Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Beleggings
Dis skilpad, nie haas wat welvaart bou

Het jy geweet dat die bekende belegger Warren Buffett het 96% van sy rykdom ná die ouderdom van 65 opgebou? Hy is die toonbeeld van iemand wat tyd vir hom laat werk.

  

skillie
Stadig, maar konsekwente spaar bring jou verder as wilde waagskote en emosionele besluite. Foto: Unsplash

Buffett het op ’n keer gesê “min aspekte van die menslike bestaan is meer emosioneel gelaai as ons verhouding met geld”. 

Wanneer dit kom by ons finansiële gesondheid en welstand, is dit amper onmoontlik om ons emosies af te skakel, maar ons kan onsself help om die impak van ons emosies en die gevolglike impak daarvan op ons geldsake te bestuur.

Wanneer markte wisselvallig is, loop emosies ook hoog, wat dikwels daartoe lei dat beleggers vinnige besluite neem wat hulle duur te staan kom. In tye van onrus en paniek in die mark is die beste strategie om rustig te raak en nie vinnige skuiwe te maak nie.

Dis makliker gesê as gedaan, gegewe die Covid-19-verwante markwisselvalligheid wat ons sedert vroeg 2020 beleef.

Hoewel ons steeds in die nuwe Covid-19-beheerde wêreld leef, het ons gesien hoe markte amper met 70% styg vanaf die laagtepunte wat in Maart 2020 beleef is. Te midde van die verskriklike laagtepunte en die daaropvolgende hoogtepunte, blyk dit dat ’n interessante tendens na vore gekom het: Die aanvanklike vrees van beleggers het begin verander in opwinding en ’n uitbundigheid oor markte.

LEES OOK: Paniek kos beleggers miljoene se opbrengs

Ons sien dat sommige dele van die mark dubbele en/of selfs driesyfer-opbrengste behaal.

Ons hoor van vriende of kollegas wat enorme bedrae geld verdien het deur in bitcoin te belê. Ons sien hoe baie beleggers hul kop skud in teleurstelling: Waarom het ek nie meer geld in Tesla belê nie? Hoekom het ek nie meer gewaag nie? Waarom lyk my beleggings so vervelig in vergelyking met ander s’n?

Soos die noodlot dit wil hê, het ek onlangs die boek The Psychology of Money deur Morgan Housel gelees (en ek kan dit sterk aanbeveel). In een van die hoofstukke fokus hy op die konsep van “ryk word” teenoor die “opbou van rykdom”. Hy verken die teorie dat, hoewel almal glo dat hulle ’n miljoenêr wil wees, wat hulle regtig wil hê, is om ’n R1 miljoen met gemak te kan spandeer.

As jy eers vrede gemaak het met die feit dat jou belegging 20 tot 30 jaar gaan neem om te groei, is die proses tussendeur eintlik redelik vervelig. Laat dit vervelig wees – dis wanneer die goeie groei plaasvind.

Maar om ’n R1 miljoen te kan spandeer, moet jy baie meer welvaart as dít opbou.

Tensy jy ’n wonderlike strategie het om vinnig ryk te word, word rykdom oor ’n lang tydperk opgebou.

Daar is baie goeie voorbeelde van beleggers wat met verloop van tyd welvaart verwerf het, maar een van die beste suksesverhale is na my eie mening dié van Buffett. Selfs nadat hy 99% van sy rykdom weggegee het, bly hy volgens Forbes die vierde rykste mens ter wêreld.

Die geheim van Buffett se rykdom en sukses? Stadig maar seker wen die wedloop. Hy het sy beleggings die nodige tyd gegee om te groei.

Vanaf die ouderdom van 30 het sy beleggings ’n tydperk van 40 jaar gehad en het hy sy rykdom stadig laat groei. ’n Mens kan nie anders as om te dink dat hy briljant, maar tog ook ’n bietjie gelukkig, moes gewees het nie, maar in werklikheid was tyd en geduld die grootste bydrae tot sy welvaartskepping.

Vandag se wêreld en beleggingsfilosofieë het wel baie verander. Ons leef in ’n wêreld waar oombliklike belonings aan die orde van die dag is. Geduld is ’n las wat deur min mense beoefen word.

Ongelukkig is die verhale van individue wat ’n tegnologie-onderneming begin en dit vir miljarde verkoop, die uitsondering en nie die reël nie. Om van nul tot miljoenêr te gaan, is nie aan die orde van die dag nie.

