Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Beleggings
'Vreemde val' van Third Circle klaar ondersoek

Die Gedragsowerheid vir die Finansiëledienstesektor (FSCA) het die ondersoek na die onverklaarbare val in die waarde van een van Third Circle se effektetrustsfondse einde 2015 ná die afdanking van Nhlanhla Nene as minister van finansies, afgehandel.

MMI
Metropolitan Collective Investments, wat deel is van MMI-groep, het in 2017 aangekondig hy gaan nie meer ander fondsbestuurders toelaat om sy lisensie vir kollektiewe beleggings te gebruik nie.

Netwerk24 het navraag hieroor gedoen nadat MMI Vrydag in sy halfjaarresultate tot einde Desember na dié ondersoek verwys het en gesê het hy het voorsiening gemaak vir eise wat hieruit kan voortspruit.

Gerhard van Deventer, hoof van nakoming in die nuwe ondersoekafdeling van die FSCA, sê hulle oorweeg nou watter stappe gedoen moet word.

Van Deventer kon nie uitwei oor die bevindinge nie.

Die FSCA sê ook hy het ’n volledige ondersoek na MMI se filiaal Metropolitan (MET) Collective Investments gedoen en nie ’n “hersiening” soos wat MMI Vrydag laat blyk het nie.

Third Circle se fondse is onder MET Collective Investments se lisensie geadministreer.

Jeanette Cilliers, adjunk- uitvoerende hoof van die MMI-groep, wat deel is van die nuwe bestuur wat verlede jaar aangestel is om MMI reg te ruk, het Vrydag gesê hulle het gemeen dit is verstandig om dié hersiening in hul resultate te openbaar.

Personal Finance het in Februarie 2016 berig die Third Circle MET Target Return Fund het van afgeleide instrumente gebruik gemaak om die portefeulje teen ’n val in aandeelpryse te beskerm.

Dié strategie het egter nie gewerk toe Nene in Desember 2015 as minister van finansies verwyder is nie. Die nuus het aanvanklik ’n skerp val in aandeelpryse veroorsaak, maar die pryse het later herstel.

Die gebeure het egter daartoe gelei dat die fonds se waarde met 58% geval het.

Personal Finance het berig die FSCA se voorganger, die Raad op Finansiële Dienste, het begin met ’n ondersoek om te bepaal of die verliese spruit uit nalatigheid of die nienakoming van wetgewing.

Ian Lane
Ian Lane, wat die Third Circle-fonds bestuur het op sy Linkedin-foto.

Die fondsbestuurder was Ian Lane, hetPersonal Finance berig.

MMI het in November 2017 gesê hy het die strategiese besluit geneem om nie meer effektetrustfondse namens derde partye te administreer en so onder sy eie naam te bemark nie. MET Collective Investments is dus gesluit.

Volgens Cilliers het MMI hierdie fondse geërf in sy samesmelting met Metropolitan bykans ’n dekade gelede.

Sy het gesê hoewel die besluit om dié afdeling te sluit voor haar aanstelling geneem is, glo sy ook “fundamenteel nie in hierdie bedryf” (om fondse namens derde partye te bestuur) nie.

In die nadraai van hierdie besluit het MMI in die halfjaar tot einde Desember 2017 ’n groot uitvloei van R98,3 miljard aangemeld. Die netto uitvloei was R20 miljard.

Lane het voorheen aan Personal Finance gesê hoewel die fonds se strategie kompleks was, het dit aan die Wet op Kollektiewe Beleggings voldoen.

Moneyweb het destyds berig die fonds het binne twee dae in Desember 2015 66% van sy waarde verloor. Effektetrustfondse se waarde word as ’n netto batewaarde per eenheid weerspieël, wat toon wat sy onderliggende bates werd is. Die netto batewaarde was op Donderdag 10 Desember 2015 98c. Op Maandag 14 Desember 2015 het dit tot 33c per eenheid geval. Nene is 9 Desember uit sy pos verwyder.

Volgens Moneyweb het beleggers oor dié twee handelsdae R250 miljoen verloor. Daar was begin Desember 2015 R387 miljoen se beleggings in die fonds. Twee ander effektetrusts van Third Circle wat op hul beurt in hierdie Total Return-fonds belê was, het ook verliese gely as gevolg daarvan.

Die gesamentlike kapitaalverlies van die drie fondse was R435 miljoen, het Moneyweb berig.

Daar was ook vrae oor die fonds se openbaarmaking aan beleggers oor die omvang van die afgeleide instrumente waarin hy belê was.

Financial Mail het in Maart 2016 berig volgens fondsinligting op 1 Desember was 96% in kontant of geldmarkinstrumente, wat betreklik veilig behoort te wees. Financial Mail het berig volgens Hugo Snyman, besturende direkteur van Third Circle, was daar minder as 30 beleggers in die fonds. “Almal het presies geweet waarin hulle belê. Dit was vir ingeligte beleggers . . .”

Meer oor:  Metropolitan  |  Fsca  |  Momentum  |  Mmi  |  Nene  |  Aandelemarkte  |  Fondse
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.