Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Beleggings
#JouVraag: Ek het geld, waar belê ek?

Het x bedrag, wil belê - gee raad! Dis ’n vraag wat MuntSlim op Netwerk24 nogal gereeld ontvang. Die antwoord is makliker en moeiliker as wat lesers dalk dink. Hier is ons beste raad.

  

Dit voel dalk asof jy voor ’n doolhof staan as jy geld begin belê, maar begin net! Foto: iStock

“Ek het ’n los R100 000 wat ek vir vyf jaar wil vasmaak, op die voordeligste manier. Met belasting ingesluit moet die opbrengs inflasie klop.”

“Ek het onlangs begin werk en het geen spaarplan of idee hoe om die geld wat ek wil wegsit, vir groei te belê nie. Ek is 24 jaar oud en beoog om maandeliks R2 500 weg te sit.”

“Hoe belê ek my R300 000 vir maksimum opbrengs?”

“Waarheen met ’n miljoen?”

MuntSlim op Netwerk24 kry byna daagliks ’n vraag van lesers wat óf ’n enkelbedrag wil belê óf maandeliks ’n bedrag te belê.

Dit is goeie nuus dat lesers geld opsy sit wat hulle wil belê; selfs beter nuus dat mense besef hulle moet inflasie klop. Die beste nuus is as die vraag kom van iemand wat jonk is, maar reeds besef hoe belangrik beleggings is.

Dinge raak problematies met die pleidooi wat ons gereeld hoor dat die geld maksimum opbrengs met minimum risiko moet lewer. Dié twee dinge is dikwels teenstrydig.

Beleggings is nie al nie

Benewens waar jy jou geld belê, is daar ander aspekte van jou finansiële beplanning wat op koers moet wees. Dit sluit onder meer in:

  • Begroting (maandeliks en jaarliks)
  • Korttermynversekering (jou huisinhoud, huis, motor, meubels, elektronika)
  • Lewensdekking
  • Ongeskiktheidsdekking en/of dekking vir gevreesde siektes
  • Mediese versekering (mediese fonds en moontlik gapingsdekking)
  • Testament

Op vrae soos “In watter effektetrustfonds moet ek nou belê?” of “By watter bank kan ek die beste rente verdien?” gaan ons swyg. Nóg MuntSlim se finansiële joernaliste, nóg die finansiële adviseurs wat ons van raad bedien, kan ’n spesifieke produk aanbeveel sonder volledige insae in mense se persoonlike geldsake.

Boonop mág ons dit nie doen nie – ingevolge die Wet op Finansiële Advies- en Tussengangerdienste (die Fais-wet) moet ’n volledige risiko-ontleding onder meer gedoen word voordat iemand wat die nodige wetlike magtiging het, spesifieke produkte mag aanbeveel.

Daar is egter algemene beginsels wat altyd waar bly.

Theo Vorster, uitvoerende hoof van Galileo Capital, het ’n eenvoudige driestapplan vir mense wat wonder waar hulle hul geld moet belê.

Dis belangrik om te onthou dat jy die drie stappe gelyktydig in werking moet stel.

Hier is die driepuntplan.

  

Driepuntplan vir jou beleggings

  

1. Raak ontslae van swak skuld

“Maak daardie winkelkaart toe, betaal die kredietkaart af,” sê Vorster.

Kontak ons só
Het jy ’n vraag oor jou geldsake? Stuur dit gerus aan muntslim@netwerk24.com en ons sal kundiges vra om dit vir jou te beantwoord. Sluit asseblief so veel moontlik inligting in.

Swak skuld is skuld met ’n hoë rentekoers wat jy gebruik om ’n leefstyl te handhaaf en nié die skuld wat vir jou ’n bate (soos ’n huis, ’n motor) of die vermoë om jou inkomste te verhoog (’n graad of ander kwalifikasie) oplewer nie.

Lees ook: Dink voor jy skuld maak

Nerina Visser, onafhanklike strateeg oor beursverhandelbare fondse (ETF’s), beveel aan mense moet steeds belê terwyl hulle hul skuld afbetaal. Dit is om seker te maak hulle trek wel voordeel uit saamgestelde rente en doen ook ervaring met beleggings op.

