Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Beleggings
JSE lewer sterk opbrengs in 1ste kwartaal

Plaaslike aandele het ná beter as verwagte resultate van maatskappye in die eerste kwartaal van die jaar weer ’n sterk opbrengs gelewer.

Die rekordlae rentekoers is een rede dat meer mense aandele koop – wat aandeelpryse help styg.

Peter Little, fondsbestuurder van Anchor Capital, sê ’n hele klomp resultate in Maart wat beter as verwag was, het die aandeelpryse deurgaans laat styg.

Die aangepaste indeks van alle aandele wat die grootte van dubbele genoteerde aandele beperk (sien verduideliking hiernaas), het in die eerste kwartaal ’n opbrengs (styging in die indeks plus dividende) van 12,6% gelewer.

Dit is die tweede kwartaal agtereenvolgens dat dubbelsyfergroei getoon is nadat die indeks in die vierde kwartaal verlede jaar ’n opbrengs van 11,5% gelewer het.

In Maart het die indeks ’n opbrengs van 3,7% gelewer.

Talle uitblinkers

Volgens hom was MTN een van die maatskappye wat die beste vertoon het.

MTN se aandeelprys het in Maart met 19,5% gestyg nadat hy sy planne vir die ontsluiting van waarde aan aandeelhouers bekend gemaak het. Dit sluit in die plan om moontlik sy afdelings vir vesel en finansiële tegnologie van die groep te skei.

Shoprite was nog ’n ster in Maart (met ’n styging van 18%) nadat sy bedrywighede in Afrika ’n wins getoon en indrukwekkend kontant in die groep geskep het.

Die stram aanbod van palladium het dié metaal se prys weer laat styg tot die hoogtepunte wat voor die pandemie bereik is. Palladium het 13% maand tot maand gestyg. Dit het gehelp om platinummynmaatskappye hoër te druk (11% vir die maand).

Maatskappye met ’n klein- tot mediumgrootte-markwaarde op die JSE het ook ’n sterk maand gehad. Volgens Little is beleggers gelok na kleiner maatskappye wat die afgelope jare oor die algemeen min aandag van beleggers gekry het.

Stoftrappers

Little sê van die min aandele wat in Maart swak vertoon het, was dié van versekeraars. Hul resultate het ’n versigtige ingesteldheid getoon oor nuus van die bykomende voorsiening wat gemaak moes word vir eise wat met Covid-19 verband hou.

Gediversifiseerde mynmaatskappye het ook swak vertoon weens hulpbronpryse wat die afgelope maand gedaal het (byvoorbeeld het ystererts met 6,2% gedaal).

Meer oor die FTSE/JSE Capped Swix

Die grootte van dubbel-genoteerde aandele soos BHP, Richemont en Anglo American word beperk.

Dié drie maak ongeveer 30% van die JSE se indeks van alle aandele (Alsi) uit, maar ’n groot deel van die verhandeling van die aandele vind op ander beurse as die JSE plaas.

Terselfdertyd word die grootte van individuele aandele tot 10% beperk. Dit is hoofsaaklik Naspers wat 18% van die Alsi uitmaak.

Dit skep ’n indeks wat nie die helfte van sy gewig in vier aandele soos met die Alsi het nie.


So het die JSE se Alsi gevaar

Die indeks van alle aandele van die JSE het met 1,6% in Maart en met 13,2% vir die kwartaal gestyg.

Dit kom nadat die Alsi in die vorige kwartaal met 9,8% gestyg het.

Die indeks het einde Maart op 66 585 geëindig.

Riscura se inligting toon in Maart het die top-40-indeks met 14,5% gestyg, die hulpbronindeks met 19% en die nywerheidsindeks met 15%.

Die indeks vir mediumgrootte markwaardemaatskappye het met 9,9% en kleinmarkwaardemaatskappye met 22% gestyg.

Meer oor:  Jse  |  Beleggings  |  Aandele  |  Beleggingsprestasie  |  Aandelebeurs  |  Top 40-Indeks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.