’n Leser vra:
Dit blyk dat daar konsensus onder kenners is dat die huidige afname in aandeelpryse deel is van ’n patroon wat oor die jare herhaal word en dat beleggers maar moet vasbyt en wag vir die goeie tye.
Daar is egter beleggings wat ’n heel ander probleem het, naamlik Brexit. Aandele soos Brait en Intu is goeie voorbeelde van hoe drasties die afnames was.
Aangesien dit blykbaar nog jare sal duur om Brexit af te handel en dit onduidelik is wat daarna in die Britse beleggingswêreld gaan gebeur, sal ek graag wil hoor wat die kenners se siening hieroor is.
Nie advies
Onthou dat die antwoord nie finansiële advies verteenwoordig nie – jy word steeds aanbeveel om finansiële advies in te win om ’n omvattende finansiële plan daar te stel gegrond op jou risikoprofiel, beleggingshorison en persoonlike omstandighede en doelwitte.
Francois du Plessis van Vega Asset Management antwoord:
Aandele is ’n wisselvallige bateklas waarvoor die belegger ’n langtermynbeleggingsdoelwit benodig. Dit verg geduld om die hoër gepaardgaande historiese opbrengs te realiseer wat aandele kan bied.
Batebestuurders streef daarna om beleggers se kapitaal te beskerm en om die koopkrag daarvan te bewaar. Dit word onder meer bewerkstellig deur geografiese en sektordiversifikasie, asook die insluiting van verskillende bateklasse in ’n portefeulje.
Geografiese diversifikasie is veral belangrik vir Suid-Afrikaanse beleggers wat gekonsentreerde politieke risiko loop.
Die onverwagse Brexit-besluit was die hoofrede waarom die Britse pond sedert Brexit met 17% teenoor die dollar en 25% teenoor die rand verswak het.
Dit was veral bank- en eiendomsmaatskappye wat die Brexit-spit afgebyt het.
Die swakker pond en strammer ekonomiese toestande het die winsverwagtinge van maatskappye soos Investec plc, Old Mutual plc, Brait plc, Capco plc en Intu plc hard getref.
Voortslepende onsekerheid oor die afhandeling van die Brexit-onderhandelinge demp steeds beleggersentiment. Daar word verwag dat die Britse premier, Theresa May, haar voor die einde van Maart vanjaar op art. 50 van die verdrag van Lissabon sal beroep.
Geen formele onderhandelinge tussen Brittanje en die res van die Europese Unie is moontlik sonder dat dié artikel in werking getree het nie. Daar is begroot vir ’n periode van twee jaar om onderhandelinge af te handel. Waarskynlik sal dit aansienlik langer duur om die ingewikkelde handelsooreenkomste af te handel.
Ten spyte van die negatiewe reaksie en kommentaar het die Britse ekonomie sedert Brexit beter as verwag gevaar.
Die ekonomie het in die derde kwartaal met 0,6% gegroei (dubbel so sterk as die verwagte 0,3%-groei). Kleinhandelverkope het in November met 5,9% op ’n jaargrondslag toegeneem.
Desnieteenstaande verhandel maatskappye soos Hammerson, Intu, Capco en Brait (met belange in NewLook en Virgin Active) tans teen ’n afslag tot netto batewaarde.
Voor Brexit was beleggers bereid om ’n premie vir hierdie bates te betaal. Hoewel huidige aandelewaardasies aantreklik lyk uit ’n geskiedkundige oogpunt, kan hernieude onsekerheid verdere druk op hul aandeelpryse plaas.
* Francois du Plessis is besturende direkteur van Vega Asset Management.