As hulle baie skuld het, beveel Visser aan mense bestee 80% van die geld wat hulle kan losmaak om skuld te delg en 20% om te belê. Soos wat jy die skuld afbetaal, kan jy die verhouding aanpas totdat jy uiteindelik, skuldvry, 100% van daardie geld kan belê.

Dis belangrik dat jy dan nie wéér swak skuld maak nie; dis waar stap twee belangrik is.

  

2. Bou ’n noodfonds op

’n Noodfonds moet bestaan uit drie maande se salaris indien jy voor aftrede is en ses maande se salaris indien jy reeds afgetree is, meen Vorster.

Die noodfonds moet wees in ’n belegging waartoe jy dadelik toegang het wanneer die nood druk. Groei is nie jou eerste oorweging met ’n noodfonds nie, likiditeit is. Dus, moenie jou noodgeld in ’n 32-dae-kennisrekening sit nie, maar ’n effektetrustfonds, geldmarkrekening of rentedraende bankrekening kan werk. (Die meeste effektetrustfondse betaal jou geld binne ’n dag of twee uit.)

  

3. Bou aan jou beleggings

Dié proses kan ook vereenvoudig word tot drie stappe: aftreeprodukte, belastingvrye beleggings en diskresionêre beleggings.

  • Eerstens, belê so veel as moontlik in jou aftreeprodukte – pensioen- of voorsorgfonds en uittreeannuïteite (UA’s).
Belastingvriendelike beleggings - soos aftreeprodukte en belastingvrye beleggings - gee jou spaargeld woema. Foto: iStock

Sit soveel as wat jy mag in jou pensioenfonds, as jy een het, omdat die koste op pensioenfondse gewoonlik laer is (wat jou opbrengs op lang termyn ondersteun); vul dit dan aan met beleggingstipe UA’s.

Aftreeprodukte is die belastingvriendelikste manier om op lang termyn te spaar aangesien geen rente, dividende of kapitaalwins belas word nie. Jy kan tot 27,5% van jou inkomste só wegsit.

Aftreeprodukte is onderhewig aan regulasie 28 van die Pensioenfondswet, wat beteken jy mag tot 75% in aandele, tot 25% in eiendom en tot 25% oorsee belê.

  • Tweedens, gebruik jou jaarlikse en lewenslange limiet op belastingvrye beleggings. Weer eens is dit ’n belastingvriendelike manier om te spaar omdat geen rente, dividende of kapitaalwins belas word nie.

Vir die belastingjaar van 1 Maart 2017 tot 28 Februarie 2018 mag jy R33 000 belastingvry spaar. Jou lewenslange limiet is R500 000.

Onthou dat geld wat jy onttrek, nie weer aangevul kan word nie. Daarom moet dié soort belegging ook as ’n langtermynbelegging beskou word.

Johann Grandia van K2 Capital sê: “Die rol wat ek glo ’n belastingvrye produk in die toekoms gaan speel, is om beleggers se inkomste tydens aftrede aan te vul.”

Daar is ’n verskeidenheid belastingvrye produkte beskikbaar en jy kan in ’n verskeidenheid belê (van ’n bankrekening tot ’n effektetrustfonds), met geen perk op hoeveel jy in aandele mag belê nie. Jy mag wel nie meer as 10% in een aandeel of hulpbron belê nie, en 80% van jou aandele moet genoteerde aandele wees.

  • Derdens, enige bykomende geld kan jy in beleggings van jou eie keuse sit (diskresionêre beleggings), waar daar geen perk is op waarin jy mag belê nie. Dis hier waar jy dalk meer risiko sal wil neem op soek na meer opbrengs of waar jy ’n regstreekse belegging in aandele, eiendom of selfs iets soos verskansingsfondse kan oorweeg.

Daar is nagenoeg 1 200 effektetrustfondse in Suid-Afrika wat almal ’n ander mandaat of samestelling van bateklasse het. Dis hier waar lesers hul navorsing moet doen in oorleg met ’n onafhanklike finansiële adviseur. Gesels met jou adviseur oor die beleggingsfilosofie en prestasiegeskiedenis van verskillende batebestuurders.

