’n Memorandum sal vroeg volgende jaar by die kabinet ingedien word oor vordering om die Mpati-kommissie se aanbevelings oor wanbestuur by die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) in werking te stel.

Regter Lex Mpati wat die kommissie van ondersoek na gebeure by die Openbare Beleggingskorporasie gelei het.
Elvira Wood
Só het Tito Mboweni, minister van finansies, Woensdagaand gesê in ’n aanlyn vergadering van die parlement se staande komitee oor finansies.
Mboweni het verduidelik die OBK se direksie sal een stroom van die proses lei en die nasionale tesourie lei die ander stroom.
Die OBK bestuur die aftreegeld van staatsamptenare namens die staatspensioenfonds (GEPF).
Dr. Rheuel Khoza, voorsitter van die OBK, het beklemtoon die OBK het reeds voor die aanvang van die Mpati-kommissie se werk sy eie interne ondersoeke na wanbestuur en probleme met twyfelagtige beleggingsbesluite begin.
Abel Sithole, uitvoerende hoof van die OBK, het verduidelik ’n adviespaneel is aangestel om die OBK te help met die inwerkingstelling van die Mpati-aanbevelings.
Verskillende komitees is gevorm om spesifieke aanbevelings te help toepas.
Volgens Sithole word gevorder met regstappe wat betref die OBK se omstrede beleggings in Ayo Technologies en SA Home Loans.
Mboweni het verduidelik SA Home Loans was veronderstel om staatsamptenare te help om lenings te kry vir die koop van eiendom. Maar om ’n vreemde rede het ’n OBK-beampte vir Standard Bank, wat deel was van die projek, genader om ’n swartbemagtigingsvennoot in te bring. Die OBK-beampte het toe glo ’n vinderstarief van R45 miljoen van Standard Bank geëis omdat hy ’n swart vennoot gevind het. Sithole het beklemtoon die bedrag is nooit betaal nie en die saak is sub judice.

Abel Sithole, uitvoerende hoof van die Openbare Beleggingskorporasie.
Stappe word gedoen teen individue by die OBK wat betrokke was by VBS Mutual Bank se bedrogskandaal, het Sithole bevestig.
Regstappe is in verskillende stadia teen Sekunjalo en Steinhoff. Die OBK is in gevorderde gesprekke oor ’n private skikking met Steinhoff en die ouditeursfirma Deloitte, het Sithole gesê. Die OBK het aansoek gedoen om toegang te kry tot die PwC-verslag oor Steinhoff, wat Steinhoff weier om openbaar te maak omdat dit voorberei is met die oog op regstappe, so Steinhoff glo hy het ’n wetlike privilegie op die verslag.
Alf Lees, DA-lid van die komitee, het gevra waarom die OBK nie soos versoek gereeld verslag doen oor sy ongenoteerde beleggings nie. Die laaste keer dat die OBK die lys van ongenoteerde beleggings openbaar gemaak het, was in 2018.