Die werklikheid is dat die meeste van ons oor tyd ons rykdom moet opbou deur ons swaar verdiende geld ywerig te spaar en te belê.

So vervelig en oninspirerend soos dit mag klink, is dit ook ’n goeie ding. Ongeag hoeveel jy belê, as jy net die geduld toepas om jou belegging se saamgestelde waarde te laat groei, en gedissiplineerd aan te hou spaar, deur goeie en slegte tye, en nie afgelei word nie, sal die impak van die samestelling jou verbaas.

Saamgestelde rente is werklik die agtste wonder van die moderne wêreld. Op ’n manier is dit die faktor wat die speelveld gelyk maak vir diegene wat nie oornag miljoene verdien nie. Dis goed om jou welvaart stadig te laat groei.

Hier is ’n paar wenke wat jou kan help met die proses:

1. Outomatiseer die spaarproses

Kry ’n vaste debietorder met ’n vasgestelde bedrag wat van jou rekening afgaan sodra jou geld inkom.

Betaal jouself eerste, maar moenie dink aan jou spaargeld as ’n uitgawe nie, want dan daar is altyd ’n rede om nie te spaar nie.

Dink aan jou “besteebare” inkomste as die bedrag wat jy oor het nadat jou spaarbedrag reeds afgetrek is, en dit sal minder pynlik voel.

2. Moenie so gereeld na jou belegging kyk nie

Op kort termyn kan markte irrasioneel optree en prysbewegings maak nie altyd sin nie. Herinner jouself daaraan dat jou aandele ’n belang in ’n standvastige onderneming is.

Moenie bekommerd wees oor wat die markte doen nie, bly eerder gefokus op watter ondernemings jy besit en gee hulle tyd om jou geld te laat groei.

3. Moenie beïnvloed word deur jou vriend se warm wenk nie

Iemand sal altyd glo dat hulle die nuutste beleggingswenk het en sal waarskynlik gretig wees om dit te deel, maar laat jou geld eerder op die regte manier groei.

As jy ’n behoefte het om in ’n “warmwenk”-idee te belê, doen dit eerder met ekstra spaargeld en met ’n bedrag wat jy nie spyt sal wees as jy dit verloor nie.

Moenie jou huidige beleggings onttrek daarvoor en die proses van groei en samestelling wat jy ingestel het, onderbreek nie.

4. Moenie opwinding soek nie

Jou belegging is nie bedoel om opwindend te wees nie.

As jy eers vrede gemaak het met die feit dat jou belegging 20 tot 30 jaar gaan neem om te groei, is die proses tussendeur eintlik redelik vervelig. Laat dit vervelig wees – dis wanneer die goeie groei plaasvind.

5. Ken jouself

Leer om jou reaksies op die volgende gebeure te verstaan: ineenstortings op die mark, goeie wenke, paniek oor slegte politieke nuus, bekommernis oor ons land en “fomo” (fear of missing out) as jy nie sekere beleggings het nie.

Sodra jy ’n interne kontrolelys het oor hoe jy reageer, skryf neer watter advies jy aan jouself sou gee wanneer dié gebeure wel plaasvind.

As jy nie seker is wat om te sê nie, is dit goeie raad om nie jou reaksie op jou spaargeld en beleggings uit te haal nie. Laat jou spaargeld en beleggings in vrede.

Ten slotte

Oor dekades van bewyse en insig van beleggingsliteratuur is daar een goue draad: Die tyd wat jy in die mark spandeer is steeds beter as die tydsberekening van die mark.

Vra jouself af:

“Gegewe waar ek nou is, watter aksies bring my nader aan my langtermyndoelwitte?”

“Sou ’n beleggingsverandering in pas wees met my oorspronklike beleggingsplan en ten gunste wees van die bereiking van my gedefinieerde doelwitte?”

Dié vrae verskil baie van ’n vraag soos: “Wat wens ek het ek verlede maand gedoen?”

Beleggings is ’n langtermyn-strewe waaraan mens geduldig bates toeken en sodoende beleggings laat groei. As jy jouself vang pessimisties voel oor die plaaslike aandelemark, die markte probeer voorspel en wat die toekoms inhou en/of verveeld raak met jou beleggings – herinner jouself aan jou doelwitte en hoekom jy in die eerste plek belê het.

  • Victoria Reuvers is besturende direkteur van Morningstar Investment Management SA.
Meer oor:  Morningstar  |  Beleggings  |  Finansiële Beplanning  |  Bateklasse  |  Aandele  |  Geldsake
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.