Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Beleggings
Hof gevra om ‘geheime aanstellings’ by FSCA te stop

’n Dringende aansoek is in die hooggeregshof in Pretoria gebring om die “geheime proses” stop te sit waardeur die topposte by die waghond vir die finansiële sektor gevul word.

’n Dringende aansoek is in die hooggeregshof in Pretoria gebring om die “geheime proses” stop te sit waardeur die topposte by die waghond vir die finansiële sektor gevul word.

Die organisasies Open Secrets en die Unpaid Benefits Campaign (UBC) het die aansoek gebring om ’n “deursigtige proses” te verseker met die aanstelling van die kommissaris en vier adjunkkommissarisse van die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor (FSCA).

Die proses om dié topposte te vul, sloer reeds van die FSCA se ontstaan in April 2018. Die FSCA het die Raad op Finansiële Dienste (FSB) vervang.

Die hofaansoek is gebring teen Tito Mboweni, minister van finansies, die vyf lede van ’n paneel wat ’n kortlys van kandidate moet opstel en die FSCA.

Die organisasies word deur die Sentrum vir Toegepaste Regstudies (Cals) van die Universiteit van die Witwatersrand verteenwoordig.

Die minister staan die aansoek teen, maar het reeds die sperdatum vir die antwoordende eedsverklaring van 28 Oktober misgeloop.

Die saak sal na verwagting op 10 November aangehoor word.

Belangrike poste

Die Wet op die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor het op 1 April 2018 in werking getree en het die Wet op die Raad op Finansiële Dienste (FSB) 1990 herroep.

Dit beteken sedert die FSCA se ontstaan is daar nog nie iemand permanent aangestel om dit te bestuur nie, hoewel daar ’n tydelike bestuurskomitee is wat die oorgang moet bestuur.

Die minister moet ’n kommissaris, asook minstens twee, maar nie meer nie as vier, adjunkkommissarisse aanstel.

Die FSCA hou toesig oor die finansiële sektor, ’n sektor wie se gedrag ingrypende gevolge vir gewone mense inhou, verduidelik Open Secrets in die funderende eedsverklaring.

“Die FSCA is die eerste reguleerder in sy soort in Suid-Afrika, met die spesifieke mandaat om die markgedrag van spelers in die finansiële sektor te ondersoek en te verseker dat verbruikers regverdig behandel word.

“Daarom is die onafhanklikheid en deursigtigheid van die FSCA ’n baie belangrike beskermingsmaatreël vir sy vermoë om in die openbare belang op te tree.

“Gegewe die belangrikheid van die FSCA, is dit van kardinale belang dat die publiek genoegsaam verteenwoordig en betrokke is by die proses om sy kommissarisse aan te stel.”

Open Secrets en UBC vra ’n interdik om te keer dat ’n kortlys van kandidate saamgestel word, onderhoude met hulle gevoer word en aanbevelings aan die minister gedoen word tot tyd en wyl regulasies gewysig word wat sal toelaat dat die publiek en die media volle toegang tot die aanstellingsproses kry.

“Dit is belangrik dat die poste dringend gevul word, maar die aanstellingsproses moet regverdig en deursigtig wees en die publiek moet toegang tot die proses hê.

“Geheime, gejaagde aanstellings kan groot skade berokken, soos ons gesien het in sommige aanstellings wat gemaak is in gevalle waar staatskaping plaasgevind het.

“Dit sal ongelukkig wees as die nuwe amptenare in hul poste begin onder ’n wolk van geheimhouding, want dit gaan hul geloofwaardigheid ondermyn,” sê Michael Marchant, ’n navorser van Open Secrets, in die funderende eedsverklaring.

Dit is belangrik dat die poste dringend gevul word, maar die aanstellingsproses moet regverdig en deursigtig wees en die publiek moet toegang tot die proses hê.

Volgens hom sal openbare deelname aan die proses toelaat dat die publiek en ander belangepartye voorleggings aan die minister kan maak oor die geskiktheid van kandidate.

“Andersins sal dit beteken dat die kommissaris en adjunkkommissaris aangestel gaan word op ’n manier wat meer geheimsinnig is as byvoorbeeld die aanstelling van regters.”

Open Secrets het die aansoek beskryf as die laaste uitweg nadat hy 18 maande probeer het om antwoorde van die minister te kry oor die proses en hoekom daar so ’n “buitensporig lang vertraging” met die aanstellings is.

“Ons het met misnoeë kennis geneem daarvan dat die tesourie ’n nuwe kortlyspaneel hersaamgestel het ’n jaar nadat die aanstellings gedoen is en dat die aanstellingsproses voortgaan sonder behoorlike openbare konsultasie – dus effektief in die geheim.”

Proses sloer erg

Regulasies beheer die proses wat gevolg moet word met die aanstellings, insluitende die aanstelling van ’n kortlyspaneel, asook ’n ministeriële komitee wat die kortlys moet opstel en die onderhoude moet doen.

Die regulasies is onlangs gewysig en die tesourie het op 6 Augustus in ’n mediaverklaring meer inligting oor die wysigings uitgereik.

Luidens die verklaring het die wysigings (waarop geen kommentaar in die 30 dae kommentaartyd gekry is van 11 Junie af nie) die proses vereenvoudig om die kommissaris en adjunkkommissarisse aan te stel.

Marchant sê die wysigings maak ook daarvoor voorsiening dat die tyd wat die oorgangskomitee van die FSCA in plek is, verleng word.

Die wysigings het ook voorsiening gemaak daarvoor dat die minister ’n lid van die oorgangskomitee kan aanwys om die funksies van die kommissaris te verrig terwyl die werwingsproses onderweg is.

Adv. Dube Tshidi is aangewys om van 6 Augustus tot 5 November die rol van tydelike kommissaris te vervul.

“Die pos sal geroteer word onder die lede van die oorgangskomitee as ’n kommissaris nie binne 90 dae aangewys word nie.”

Uit die verklaring blyk dit die kortlyspaneel wat in 2018 saamgestel is, kon nie die proses voltooi om ’n minimum van vier kandidate voor te stel vir elk van die poste nie.

Die streng proses wat gevolg moes word ingevolge die oorspronklike regulasies is daarvoor geblameer.

Intussen het die kortlyspaneel ook van sy lede verloor omdat dit amptenare was wie se termyn by die Reserwebank en Nasionale Verbruikerskommissie verstryk het.

Die tesourie het op 25 September aangekondig die kortlysproses het begin nadat die vakante poste gevul is en die paneel hersaamgestel is.

Voordat dié verklaring uitgereik is, was die individue wat op die paneel sit, nie openbaar bekend nie, volgens Open Secrets.

In die verklaring is gesê die minister het die paneel opdrag gegee om die kortlys en aanbeveling binne 60 dae af te handel.

Die paneel het gesê hy is van voorneme om die onderhoude onmiddellik ná die indiening van die mediumtermynbegrotingsraamwerk te begin. Dis op 28 Oktober gedoen.

Die poste vir kommissaris en die adjunkkommissarisse is in 2018 geadverteer.

Die poste is weer in Maart vanjaar geadverteer, maar daar is besluit om dit weer in September vir twee weke te adverteer weens die lang tyd wat verloop het sedert dit geadverteer is weens die inperking. Die sperdatum vir kommissaris het op 2 Oktober gesluit en vir adjunkkommissarisse op 30 September.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.