Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Beleggings
Hof waarsku skerp oor dié spekulasie met geld

Konkelaars in die finansiëledienstesektor moet deeglik kennis neem van ’n onlangse hofuitspraak ten gunste van die Gedragsowerheid vir Finansiële Dienste (FSCA) om die reusewisselkoersspekulant JP Markets summier finaal te laat likwideer.

Rand coins and banknotes sit in a cash box in Joha
Maak seker jy vertroue jou geld toe aan valutahandelaars met die nodige lisensies. Foto: Getty Images

Daar kom nóg sulke drastiese optrede teen gelisensieerde entiteite wat die wet oortree en diegene wat sonder ’n lisensie in die bedryf woeker, sê Gerhard van Deventer, hoof van wetstoepassing.

JP Markets is een van ’n menigte “platforms” vir mense wat probeer geld maak deur as’t ware ’n weddenskap aan te gaan op die wisselkoersbewegings. Die FSCA is besig met ondersoeke na minstens tien van hulle, waarvan dié teen Praesidium Wealth en Mirror Trading International al ver gevorder is.

JP Markets het weliswaar aansoek gedoen om verlof tot appèl, maar die likwidateurs gaan aan met hul werk, buiten dat hulle geen uitbetalings kan doen tot tyd en wyl die appèlverrigtinge afgehandel is nie, sê Van Deventer.

Die likwidateurs het aan Rapport bevestig dat hulle ingevolge die Insolvensiewet in beheer van JP Markets bly totdat die appèl-kwessie afgehandel is.

Van Deventer sê wisselkoersspekulasie is besonder riskant. Dit is in wese ’n weddenskap wat in ’n kontrak tussen ’n “belegger” en ’n professionele teenparty vervat word oor wat die wisselkoers gaan doen. Of dit op of af gaan, daar is altyd een party wat wen en die ander verloor in dieselfde mate.

Om die risiko van groot verliese in dié wisselvallige mark te beperk neem die teenparty, wat dit as ’n saak bedryf, normaalweg verskansing uit.

Dit is as’t ware ’n soort versekering wat uitbetaal as hy verloor. Die professionele teenpartye wen of verloor dus nooit regtig nie. Sy verhandeling eindig neutraal en hy maak geld uit gelde op die transaksies.

Daar is allerlei variasies op dié tema in die mark en dit is geil teelaarde vir skelms, sê Van Deventer.

In die geval van JP Markets het die FSCA meer as 100 klagtes gekry van die maatskappy se kliënte. Dit het ingesluit dat die internetplatform waarop hulle handel dryf nie beskikbaar is nie en hulle geld verloor omdat hulle transaksies nie kan afhandel wanneer die mark gunstig is nie. Ander klagtes was dat kliënte gesukkel het om hul geld te onttrek en bewerings van manipulasie om uitbetalings aan kliënte te beperk.

JP Markets het volgens Van Deventer nie die nodige verskansing uitgeneem nie en kon dus nie bekostig dat sy kliënte wen en hy verloor nie. Die FSCA het bewyse aan die hof voorgelê dat JP Markets die syfers waarop uitbetalings gegrond is, gemanipuleer het om kliënte wat dikwels sukses behaal het, se winste te beperk. Hulle het na dié kliënte verwys as “toksies”.

Die FSCA en soortgelyke reguleerders wêreldwyd is baie bewus van die risiko wat dié soort platforms vir hul kliënte en finansiële stabiliteit in geheel inhou en daarom is wetgewing ook in Suid-Afrika ingestel om hulle te lisensieer. Só kan die reguleerders verseker dat die risiko beperk en bestuur word.

Die spertyd vir aansoeke om lisensies het in Junie verlede jaar verstryk, maar JP Markets het hom nie daaraan gesteur nie.

Justin Paulsen, JP Markets se enigste direkteur, het lank probeer voorhou dat die onderneming eintlik ’n tussenganger is, maar later erken dat dit inderdaad die “uitreiker” in die transaksies is. Dít was volgens die hof ’n poging om weg te kom sonder om ’n lisensie te verkry.

Volgens JP Markets se weergawe het hy 300 000 kliënte, waarvan 20 000 op enige gegewe tydstip besig is met verhandeling. Baie is in Suid-Afrika, maar ook in ander lande soos Brittanje, Botswana, Pakistan en Kuala Lumpur, hoofstad van Maleisië.

Die FSCA het reeds in Junie JP Markets se bedrywighede opgeskort, maar die organisasie het skuiwergate gesoek en aanhou sake doen met bestaande kliënte.

Sowat R258 miljoen in JP Markets se bankrekening is nou bevries en kliënte kan eise indien by die likwidateurs, Corné van den Heever en Tebogo Malatji. Hoe groot die werklike verliese is, sal eers duidelik word namate die likwidasie vorder, sê Van Deventer.

Hy sê die FSCA is nog lank nie klaar met JP Markets nie. Hulle gaan die ondersoek na die onderneming voltooi en doen stappe om Paulsen formeel uit die finansiëledienstesektor te skop.

Strafregtelike klagte gaan volg.

Finale likwidasie is ’n drastiese stap en die owerheid sal nie ligtelik daartoe oorgaan nie, sê Van Deventer.

Meer oor:  Valutahandel  |  Valuta  |  Markte  |  Banke  |  Dollar  |  Bankbedryf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.