Goud het Donderdag die jaar afgesluit met sy grootste styging in ’n dekade, iets wat meegebring is deur die volgehoue styging in die goudprys in Desember.

Altesame 1 kg se goudstawe uitgestal by die mynmaatskappy Oegussa in Wene, Oostenryk. Foto: Lisi Niesner, Bloomberg
Die hoogste prys is in Augustus behaal toe beleggers gevrees het dat ’n ongekende golf van ondersteuning van sentrale banke en regerings onder meer tot inflasie gaan lei.
Die pryse van beursverhandelde fondse wat goud hou, het in Oktober ’n hoogtepunt bereik.
Hoewel die pryse begin afneem het weens die optimisme in die finansiële markte oor entstowwe, het die swakker dollar goud bly ondersteun.
Die dollar het in April sy swakste vlak sedert April 2018 bereik.
Wat die toekoms inhou vir goud, is onduidelik.
Daar is min konsensus onder Wall Street se groot kenners daaroor.
Goud sluit op $1 898
Goud het Donderdag 0,2% gestyg om op $1 898,36 per ons te sluit.
Dit is 6,8% hoër vir die maand en 25% hoër vir 2020 – die grootste styging vir ’n jaar sedert 2010.
Volgens BullionVault is dit die hoogste prys met jaareinde nog vir goud.
Die goudprys het volgens Investingnews.com in vanjaar op 7 Augustus sy hoogste vlak nog van $2 067,15 bereik. Dit word toegeskryf aan die ekonomiese onsekerheid wat die pandemie geskep het.
Die kontantprys van silwer het met 48% gestyg, terwyl palladium vir die vyfde agtereenvolgende jaar hoër gestyg het en met ongeveer 26% in 2020.
Platinum het vir die jaar met 11% geklim.
Morgan Stanley dink dat goud en ander edelmetale onder druk gaan kom namate finansiële markte normaliseer en die opbrengskoerse op langerdurende staatseffekte styg.
Intussen voorspel HSBC goud gaan styg weens die volgehoue onsekerheid.
Baie van die vertoning van goud in die komende jaar sal afhang daarvan of die voortdurende stimulus wat regerings verskaf, swaarder gaan weeg as die uiteindelike terugkeer na normaliteit.

'n Skermgreep van 'n grafiek van die goudprys van Goldprice.org oor die afgelope 20 jaar.
Jerome Powell, voorsitter van die Amerikaanse Federale Reserweraad, het aangedui dat die uitsonderlik maklike monetêre toestande wat dié sentrale bank tans skep, in 2021 sal voortduur.
Pogings om verdere fiskale stimulus deur die senaat goed te keur, het egter nog ’n gerealiseer nie.
“Die belangrikste dryfvere vir goud – die swakker Amerikaanse dollar en lae reële rentekoerse – sal waarskynlik aanhou ondersteuning bied, selfs al word entstowwe oor die wêreld heen versprei,” sê Vasu Menon, uitvoerende direkteur van beleggingstrategie by die Oversea-Chinese Banking Corp in Singapoer.
Met die Fed wat sy rentekoerse langer laag gaan hou, is dit “te vroeg om die handdoek in te gooi op goud”. – Bloomberg