Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Beleggings
Is dit entstof wat Aspen woema gee?

Is dit die entstof wat Aspen se aandeelprys so woema gee? Sy aandeelprys het met 38% van die begin van die jaar af gestyg en het Maandagoggend in die dag se verhandeling sy hoogste vlak in bykans drie jaar bereik, toon Iress se inligting.

Nadat die groep aangekondig het dat die eerste entstof wat hy vir Johnson & Johnson help vervaardig het Maandag sy fabriek in Port Elizabeth gaan verlaat, het sy aandeelprys tot R174,42 gestyg. Dit is die hoogste sedert begin Oktober 2018.

GGEBERHA, SOUTH AFRICA - MARCH 29: South African P
Pres. Cyril Ramaphosa, sy adjunk David Mabuza en dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid het die Aspen-aanleg in Gqeberha in die Oos-Kaap in Maart vanjaar besoek. Foto: Lulama Zenzile

Die aandeelprys het laer gesluit vir die dag, maar is nog rondom die beste vlak in drie jaar wat hy onlangs bereik het.

John Thompson, ontleder van Ninety One, sê daar is twee redes vir die bestendige herwaardering wat Aspen onlangs ondervind het, naamlik “laer risiko tesame met ’n beter vooruitsig vir groei”.

Aspen se groot skuldlas het beleggers senuagtig gemaak.

Groot skuldlas gehad

Hy moes in 2019 sy dividendbetalings opskort om sy skuld af te betaal. Met jaareinde in 2020 is ook nie ’n dividend weens die pandemie betaal nie.

Die maatskappy het vroeër vanjaar beloof ’n aankondiging oor sy dividend sal teen die jaareinde gemaak word.

LEES OOK: Entstof raak Aspen se boeke eers laat in boekjaar

Sy aandeelprys het in Maart 2019 met die aankondiging van sy resultate vir die halfjaar tot einde Desember 35% oor ’n skok oor sy wins geval. Die groep het ook laat blyk dat hy dringende planne het om sy skuldlas te verlaag.

Aspen het die vorige jare baie vinnig met verkrygings internasionaal gegroei.

Sy skuldlas het dié halfjaar op R53 miljard geëindig.

Volgens Thompson het die groep die risiko van sy balansstaat wesenlik verminder deur van sy bedrywighede te verkoop.

Goeie vordering is met die afbetaling van sy skuld gemaak en onlangs is 600 miljoen (omtrent 50%) herfinansier deur ’n lening op gunstige terme van die IFC, wat ’n afdeling van die Wêreldbank is, te kry, volgens Thompson.

FNB Sekuriteite sê Aspen was ’n paar jaar gelede onder baie druk.

Sy balansstaat was ongesond (met baie hoë skuldvlakke) en daar was min momentum in sy onderliggende bedrywighede.

“Die bestuurspan het met mening begin fokus daarop om die skuld af te betaal deur bates met lae groei te verkoop en nie onnodig verder skuld aan te gaan nie. Die balansstaat het al hoe beter begin lyk en is nou in ’n gesonde posisie.”

Fokus op vervaardiging

Volgens FNB Sekuriteite het die maatskappy ook sy fokus na sy vervaardigings-arm verskuif.

“Tot dusver werk dit redelik goed. Die vervaardiging van entstowwe is goed vir die maatskappy vanuit ’n kontantvloei- en inkomste-perspektief. Die gebruik van die addisionele kapasiteit in Gqeberha sal ook die wins uit vervaardiging steun.”

LEES OOK: Aspen tuimel verder, 35% laer ná skok oor wins

Volgens Thompson het Aspen amper R4 miljard se uitbreiding aan sy fabriek in Gqeberha (Port Elizabeth) aangebring om met die vervaardiging van entstowwe groei te bewerkstellig.

Op kort termyn word spesifiek Covid-19-entstowwe vervaardig maar op langer termyn kan vennootskappe soos met die oorsese farmaseutiese groep Moderna vir die ontwikkeling van entstowwe teen MIV, griep, hepatitis C, malaria, TB en ander gesluit word.

Hy meen vergeleke met Aspen se eweknieë in die farmaseutiese bedryf wat nie van die entstowwe vervaardig nie, sal die blootstelling in die 2022-boekjaar Aspen se wins ’n hupstoot gee.

Aspen se resultate vir die boekjaar tot einde Junie word begin September uitgereik.

Vergeleke met sy styging van 38% het die indeks van top 40 aandele sedert die begin van die jaar 'n opbrengs van amper 16% gelewer, volgens RisCura se inligting.

Sy aandeelprys het in Augustus 2019 tot onder R70 gedaal.

In 2015 was die aandeelprys op ’n hoogtepunt van bo R400.

Meer oor:  Fnb  |  Ninety One  |  Aspen  |  Medisyne  |  Covid-19  |  Entstof  |  Korona
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.