Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Beleggings
Dis amptelik: ’n Luukse handsak is ’n bate

Vroue was toe nog die hele tyd reg: ’n Handsak is ’n bate.

Dié blou Hermès-handsak is enigeen se droom - en boonop ‘n goeie belegging. Foto: Getty Images

Dít word bevestig in die internasionale eiendomskonsultante Knight Frank se jongste welvaartverslag, wat wys die luukse Hermès-handsak was in 2020 die versamelaarsbate waarvan die waarde die meeste gegroei het.

Ondanks die Covid-19-pandemie het die waarde van dié handsakke in 2020 met 17% toegeneem en in die afgelope tien jaar met ’n allemintige 108%, sê Soul Abraham, uitvoerende hoof van Old Mutual Insure Retail.

Van whiskey tot Hermès

“The Wealth Report” van Knight Frank wys die waarde van ander luukse items, soos beleggingsgraadwyn, klassieke motors en horlosies, wat deur die wêreld se rykstes in hul beleggingsportefeuljes gehou word, het met onderskeidelik 13%, 6% en 5% gestyg, het Abraham die afgelope week op ’n welvaartwebinaar van sy filiaal Elite Risk Acceptances gesê.

Hoewel die waarde van seldsame whiskey die afgelope jaar 4% ingeboet het, het beleggers die afgelope dekade groei van 478% verwesenlik. Die waarde van kuns en munte het ook in 2020 gedaal, maar oor tien jaar met onderskeidelik 71% en 72% gegroei.

Aanlyn veilings en ’n groot vraag onder handsakversamelaars in Asië het luukse handsakke as ’n bateklas ondersteun.

In November het die afslaer Christie ’n Hermès Himalaya Niloticus Crocodile Retourné Kelly 25 teen ’n rekordbedrag van $437 330 (sowat R6,4 miljoen teen die huidige wisselkoers) verkoop, lui die verslag.

Welvarende beleggers het sowat 2% se blootstelling aan versamelitems as bateklas in hul beleggingsportefeulje, sê Abraham.

k

Halfmiljoen ultrarykes

Die wêreld het nou sowat 520 000 ultrarykes (mense met ’n netto waarde van meer as $30 miljoen, primêre woning ingesluit).

Volgens Abraham wys die syfers Suid-Afrika het al sowat 40 000 superrykes (netto waarde van $1 miljoen, primêre woning ingesluit). Die meeste van hulle woon in Johannesburg (16 000), gevolg deur Kaapstad (7 000), Durban en Umhlanga (5 000) en dan Franschhoek, Paarl en Stellenbosch (3 000).

Abraham sê die siening van welvaart verskil van land tot land. In Suid-Afrika moet jy $180 000 (sowat R2,7 miljoen teen die huidige wisselkoers) in netto bates hê om onder die top- 1% te tel. In Monaco, byvoorbeeld, is dit $7,9 miljoen.

Suid-Afrika se superrykes is goed gekwalifiseerd. Van hulle het 27% in die regte gestudeer, 19% in ’n finansiële rigting en 7% in ’n mediese of ’n wetenskaplike rigting.

Wyn as belegging

Marcus Allen, direkteur van sakeontwikkeling van Cult Wines in Londen, het op die aanlyn konferensie gesê belegging in uitgesoekte wyn bied goeie diversifikasie in ’n portefeulje.

’n Belegging in uitgesoekte wyn bied goeie diversifikasie in ’n portefeulje. Foto: Pixabay

Boonop is dit in die meeste wêreldlande kwytgeskeld van kapitaalwinsbelasting en as fisieke bate kan dit in verskillende “strukture” gehou word soos die naam van ’n gesin, maatskappy of trust en bied dit dus buigsaamheid.

Dit is ook makliker om die mark vir uitsoekwyne te betree as om byvoorbeeld ’n klassieke motor of seldsame, gekleurde diamante te koop. Teen £200 000 kan jy ’n portefeulje opbou met wyne van die beste streke van Boergondië, Champange, Italië, Australië, Duitsland en die Napa-vallei in Amerika. Beleggingsgraadwyn is ook likied omdat dit binne ses tot tien weke verkoop kan word, sê Allen.

Cult Wines hou bates van sowat £165 miljoen in uitgesoekte beleggingsgraadwyn. Die firma bou beleggingsgraadportefeuljes van uitgesoekte wyn vir ultra- en superrykes in 80 lande.

Dit is nie ’n fonds nie, maar elke belegger het sy eie portefeulje van wyn as bateklas, met ’n gemiddelde opbrengs van 8% tot 9% per jaar, sê Allen.

Cult Wines oorweeg net 1% van die wêreld se wyn en belê dan in byna 1% daarvan, op grond van onder meer unieke geografiese gebiede en jaarlikse volume wat gelewer kan word. Soos ’n spesifike oesjaar se wyn verbruik word, gaan die prys noodwendig op omdat die voorraad afneem, verduidelik hy.

Aarash Ghatineh, verkoopsdirekteur van Cult Wines, sê Bordeaux in Frankryk lewer die hoogste konsentrasie van beleggingsgraadwyn.

Die wêreld stel al hoe meer belang in wyne van nuwe markte, soos Suid-Afrika, Chili en Argentinië. Ghatineh sê ’n baie klein deel van die bates onder Cult Wines se bestuur is Suid-Afrikaanse wyn, maar ’n groot gunsteling is Klein Constantia se Vin de Constance. Hy beskryf dit as een van die wêreld se beste natuurlike soetwyne.

Christelle Colman, besturende direkteur van Elite Risk Acceptances, sê Knight Frank se indeks van luukse beleggings wys superryk Suid-Afrikaners bestee hul geld graag aan motors, klere, seiljagte en bykomstighede soos horlosies. Inkomste in die luukse sektor word op $2 miljard per jaar geraam.

Volgens Colman wil superrykes in alternatiewe bateklasse belê om te diversifiseer, maar veral hul tasbare bates, soos juweliersware, kuns en klassieke motors, is dikwels onder- of oorverseker.

Meer oor:  Superrykes  |  Versamelstukke  |  Bateklasse
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.