Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Beleggings
Jy as belegger: Ingelig of verward?

Om ’n vyfjarige agter die stuurwiel van ’n 1960-Mercedes te plaas, is nie ’n goeie idee nie.

Om dieselfde vyfjarige agter die stuurwiel van ’n nuwe AMG C-klas Mercedes te plaas, is steeds nie ’n goeie idee nie.

Cassie Carstens

Bloot beter tegnologie lei nie outomaties tot beter besluite nie.

Kliënte word daagliks gebombardeer met ’n oordosis stimuli wat konstant tot hul beskikking is. In ons gesprekke met kliënte blyk dit duidelik dat baie van die vrae wat hulle het, spruit uit iets wat hulle in die media gelees of gehoor het.

Die media se doel is uiteraard om inligting te versprei, maar die hedendaagse kliënt het al voor sy eerste koffie op sy slimfoon geblaai deur Netwerk24, Fin24, Twitter, Facebook en vier WhatsApp-groepe wat skakels aanstuur oor “Suid-Afrika word soos Zimbabwe” – en dan het die kliënt nog nie eens die televisie of radio aangeskakel nie.

Een so ’n voorbeeld is toe ek in Desember verlede jaar deur Malmesbury ry op pad huis toe. Daardie aand flikker ’n banier op my foon wat lui: “Mense in Malmesbury verhandel bitcoin daagliks, klik net op die skakel vir meer inligting.”

Ek het gesidder om te dink hoeveel mense daarop gaan reageer. Vandag weet ons die prys van bitcoin het sedert Desember verlede jaar met sowat 70% geval.

Daar is al verskeie studies gedoen oor die onderwerp en dit is keer op keer bewys dat nuusvloei beleggingsbesluite beïnvloed. Die probleem is nie die media nie, maar dat Jan Alleman nie die vermoë het om ­rasioneel te reageer op die hope daaglikse inligting waarmee hy gebombardeer word nie.

Beleggingsbesluite word deur die nuusvloei beïnvloed omdat dit emosies in mense wakker maak. Foto: iStock

Dit is ook geen nuwe verskynsel nie. Ons kon verskeie studies uit die 1960’s vind wat reeds die verhouding tussen die nuusvloei en beleggingsbesluite beskryf het. Die verskil egter is hoe geredelik beskikbaar inligting tans is.

Plaaslik kan ons bloot kyk na die vloei na of uit fondse gegrond op hul korttermynopbrengs. Swak of goeie opbrengs word maandeliks gepubliseer en geniet wye mediadekking.

As steekproef het ons die Allan Gray Stabiele Fonds geneem. Neem in ag dat dit ’n fonds met lae blootstelling aan aandele is, waar jy sou verwag dat gedragsprobleme minimaal behoort te wees.

Die grafika “Tropdiergedrag” hierbo wys drie dinge:

  • Op enige gegewe punt wys dit die groei oor die vorige 12 maande (blou lyn).
  • Op enige gegewe punt wys dit die groei oor die daaropvolgende 12 maande (groen lyn).
  • Op enige gegewe punt wys dit die invloei na die fonds (oranje lyn na bo) of uitvloei uit die fonds (oranje lyn na onder).

Dit is kommerwekkend hoe die tropdier-neiging uit die vloei blyk.

’n Tydperk van swak groei word tipies gevolg deur uitvloei uit die fonds (byvoorbeeld einde 2010, 2011 en 2014) en ná ’n tydperk van goeie groei volg daar weer invloei na die fonds (byvoorbeeld einde 2011, 2013 en 2015).

Om te reageer op korttermynsyfers en die gepaardgaande nuusvloei hieroor, is soos ’n hond wat sy eie stert jaag.

Om te reageer op korttermynsyfers en die gepaardgaande nuusvloei hieroor, is soos ’n hond wat sy eie stert jaag.

Die grafiek wys ook duidelik hoe kliënte op korttermynwisselvalligheid reageer.

As jy in die oggend wakker word met hoofopskrifte soos “ineenstorting, resessie, afgradering en krisis” en net daarna inteken op jou aanlyn beleggingsprofiel wat wys jou beleggings-aarde is laer, reageer die meeste mense eenvoudig nie rasioneel nie. Oktober was geen uitsondering nie toe die JSE in ’n stadium amper 10% laer was.

Ons het onlangs data ontvang waar ’n tipiese gematigde fonds (met sowat 65% aandeleblootstelling) gesimuleer is om te kyk hoeveel keer oor die voorafgaande 40 jaar daar negatiewe tyd­perke oor enige aaneenlopende twee maande en aaneenlopende kwartale was.

Oor ’n aaneenlopende twee-maande-tydperk was daar 32 gevalle oor die 40 jaar waar ’n tipiese gematigde fonds meer as 5% verloor het.

Oor aaneenlopende kwartale was daar slegs 14 tydperke waartydens die fonds meer as 5% verloor het.

Wisselvalligheid is dus deel van ’n normale beleggingsrit en soms is dit net nodig om terug te staan en valuasies tyd te gee om te normaliseer.

Selfs een maand se wag kan ’n enorme verskil maak in jou persepsie en beleggingservaring.

Die idee van verbeterde tegnologie en toegang tot inligting is om ons in ’n posisie te plaas om beter besluite te neem. Hoekom wys die navorsing dan grotendeels die teenoorgestelde wat betref beleggingsbesluite?

Dieselfde emosie wat deur ons are geloop het in 1960, loop in 2018 steeds deur ons are.

Die eenvoudige antwoord is dat ons menslik is en dieselfde emosie wat deur ons are geloop het in 1960, loop in 2018 steeds deur ons are.

Ontwikkel ’n raamwerk vir besluitneming waarin jy jouself nie toelaat om emosioneel te reageer nie en poog sover moontlik om onafhanklik te dink.

Dit is ’n gegewe dat jou beleggings daagliks sal skommel, dikwels gegrond op korttermyn­mark­emosie, maar hou altyd in gedagte dat dit jou doelwit is om inflasie oor lang termyn (en nie op ’n daaglikse grondslag nie) te klop.

Die uiteindelike sukses van jou beleggingsproses gaan afhang van hoe jy reageer, of meer dikwels nié reageer nie, in tye wanneer tropdiere in dieselfde rigting begin hardloop.

  • Cassie Carstens is ’n gesertifiseerde finansiële beplanner van ProVérte Wealth & Risk Management. E-pos info@proverte.co.za.
Meer oor:  Andró Griessel  |  Oos-Kaap Naweek  |  Beleggings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.