Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Beleggings
FBI gaan baasbrein van MTI help soek

Die likwidateurs van Mirror Trading International (MTI) is besig om kragte saam te snoer met die Amerikaanse speurdiens (FBI) om die baasbrein van dié skema op te spoor.

Gesoek: Johann Steynberg, beweerde meesterbrein van MTI. Foto: Facebook

Die likwidateurs het reeds gesprekke met die FBI gevoer, luidens ’n verklaring wat Dinsdag uitgereik is.

Die vyf likwidateurs is deur die meester van die hooggeregshof aangestel nadat die Gedragsowerheid vir Finansiële Dienste (FSCA) bevind het dat MTI, ’n kripto-beleggingskema, op onreëlmatige wyse sake gedoen het.

Dit is steeds onseker waar Johann Steynberg, wat voorheen as baasbrein van die skema beskryf is, hom bevind.

Hoewel ’n “papierspoor” in die vorm van ’n vliegkaartjie bestaan wat aandui dat hy moontlik na Brasilië gevlug het, is dit nog nie bevestig dat hy Suid-Afrika inderdaad verlaat het nie.

Aansoek om onwettig te verklaar

Die likwidateurs se aansoek om die skema as onwettig te verklaar, word op 8 September aangehoor.

Die likwidateurs ontken die aantygings wat in hofstukke na vore gekom het van ’n egpaar, Clynton en Cheri Marks, wat die likwidasie teengestaan het.

In hul betooghoofde opper hulle vrae oor die FSCA se werkwyse.

Luidens die verklaring het Clynton jare voor die ineenstorting van MTI openlik op sosiale media bemarking vir beweerde bedrogskemas soos die Russiese MMM-skema gedoen deur opbrengste van 30% per maand te belowe.

Clynton beweer die aansoek om MTI as ’n onwettige skema te laat verklaar en te likwideer het bloot ten doel om beleggers se geld in die hande van die staat te laat beland.

Die gesamentlike likwidateurs ontken dié bewering en sê hulle mag nie beslag lê op geld wat in die skema belê is nie. Hulle mag slegs geld van beleggers terugeis as dit eintlik wederregtelik aan hulle betaal is.

Indien ’n beleggingskema onwettig is, is die wins en die verwysing-kommissies nie wetlik verskuldig aan die ontvangers daarvan nie.
MTI-likwidateurs

“Indien ’n beleggingskema onwettig is, is die wins en die verwysing-kommissies nie wetlik verskuldig aan die ontvangers daarvan nie. Dan kan die likwidateurs dit verhaal ten bate van die beleggers wat hul kapitaal in die onwettige skema verloor het.”

Dié geld word dan gebruik om beleggers se oorspronklike beleggings te help terugbetaal.

Die likwidateurs ontken ook dat die geld wat verhaal gaan word aan die staat verbeurd verklaar sal word.

Die geld wat ingevorder word, sal aangewend word om pro rata ’n gedeelte van die eise van die slagoffers (beleggers wat hul kapitaal verloor het) terug te betaal.

Volgens hulle is aansoek gedoen vir ’n bevel om die sakemodel van MTI onwettig te verklaar om:

  • Duidelikheid en regsekerheid oor belangrike aangeleenthede te kry; en
  • In die regsposisie te wees om twyfelagtige winste en onwettige kommissies en bonusse van die sogenaamde “wenners” in die skema te verhaal ten bate van werklike slagoffers.

Die likwidateurs sê talle beleggers in MTI het etlike miljoene rande se bitcoin ontvang – veel meer as wat hulle aanvanklik belê het.

“Dit is gedoen deur fiktiewe wins, kommissies en bonusse. Die bewyse toon duidelik dat daar geen winsgewende verhandeling in MTI plaasgevind het nie. Dit is dus bewysbaar dat die wins en kommissies en bonusse wat betaal is eenvoudig met die geld gefinansier is wat gekry is van nuwe of langtermynbeleggers in MTI.”

Volgens die likwidateurs is die nuwe en langtermynbeleggers van MTI die werklike slagoffers en per definisie die krediteure van die maatskappy.

Die likwidateurs moet aan die meester van die hooggeregshof verslag doen oor hoe die administrasie van die likwidasie hanteer word.

Die aansoek om likwidasie is net voor Kersfees in Desember 2020 gebring.

Ondervraging duur voort

Volgens hulle word daar voortgegaan met ondervraging om soveel moontlik van die wettige eise vas te lê.

Die wet bepaal dat die likwidateurs ingevolge art. 417 en 418 van die Maatskappywet enigeen mag ondervra oor die bedrywighede van die onderneming.

Die ondervraging help om die bates van die maatskappy op te spoor en om moontlike twyfelagtige transaksies te ondersoek.

Die likwidateurs meen weens die geheimsinnige omstandighede waaronder Steynberg verdwyn het, is die wetlike magte noodsaaklik.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.