Dit is ’n goeie plan om, as jy genoeg geld het, in ’n paar fondse te belê, mits hulle natuurlik nie presies dieselfde soort fonds is nie, sodat jy diversifikasie bereik. (Dit help dus nie om in twee “gebalanseerde fondse” te belê nie; die kans is goed dat hulle basies in dieselfde aandele belê en dieselfde persentasie van elke bateklas het.)

Kyk na die langtermynprestasie van elke fonds voordat jy belê, en moet jou nie te veel steur aan watter fonds verlede jaar die beste gevaar het of die pryse gewen het nie. Jy moet minstens na vyf jaar se prestasie kyk om te sien of die fonds sy eie doelwit kan bereik.

  

Vrae wat jy moet vra

  

Hester van der Merwe, ’n gesertifiseerde finansiële beplanner van Ultima Financial Planners & Wealth Management, sê mense moet hulself die volgende vrae afvra voordat hulle belê:

  

1. Wat is jou doelwit met die belegging?

Moet die geld jou inkomste aanvul, wil jy die kapitaal vir eers net laat groei vir ’n latere doelwit of het jy ’n kombinasie van die twee nodig?

           

2. Wat is jou beleggingstermyn?

Spaar jy vir ’n vakansie oor ’n jaar, vir ’n deposito op jou eerste huis oor vyf jaar of spaar jy vir aftrede? As jy reeds afgetree is, het jy steeds ’n beleggingstermyn.

“Lewensverwagting sluit baie nou hierby aan,” sê Van der Merwe. “Mense leef langer en dit plaas meer druk op hul kapitaal.”

  

3. Wat is jou risikoprofiel?

Risiko benodig is ’n berekening wat gedoen word om te bepaal watter groeikoers jy nodig het om jou doelwit oor die bepaalde termyn te bereik.
Hester van der Merwe van Ultima

Dit sal bepaal wat jou aptyt is vir skommelinge in jou beleggings en dis hiér waar die meeste mense natuurlik so min as moontlik risiko wil loop vir die maksimum opbrengs.

Van der Merwe sê egter “dit is belangrik om te onthou dat dit nie die bepalende faktor by die samestelling van jou portefeulje kan wees nie”.

Sy verduidelik: “Twee ander belangrike aspekte wat ook met jou bespreek moet word, is risikokapasiteit en risiko benodig. Baie vereenvoudig kan ons risikokapasiteit verduidelik deur te sê dit word gemeet deur te kyk of jou portefeulje enige ‘vet vir die maer jare’ ingebou het en of daar skaars genoeg is om in jou behoeftes te voorsien.

“Risiko benodig is ’n berekening wat gedoen word om te bepaal watter groeikoers jy nodig het om jou doelwit oor die bepaalde termyn te bereik.”

        

4. Wat kos dit?

Tesame met die belastingaspek, raak al hoe meer mense bewus van die koste – administrasie-, advies- en ander gelde – van hul beleggings, juis omdat dit op lang termyn ’n enorme impak op hul opbrengs het.

Laekostebeleggings, waaronder beursverhandelbare produkte (ETP’s), het die afgelope jare baie gewild geword. Dit is beleggings wat ’n indeks volgens ’n vasgestelde formule volg en dus as “passiewe” beleggings beskryf word omdat die formule eerder as ’n mens bepaal waarin belê word.

Indeksfondse kan al die aandele op ’n beurs “volg”; net ’n sekere afdeling (die 40 grootste maatskappye of middelslagmaatskappye); of ’n bepaalde marksegment (hulpbronne of finansiële dienste). Dit kan ook oorsese aandele of effekte volg, en daar is beursverhandelbare fondse wat as UA’s of belastingvrye beleggings saamgestel is.

Daar is nagenoeg 80 beursverhandelbare produkte in Suid-Afrika (van hulle is vir oorsese aandele).

Vrae oor koste het aktiewe batebestuursfirmas ook die afgelope ruk genoop om hul koste te verlaag.

Lees ook: Koste op beleggings: Als wat jy moet weet

Wessel Oosthuizen, gesertifiseerde finansiële beplanner van Verso Wealth, het onlangs aan Netwerk24 gesê hulle beveel vir hul kliënte aan dat hulle nagenoeg die helfte van hul beleggings in passiewe beleggings sit en die helfte in aktiewe beleggings. Só kan hulle albei se voordele benut.

