Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Beleggings
Jy kan geld maak uit woef se medisyne

Covid-19 het ’n hupstoot gegee aan die medisynebedryf vir troeteldiere deurdat mense oor die wêreld heen meer troeteldiere aangeskaf het.

Die bedryf sal na verwagting binne vyf jaar meer as R25 miljard werd wees, sê Andrew Dittberner, hoofbeleggingsbeampte by Old Mutual Wealth Private Client Securities.

Die mark vir dieremedisyne sal in die volgende vyf jaar met minstens 31% groei soos wat troeteldiereienaars toeneem. Foto: iSTOCK

Die vermensliking van troeteldiere soos wat mense meer tyd tuis deurbring, bring mee dat die troeteldier­bedryf uitstekende beleggingsgeleenthede bied. Een van die pluspunte is dat die troeteldiermedisynebedryf merendeels bestand is teen resessies en markskommelings.

Die verwagting is dat die dieremedisynebedryf in die volgende paar jaar met minstens 31% sal groei soos meer mense troeteldiere gedurende voortgesette inperkings aanskaf.

In die VSA het 11,3 miljoen Amerikaners gedurende die inperking ’n nuwe troeteldier gekry en die helfte van Britse huishoudings wat reeds een troeteldier gehad het, het minstens een nuwe dier bygekry.

Ook in Suid-Afrika het die aanskaf van nuwe troeteldiere skerp toegeneem gedurende Covid-19.

Melissa Marengo, ’n veearts en eienaar van die Bryanston Avian, Exotic & Small Animal-kliniek, sê sy was nog nooit so bedrywig met konsultasies soos die afgelope jaar nie. Sy sê die meeste mense wat nuwe troeteldiere aangeskaf het, het hulle aangeneem.

“Baie mense steun die ‘adopt don’t shop’-beginsel,” sê sy.

Sy en haar personeel werk baie oortyd en selfs naweke om voorsiening te maak vir al die nuwe “pasiënte”.

“Hoewel die agentskappe waar diere aangeneem word die diere steriliseer en inent, verkies baie van ons kliënte om hul diere te kom ‘voorstel’ en hul diere te laat weeg, ontwurm en dan ook sommer middels te koop teen bosluise en vlooie.”

Haar praktyk het ook ’n toename gesien in mense wat hul troeteldiere bring vir algemene ondersoeke. “Mense is baie meer bewus van hul troeteldiere se skete en kwale noudat hulle by die huis is en meer bewus is van die dier se doen en late.”

Sy het ook ’n toename gesien in die verkope van sjampoe (honde veral word nou baie meer gereeld gebad!), peuselgoed vir troeteldiere en natuurlike medisyne om vir toestande soos angstigheid te help.

Mense is baie meer bewus van hul troeteldiere se skete en kwale noudat hulle by die huis is en meer bewus is van die dier se doen en late.
Melissa Marengo, veearts

Zoetis, ’n voormalige filiaal van Pfizer, is een van die bekendste maatskappye wat onder meer troeteldier-medisyne vervaardig.

“Te midde van Covid-19 en die finansiële moeilikheid waarin mense beland het, het die maatskappy steeds met 7% gegroei. En selfs toe die finansiële krisis op sy felste was in 2008 het dit ook met 7% gegroei,” sê Dittberner.

Ander spelers in die gesondheidsmark vir troeteldiere is Elanco, Merck Animal Health en Boehringer Ingelheim. Saam is die vier maatskappye verantwoordelik vir meer as 50% van alle verkope van dieremedisyne.

Dittberner sê dieremedisynevervaardigers word nie deur dieselfde patentregte-ooreenkomste gebind soos tradisionele farmaseutiese maatskappye nie.

“Dieremedisynevervaardigers se patente verstryk nie en hulle kry nie mededinging van maatskappye wat generiese middels die mark inbring nadat die patent verstryk het nie.”

Zoetis het byvoorbeeld 30 middels wat meer as $100 miljoen in inkomste jaarliks genereer. Dit sal besonder moeilik wees vir ’n nuwe toetreder tot daardie mark om met hulle mee te ding. Dit dra by tot die maatskappy se winsgewendheid.

Elanco, Merck en Zoetis is genoteer op die New Yorkse aandelebeurs in die VSA. Boehringer Ingelheim is ’n private maatskappy in Europa.

Meer oor:  Tuiskantoor  |  Werk Van Huis Af  |  Troeteldiere  |  Beleggings  |  Covid-19  |  Aandele
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.