Die JSE se indeks van alle aandele het op die eerste dag van verhandeling in 2021 met 1,8% gestyg tot 60 479 punte.

Goud het op die eerste dag van 2021 voortgestoom. Foto: Bloomberg
Volgens Trading Economics is dit die JSE sterkste vlak sedert 17 Desember te midde van verwagtinge van ’n vinniger herstel van die koronaviruspandemie as aanvanklik verwag vir 2021. Dit is danksy inenting teen die virus wat oorsee begin het en verdere ekonomiese stimulus in sekere groot ekonomieë.
Die indeks van Top-40-aandele het Maandag 1,9% hoër geëindig.
Die grootste stygings op die beurs onder die groot genoteerde maatskappye was van goudmaatskappye nadat die goudprys met 2,5% tot $1 941.94 gestyg het.
Gold Fields het met 8,9% en Anglogold Ashanti met 7,5% gestyg.
Ander mynmaatskappye het ook stewig gestyg, soos Exxaro Resources met 7,2%, Impala Platinum met 7%, Kumba met 6,4%, Anglo American met 4,7% en Northam Platinum met 3,9%.
Kleinhandelaars en banke het nie ’n goeie eerste dag van verhandeling gehad nie. Shoprite het met 6% gedaal; FirstRand met 3%, Growthpoint met 3%, Mr Price met 2% en Standard Bank met 2%. Die meeste ander banke en kleinhandelaars het ook laer geëindig.
Die rand het feitlik nie beweeg vir die dag nie en het teen 19:00 op R14,70 teenoor die dollar verhandel, 1c swakker as die vorige sluiting van R14,69.