   

7 foute met beleggings 

        

Baie van dié foute sal jy nie begaan as jy met ’n goeie finansiële plan begin nie. Dan weet jy wat jy doen, waarom jy dit doen en hoe lank jy moet vasbyt as dinge nie klopdisselboom gaan met jou beleggings nie.

1. Jy is te versigtig

Dit is heerlik om jou geld in ’n bankrekening te sien groei, maar as jy ’n laer rentekoers verdien as die inflasiekoers, word jy eintlik armer.

      

2. Jy is te waagmoedig

As jy beloftes hoor van 150%-opbrengs per jaar, of in die huidige lae-opbrengsomgewing van selfs 20%, moet alarms in jou kop afgaan. Beloftes wat te goed klink om waar te wees, is deel van piramideskemas of baie riskante beleggings soos binêre opsies en ander vorme van dobbel. Vir elke mens wat al daaruit ryk geword het, het derduisende al hul geld verloor. Hou inflasie in gedagte; inflasie plus 7 persentasiepunte word as hoë-opbrengs-effektetrustfondse beskou (met inflasie soos tans sal dit sowat 13% beteken).

  

3. Jy diversifiseer nie

As jou beleggings bestaan uit een eiendom wat jy verhuur, aandele in een maatskappy of kontant in die bank (dus een bateklas), is jy op dun ys. Verskillende bateklasse en individuele aandele of verskillende markte reageer anders in verskillende omgewings. Die voordeel van diversifikasie is dat al jou bates nie gelyktydig sal daal nie en jy ’n meer gelykmatige opbrengs op lang termyn help verseker.

    

4. Jy koop en verkoop heeltyd

As jy voortdurend jou geld rondskuif, probeer jy waarskynlik om die tydsberekening reg te kry om in ’n spesifieke bateklas of aandeel te belê – ’n strategie wat selfs die mees gekwalifiseerde batebestuurders baie selde regkry – of jy steur jou te veel aan die korttermynprestasie van een effektetrustfonds bo ’n ander. As groot bedrae ter sprake is, gaan jy belasting betaal dat dit hop. Jy loop ook die risiko dat jy groei prysgee.

    

5. Jy belê by slange of in slanggif

Enige produk of persoon wat nié by die Raad op Finansiële Dienste (Financial Services Board) geakkrediteer is nie, moet jou laat omdraai. Daarby kan jy gerus ook nagaan of jou adviseur by een van die groot beroepsliggame, soos die Finansiële Beplanningsinstituut (FPI) of die Fidusiêre Instituut van SA (Fisa), geakkrediteer is voordat jy advies aanvaar. 

          

6. Jy leen jou ore uit

As jou vriende of familielede jou vertel hoe ryk hulle uit ’n spesifieke belegging word, wens hulle geluk – en verander die gesprek. En as hulle daardie belegging aan jou wil smous, hardloop weg. Vriende en familie is dikwels die laaste mense wie se beleggingsadvies jy moet volg omdat dit verhoudinge kan versuur en boonop omdat dit juis is waar skelms eerste begin om hul slenters te oefen. As die vriend of familielid in die finansiële bedryf is, kry steeds ’n tweede, onafhanklike mening voordat jy die raad volg. Gratis raad kan jou duur te staan kom.

   

7. Jy het nie ’n plan nie

Baie van bogenoemde foute sal jy nie begaan as jy met ’n goeie finansiële plan begin nie. Dan weet jy wat jy doen, waarom jy dit doen en hoe lank jy moet vasbyt as dinge nie klopdisselboom gaan met jou beleggings nie.

Nog ’n fout is om nie jou plan by te werk indien jou omstandighede verander nie, soos as jy trou, kinders kry, skei, ’n naasbestaande aan die dood afstaan, geld erf, ’n groot loopbaanskuif maak of aftree nie.

Meer oor:  Belasting  |  Beleggings  |  #Jouvraag  |  Aandele
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 1048,32 (-878)
  • Top 40 50397,19 (12519)
  • All Share 56546,8 (10123)
  • Resource 10 43602,83 (-2210)
  • Financial and Industrial 30 75238,63 (30649)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.