend ons tot die waarskynlikheidsleer om die sinvolheid van die besluit te beoordeel.

k

Sien die tabel hierby waarin die twee fondse se prestasie sedert 2000 uiteengesit word. Ten spyte daarvan dat die stabiele fonds in drie van die afgelope vier jaar beter gevaar het as die gebalanseerde fonds, het die gebalanseerde fonds steeds twee uit elke drie jaar beter as die stabiele fonds gevaar oor ’n tydperk van 18 jaar.

Ek dink nie hierdie tendens gaan verander nie. Die langtermyn- gemiddelde opbrengsverskil is tans 3,82 persentasiepunt per jaar in die guns van die gebalanseerde fonds.

Geld
2018 was ’n besonders uitdagende jaar in die finansiële markte – wêreldwyd, nie net in Suid-Afrika nie.

Hoewel hierdie marge met verloop van tyd effens kleiner kan raak, sal ek verbaas wees as dit minder as 1,5 persentasiepunt tot 2 persentasiepunt per jaar gaan wees oor die volgende 20 jaar. Dit het nog net een keer gebeur (2015-’16) dat die stabiele fonds twee jaar agtereenvolgens beter gevaar het as die gebalanseerde fonds.

Die verskil in opbrengs oor hierdie twee jaar was egter karig. Deur nou om te skakel na die stabiele fonds sit jy letterlik jou geld daarop dat hierdie statistiese raar gebeurtenis hom vanjaar gaan herhaal. Naas 2008 was die mate waartoe die stabiele fonds verlede jaar beter as die gebalanseerde fonds gevaar het, die grootste tot op hede.

In 2009 het die gebalanseerde fonds egter met meer as 7 persentasiepunt die bordjies verhang. ’n Herhaling hiervan (al is dit nie van dieselfde omvang nie) is na my mening waarskynlik. In die jare onmiddellik nadat die stabiele fonds beter as die gebalanseerde fonds gevaar het, is die bordjies met gemiddeld 5,56 persentasiepunt per jaar verhang.

Hou in gedagte dat die stabiele fonds ’n hoër toewysing van rentedraende produkte (soos kontant en effekte) het, wat ’n groter belastingimplikasie het indien hierdie fondse nie in ’n aftreeproduk is nie.

Bespiegeling?

Bespiegeling, alles bespiegeling, hoor ek ’n paar skreeu.

Dit is korrek, dit is bespiegeling . . . daar is geen manier dat ons hier en nou kan weet wat die werklike uitkoms gaan wees oor die volgende jaar of drie nie, maar is dit nie waaroor besluitneming juis gaan nie?

Alle besluitneming is oor die toekoms, nie oor die verlede nie. Die verlede help bloot met die proses van besluitneming.

Gebruik jy egter die verkeerde besluitnemingsraamwerk is hierdie historiese inligting ’n meulsteen om jou nek in plaas van ’n springveer onder jou voete.

Kom ek sluit af met ’n paar aanduiders dat jy dalk besig is om jouself herhaaldelik in die voet te skiet en in die proses besig is om ’n baie swakker langtermynuitkoms te bewerkstellig:

  • Indien jy jou portefeulje oor die afgelope ses maande meer konserwatief saamgestel het, maar jou langtermyndoelwitte en behoeftes het nie verander nie (soos die persoon in my voorbeeld).
  • Indien jy omskakel van fondse wat die afgelope jaar of twee swak gevaar het en dit belê in fondse wat goed gevaar het, en vernaam as daardie fondse nie in dieselfde bateklas belê is nie.
  • Indien jy jou geld uit aandeel- gebaseerde beleggings gehaal het om in een van die hoë-rente-aanbiedings wat die ronde doen te plaas sonder om behoorlik die nabelaste implikasies te verstaan of te bereken.
  • Indien jy onlangs enige wesenlike geografiese veranderings aan jou batetoewysing gedoen het, gegrond op jou siening van die Suid-Afrikaanse politiek of die aanmoediging van sekere kommentators om al jou geld landuit te neem.
  • As jy jou aandeleportefeulje te gelde gemaak het om in plaaslike residensiële eiendom of ’n buitelandse verblyfreg- residensiële skema te belê.

Verstaan my asseblief reg, my verwysing na die alternatiewe bates (soos eiendom) is nie ’n mening dat dit swak beleggings is nie, maar wel dat jou besluitnemingsraamwerk moontlik gebrekkig is en indien herhaaldelik toegepas, amper sonder twyfel vir jou ’n swakker uitkoms gaan bewerkstellig.

  • Andró Griessel is ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en besturende direkteur van ProVérte Wealth & Risk Management. Kontak hom by info@proverte.co.za. Hy skryf gereeld vir Sake.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.