Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Beleggings
Grond-vrese en jou geld: Wat jy nié moet doen nie
Theo Vorster, uitvoerende hoof van Galileo Capital.

Moenie nou op en af spring en onmiddellik al jou geld in die buiteland belê nie.

So waarsku die batebestuurder Theo Vorster, uitvoerende hoof van Galileo Capital, te midde van kommer oor grondonteiening sonder vergoeding.

“Buitelandse belegging is belangrik. Almal moet blootstelling hê daaraan – dis suiwer die beginsel van goeie diversifikasie.

“Dink egter baie mooi hoeveel van jou portefeulje jy oorsee wil hê en hoeveel jy reeds het. Moenie besluite neem net op grond van politieke nuus of neigings nie.”

Hy sê egter wel dis vir almal – ook vir beleggers – baie belangrik dat daar vinnig sekerheid kom oor die vraagstuk omdat dit die ekonomie en dus maatskappye se groei aan bande lê. Dit raak die opbrengs wat mense op hul beleggings kan verdien.

Theo Vorster se raad

My advies is om te besluit presies watter deel van jou portefeulje in die buiteland moet wees en om dan rasioneel op die proses te besluit van hoe en wanneer dié diversifikasie in werking gestel gaan word.

Verkieslik moet jy jou geld in fases in die buiteland belê, byvoorbeeld kwartaalliks oor ’n tydperk van 12 of 18 maande.

Begin onmiddellik met iets soos 25% van die beplande bedrag wat jy oorsee wil belê, om ’n voet in die deur te kry, en dan die saldo in pas met die plan met die mikpunt om ’n groot deel uit te neem wanneer die wisselkoers sterker as so R13,50 teenoor die dollar is.

Vorster, wat ook uitgebreide kennis van die landbou- en politieke situasie in die land het, sê mense moet baie mooi lees wat die ANC regtig oor grondonteiening sonder vergoeding sê. Dis nie ’n nuwe vraagstuk nie – die ANC was nog altyd van mening dat die Grondwet onteiening onder sekere omstandighede toelaat.

Vorster bly bemoedig daardeur dat pres. Cyril Ramaphosa aanhou beklemtoon dat die staat nie produktiewe landbougrond wil onteien en voedselsekerheid wil bedreig nie.

Onder die grond wat bes moontlik eerste onteien kan word, is verlate geboue in stede, grond langs informele nedersettings wat nie benut word nie en gemeenskaplike grond waarop mense al jare lank boer. “Niemand het ’n groot probleem met daardie situasies nie. Ek sou wel graag ’n paar toetssake wou sien sodat ’n mens kan bepaal waar die grense getrek gaan word.”

Vorster sê landbou-finansierders met wie hy praat, is eintlik op die oomblik optimisties oor landbou in die land, ondanks die grondvraagstuk.

Buitelandse diversifikasie is belangrik, sê Theo Vorster, maar dit moet rasioneel benader word. Foto: Pixabay

Verskeie batebestuurders het die afgelope week klem gelê op hoe belangrik buitelandse beleggings is.

Brenthurst Wealth sê hy beskou buitelandse diversifikasie as “integraal tot langtermyn-welvaartskepping”. “Beleggers wat buitelandse diversifikasie in hul portefeuljes ingesluit het, is vandag aansienlik beter daaraan toe as dié wat dit nie gedoen het nie. Dié strategie was baie suksesvol in die lig van die baie onsekerhede wat die plaaslike ekonomie moet trotseer.”

David Nathanson, spesialis van wêreldaandele by Bellwood Capital, sê die ANC se besluit om die Grondwet aan te pas, beklemtoon hoe belangrik dit is om ’n gediversifiseerde, wêreldwye beleggingsportefeulje te skep. Hy sê respek vir eiendomsreg is “een van die belangrikste bepalers van ’n land se sukses”.

“Dié nuutste aankondiging is nog iets op die groeiende lys bekommernisse van Suid-Afrikaanse beleggers, waarvan die belangrikste die land se verslegtende fiskale posisie en die finansiële toestand van sy staatsondernemings is.”

Nathanson sê wêreldwye diversifikasie is die beste manier om die risiko’s wat spesifieke lande inhou, te bestuur.

Gavin Smith, hoof van die finansiëledienstefirma deVere Acuma, sê hoewel Ramaphosa beklemtoon dat grondonteiening gebruik sal word om ekonomiese ontwikkeling en landbouproduksie te bevorder, sal dit beleggers se kommer verdiep oor die land se ekonomiese gesondheid.

“Soos ekonomiese geskiedenis ons leer, is mense wie se beleggings oor bateklasse, sektore en geografiese streke gediversifiseer is, die beste geplaas om risiko’s te versag en voordeel te trek uit geleenthede, wanneer hulle opduik.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 1036,35 (-1197)
  • Top 40 50987,15 (58996)
  • All Share 57164,25 (61745)
  • Resource 10 43731,91 (12908)
  • Financial and Industrial 30 76406,35 (116772)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.