Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Beleggings
Het jy geld in Absa se geldmark-fonds? Lees hier

Absa het besluit om sy geldmarkfonds, waarin meer as R80 miljard belê is, te sluit. Dit beteken egter nié beleggers gaan enige geld verloor nie.

Absa se geldmarkfonds sluit op 6 Julie. Foto: iStock

Die Absa Money Market Fund (AMMF) is die grootste geldmarkfonds in die land en een van die grootste effektetrusts in geheel. Meer as 90% van die beleggers in die fonds is gewone beleggers, volgens Absa. 

Die bank sê in ’n brief aan beleggers in die fonds (wat hier op sy webtuiste gepubliseer is) Absa Fondsbestuurders het onlangs die Absa Money Market Fund (AMMF) hersien.

’n Peiling het getoon die meeste van die gewone beleggers in die geldmarkfonds glo dat die kapitaal en opbrengste deur Absa gewaarborg word.

“Die AMMF is egter nie ’n bankrekening nie. Dit is ’n produk vir kollektiewe beleggingskemas (ook bekend as effektetrusts) en daarom is die kapitaal en opbrengste nie gewaarborg nie.”

Die fondsbestuurder het daarom besluit om die fonds op 6 Julie te sluit.

Beleggers het dus 90 dae vandat die brief gestuur is om te besluit wat om met hul geld te doen (sien hieronder vir meer inligting).

Sylvester Kgatla, hoof van Absa Fondsbestuurders Bpk., sê dit was ’n belangrike, maar beslis moeilike besluit wat geneem is.

Hy sê Absa beoordeel gereeld sy finansiële produkte om te bepaal of dit in ooreenstemming met die behoefte en verwagtinge van kliënte is.

Volgens hom is met die peiling gevind dat die meeste van sy gewone kliënte “hoofsaaklik ’n bankrekening benodig wat deur Absa gewaarborg word” en die meeste institusionele kliënte wil voortgesette toegang tot ’n geldmarkfonds (effektetrust) hê.

Hy sê die besluit is ’n “poging om effektief te reageer op die insig”.

Volgens hom is alternatiewe opsies oorweeg, maar dit is nie in die beste belang van kliënte beskou nie.

Hy sê Absa het proaktief met die Omsigtigheidsowerheid (PA) en die Gedragsowerheid vir Finansiële Dienste (FSCA) geskakel toe oorweeg is om die fonds te sluit. 

Nuwe geldmarkfonds geopen

Dit blyk ook uit die kommunikasie Absa Fondsbestuurders het ’n nuwe geldmarkfonds geopen.

Die nuwe geldmarkfonds, genaamd Absa Prudential Money Market Fund (APMMF), is van 1 April af beskikbaar.

Die APMMF gaan nie beskikbaar wees deur die Absa Bank-platforms soos die ou geldmarkfonds was nie.

“Dit sal ons in staat stel om die APMMF in ooreenstemming te bring met die res van ons effektetrustfondsaanbod,” sê Absa Fondsbestuurders.

“Dit sal aan die kliënte wat ’n effektetrust soek, die geleentheid bied om in die APMMF te belê, terwyl die kliënte wat gedink het dat hulle in ’n bankproduk belê het, die kans kry om in ’n bankproduk genaamd ’n Absa-beleggingsbankrekening hul geld te deponeer.”


Wat as jy nie ’n brief gekry het nie?

Alle kliënte is per e-pos verwittig van die AMMF wat sluit of ’n brief is aan hulle gepos. Indien jy nie ’n brief ontvang het nie, is jou e-posadres of posadres verkeerd.

“Vanweë die belangrike aard van die oorgang, is e-posse gestuur aan kliënte met e-posadresse, ongeag hul voorkeur-kommunikasiemetode.

“Kliënte met ’n posadres sal die brief in die pos kry.”

’n Afskrif van die brief waarin kliënte verwittig word van die fonds wat sluit, sal ook aanlyn beskikbaar wees of op Absa se app of by die banktakke, blyk uit ’n lys van vrae en antwoorde op die webtuiste.

Hoe gaan dit werk?

Die AMMF word ingevolge art. 102 van die Wet op die Beheer van Kollektiewe Beleggingskemas gesluit.

Die wetsartikel bepaal dat alle geld in ’n geldmarkfonds aan die onderskeie beleggers uitbetaal moet word indien dit gesluit word.

Daarom sal Absa as deel van die proses die geld in die AMMF aan elke individuele belegger uitbetaal voor of op die sluitingsdatum.

’n Kliënt het ook die keuse om in die 90 dae sedert die brief uitgestuur is (7 April) te besluit waarheen hul geld oorgedra moet word.

Absa sê gedurende die tyd kan ’n belegger:

  • Die geld direk onttrek na een van hul bankrekeninge;
  • Met ’n finansiële adviseur gesels om die geld na ’n ander finansiële produk by Absa te verskuif; of
  • Die geld skuif na ’n Absa-beleggingsbankrekening. Absa beveel aan dat die geld na ’n Absa Investment Tracker Account (AIT) geskuif word.

Volgens Absa sal die geld van kliënte wat geen keuse uitoefen nie na ’n AIT-rekening verskuif word wat rente verdien. Die AIT is ’n bankgewaarborgde produk (waar die kapitaal gewaarborg word) terwyl die geldmarkfonds nie is nie.

Volgens Absa is die rentekoers op dié bankrekeninge vergelykbaar met die historiese prestasie van die fonds. “Daarom sal ’n kliënt nie benadeel word deur na die rekening te skuif nie.”

Absa verduidelik ongelukkig nie self vir sy beleggers hoe die bankkoste gaan verskil nie. ’n Brosjure met pryse is hier beskikbaar vir beleggers om bankkoste te vergelyk.

Volgens vrae en antwoorde op die webtuiste is daar egter geen maandelikse administrasiegelde in die bankrekeninge nie. Normale transaksiegelde is van toepassing wanneer geld gedeponeer word in die rekening, soos met ander bankrekeninge.

Die skuif sal vir sommige mense belastingimplikasies hê. Mense word aangeraai om hul finansiële raadgewer of belastingpraktisyn te kontak om die somme te doen.

Meer oor:  Absa  |  Banke  |  Beleggings  |  Bankbedryf  |  Geldmarkfondse  |  Effektetrustfondse  |  Beleggers  |  Spaar  |  Geldmark  |  Geldmarkfonds
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.