Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Beleggings
Fed se baas van groter belang vir SA beleggers

Of dit nou Donald Trump of Joe Biden is wat as die Amerikaanse president in die Withuis sit, is nie naastenby so belangrik vir Suid-Afrika as wie die president van die Amerikaanse sentrale bank is nie, sê kenners.

Jerome Powell, voorsitter van die Amerikaanse Federale Reserweraad, vroeër vanjaar tydens ’n komiteevergadering oor die koronavirus. Foto: Kevin Dietsch, UPI/Bloomberg via Getty Images

Izak Odendaal en Dave Mohr van Old Mutual Wealth skryf die afgelope week Biden as president sal nie ’n groot regstreekse impak op die land hê nie.

“Suid-Afrika is nooit hoog op enige Amerikaanse president se agenda nie. Vir Suid-Afrikaanse beleggers bly die belangrikste persoon in Washington DC die voorsitter van die Federale Reserweraad, nie wie in die Ovaal-kantoor sit nie.”

Hulle verwys na Mei 2013 toe Ben Bernanke, destyds Fed-voorsitter, se uitsprake genoeg was om ons effektemark in ’n draaiduik te stuur. “Die vooruitsig van strenger Amerikaanse monetêre beleid het die tafel gedek vir jare lange druk op plaaslike staatseffekte en die rand, hoewel ons eie politieke en beleidsfoute ook bygedra het.”

Die gunstige markreaksie verlede week toe dit blyk Biden gaan die presidentskap voor Trump wegraap, was toevallig ook ten tyde van die Fed se monetêre beleidsvergadering, sê Odendaal.

Jerome Powell, Fed-voorsitter, het gesê die Covid-19-vlaag in Amerika is ’n risiko vir die ekonomie en het benadruk hoe belangrik nog fiskale steun is.

As dit nie gebeur nie, sal die Fed waarskynlik sy eie steunmaatreëls instel, wat lae rentekoerse vir veel langer behels. Dít sal druk verlig op rentekoerse in Suid-Afrika en die rand ondersteun deurdat geld na ontluikende markte kan vloei waar beleggers beter opbrengste kan verdien, skryf hulle.

Jan van Niekerk, uitvoerende hoof van RECM Batebestuur, sê die gunstige markreaksie het nie soseer iets uit te waai met wie die Amerikaanse verkiesing gewen het nie, maar eerder daarmee dat regerings en sentrale banke geld in die finansiële stelsel pomp. Dié steun van sentrale finansies vloei na batemarkte.

Hy het Sondagaand in die RSG-program FinFokus aan Ryk van Niekerk, aanbieder, gesê kommentators en beleggers wil korttermyn-markbewegings dikwels toeskryf aan politieke gebeure, maar politiek het nie soveel van ’n impak op markbewegings nie.

Hy beaam daar is ’n groter kans op fiskale beleidsverandering as die Fed van baas verander, as wanneer die president van die land verander.

Jerome Powell, voorsitter van die Amerikaanse Federale Reserweraad, vroeër vanjaar ná ’n komiteevergadering oor die koronavirus. Foto: REUTERS

Odendaal en Mohr sê beleggers moenie dinge met mekaar verbind wat nie verband hou nie.

Dink byvoorbeeld aan plaaslike aandele wat in Jacob Zuma se presidentskap ’n opbrengs van 15% per jaar gelewer het. Daarenteen het baie aandelebeleggers wat geglo het pres. Cyril Rama­phosa sal Zuma se gemors vinnig opruim, sover baie verloor.

“Niemand sal sê Zuma was goed vir die markte, of Rama­phosa is die rede dat aandele sedert 2018 gedaal het nie. Zuma se termyn het bloot begin nadat aandele wêreldwyd op ’n laagtepunt was ná die finansiële krisis van 2009. Daarenteen het die Ramaphosa-presidensie meestal die wind van voor gehad met Covid-19 en ’n wêreldwye resessie.”

George Herman, direkteur en beleggingshoof van Citadel, sê politiek se invloed al dan nie op die ekonomie het te doen met die tydshorison.

Vir 2020 in geheel het politiek nie ’n invloed gehad nie, maar wel sentrale banke wat aggressief likiditeit in die markte gestoot het. Gevolglik het finansiële markte en aandele verhandel op vlakke van voor Covid-19, ongeag swak ekonomiese toestande.

Die tydperk vanaf 1 November met Suid-Afrikaanse en Amerikaanse markte wat albei met meer as 10% gegroei het, het niks met stimulusmaatreëls te doen nie, maar met die vooruitsig van nog stimulus ná die Amerikaanse verkiesingsuitslae, sê Herman.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.