Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Beleggings
#JouVraag: Hoekom lyk my opbrengs so oes?

Het jy ’n vraag oor jou geldsake? Stuur dit gerus aan muntslim@netwerk24.com en ons sal kundiges vra om dit vir jou te beantwoord. Sluit asseblief so veel moontlik inligting in.

   

Advies- en platformgelde kan jou opbrengs aansienlik verminder. Foto: iStock

’n Leser vra:

Die opbrengs wat ek volgens my state op my beleggings verdien, verskil hemelsbreed van die opbrengs wat die effektetrustfondse se inligtingstaat aangedui word. Op sommige fondse verdien ek selfs 6% minder as wat die fonds sê hy verdien het. Hoe verklaar ’n mens dit?

   

Wessel Oosthuizen van Verso Wealth antwoord:

Veral twee aspekte kan die verskil in jou persoonlike opbrengs vs. dié op die fondsstaat (of die algemene opbrengs) verklaar: koste en groei oor verskillende termyne.

Koste in die fonds kan opsommenderwys ingedeel word in:

  • Fondsbestuursgeld of meer akkuraat gestel die totale kostekoers (in Engels die total expense ratio of TER);
  • Administrasiegeld vir die platformdienste waarop beleggings gehuisves word (dis nie in alle gevalle van toepassing nie, veral nie as die belegging regstreeks by die maatskappy gedoen is nie); en
  • Die aanvanklike en/of aaneenlopende adviesgeld wat jou finansiële adviseur of makelaar verdien.

Dit is belangrik om te noem dat die TER-koste reeds in berekening gebring word op die fondsstaat. Dit kan dus nie die verskil van 6% verduidelik nie. (Onthou dat TER nou vir nuwe beleggings vervang word met effektiewe jaarlikse koste (Engels: effective annual cost, EAC), maar dat dit nog nie op alle beleggings só aangedui word nie; dit word mettertyd ingefaseer. EAC word as akkurater beskou omdat dit ook platformgelde sal insluit.)

Die ander twee kostes, indien van toepassing, kan beslis ’n verskil maak. Dit kan tussen 0% en 4,5% méér koste toevoeg en dus die beleggingsopbrengs negatief raak. Die leser sal moet gaan kyk op die dokumente wat hy ingevul het toe die belegging gedoen is; die adviesgeld móét daarop aangedui word.

Die adviesgeld sal ook verskil na gelang van of ’n aanvanklike bedrag van die belegging afgetrek is en of dit ’n aaneenlopende bedrag is wat afgetrek word. Of die belegging gedoen is deur ’n enkelbedrag of deur middel van maandelikse premies kan ook ’n rol speel, ook wat betref hoeveel die aanvanklike adviesgeld was.

Bogenoemde koste verklaar steeds nie die volle 6% swakker opbrengs as op die fondsstaat nie.

Hiervoor reken ek moet ’n mens kyk na die beleggingstermyne waaroor die fonds belê is. Dit wil sê die beleggingstermyne gegee op die fondsstaat in vergelyking met die tyd wat die leser werklik belê is in die spesifieke fonds. Alles hang af van die twee foto’s (figuurlik gesproke) wat ons vergelyk en wanneer dit geneem is.

Neem ons een van die meer bekende gebalanseerde fondse sien ons byvoorbeeld dat vanaf ontstaan het die fonds 17,73% per jaar opbrengs gegenereer. Kyk ons egter na die tien- en vyfjaarinligting lyk dit aansienlik anders en is dit onderskeidelik 10,52% en 13,03%. Dus, sou die leser sê nou maar vir slegs een jaar belê wees, dan sal sy opbrengs in die fonds nader wees aan 5,5% vir die jaar, wat ’n verskil is van ongeveer tussen 5 en 7,5 persentasiepunte per jaar vergeleke met die langer termyne. By hierdie verskil is dan nog nie eens moontlike platformkoste bygetel nie.

Selfs indien die leser net die eenjaaropbrengs van die fonds vergelyk met die eenjaaropbrengs wat hy verdien het, is dit tersaaklik op watter datum die fonds sy “foto” begin neem (sê maar 1 Januarie) teenoor die verjaringsdatum van die belegger self, dus die dag waarop hy belê het, (sê maar 1 Maart).

’n Goeie adviseur sal presies kan vasstel waar die verskil lê.

  • Wessel Oosthuizen is die besturende direkteur van Verso Wealth en ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en fidusiêre praktisyn.
  • Onthou dat die antwoord nie finansiële advies verteenwoordig nie – jy word steeds aanbeveel om finansiële advies in te win om ’n omvattende finansiële plan daar te stel gegrond op jou risikoprofiel, beleggingshorison en persoonlike omstandighede en doelwitte.
Meer oor:  Koste  |  Beleggings  |  Effektetrustfondse  |  #Jouvraag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 1036,35 (-1197)
  • Top 40 50987,15 (58996)
  • All Share 57164,25 (61745)
  • Resource 10 43731,91 (12908)
  • Financial and Industrial 30 76406,35 (116772)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.