Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Beleggings
Kies 'n Aandeel: Wag sukses in week ses?

Dit is week ses van Netwerk24 Sake se pretpoging om die beste amateur-aandelemakelaars onder ons lesers die kans te gee om hul slag te wys.

Kies ’n aandeel
Kies ’n aandeel is Netwerk24 Sake se nuwe pretspeletjie saam met lesers wat in beleggings belang stel.

Elke week kies lesers een uit vyf aandele wat Netwerk24 Sake voorstel en “belê” dan R100 000 daarin om te kyk wie die volgende Vrydag teen sluitingstyd op die JSE die beste gevaar het.

Die afgelope vyf weke het lesers dikwels bewys dat hulle te midde van die onstuimigheid van net ’n week op die JSE weet wat hulle doen – maar ook nie altyd nie!

In week vier en vyf het die mark die meeste van ons lesers ore aangesit. Natuurlik besef ons ’n week is kort beleggingstyd waarin markte soms oorreageer.

Hou Netwerk24 Sake dus dop vir die nuus wat ’n aandeel op kort termyn kan roer en wat waarskynlik die bepalende faktor in jou week se spel sal wees.

Saterdag sal ons wys hoe lesers gekies het en die persentasieverandering in elke aandeelprys in ’n grafika uitbeeld.

Daar is geen pryse op die spel nie, behalwe die reg om te spog en die feit dat dit jou waarskynlik meer oor beleggings sal laat nadink.

Lewer gerus kommentaar op ons keuse en later op die resultate wanneer ons dit Saterdag publiseer.

Vandeesweek het lesers ’n keuse uit die volgende aandele:

  • Comair: Die maatskappy wat plaaslik British Airways en sy eie laekostelugdiens, Kulula, bedryf, het einde Maart aangekondig hy gaan sy bedrywighede uitbrei ondanks druk op plaaslike verbruikers. Die uitbreiding behels ’n vennootskap met Amerikaanse lugdiens Delta, wat tans die enigste Amerikaanse lugdiens is wat uit Suid-Afrika na die VSA vlieg. Passasiers sal nou regstreeks op aansluitingsvlugte van Kulula kan klim by enige van die groot plaaslike lughawens en hul bagasie sal outomaties op die relevante Delta-vlug by O.R. Tambo geplaas word vir geriefliker en geïntegreerde ervaring om van Suid-Afrika se kleiner stede tot in die VSA te kom. Is Kulula se optimistiese vooruitsigte ’n aanduiding van ’n uitsonderlik gesonde sakemodel, of neem hy nie die risiko’s in ag wat reeds baie van sy mededingers knak nie?
  • Netcare: Die privatehospitaalgroep het einde Maart aangekondig hy moes weens beurtkrag diesel ten bedrae van R4,8 miljoen vir sy kragopwekkers aankoop en dat dit ’n beduidende impak op sy kontantvloei het. In die ses maande tot einde Maart was dié koste 200% meer as wat hy die vorige jaar bestee het aan sy kragopwekkers. Eskom en die ministerie van openbare ondernemings se aankondiging op 3 April dat beurtkrag grootliks onder beheer sal wees dié winter, met slegs fase een-beurtkrag indien dit absoluut nodig is, kan vir Netcare verligting bring. Hy sê egter selfs met net fase een- of fase twee-beurtkrag sal sy dieselrekening vir die volle jaar steeds op sowat R10,3 miljoen te staan kom. Sal dit beleggers se aptyt vir dié maatskappy temper, of wys dit op goeie bestuur en dus ’n groter geleentheid vir opbrengs?
  • AB InBev: Groot veranderinge is aan die gang by die wêreld se grootste drankmaatskappy. In Maart het AB InBev die voormalige uitvoerende hoof van tabakmaatskappy Altria as sy voorsitter aangestel, terwyl die direksie self ook veranderings in die gesig staar nadat aandeelpryse oorsee geval het. Dié nuwe aanstellings word wel eers op 24 April op sy aandeelhouervergadering bespreek voordat dit van krag word.
  • Fortress: Die genoteerde eiendomsbeleggingstrust wat veral in kantooreiendom belê, bevind hom saam met verskeie ander maatskappye in die eiendomsektor steeds onder ’n wolk. Resilient, ’n eienaar van veral winkelsentrums in Suid-Afrika en stigter van Fortress, is aan die middelpunt van die probleme wat die sektor se aandeelpryse in 2018 laat tuimel het. Fortress besit ook heelwat aandele in Resilient en die twee maatskappye besit eiendom saam. Fortress word steeds vir markmanipulasie ondersoek, hoewel die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor (FSCA) aangekondig het die afsonderlike ondersoek oor binnehandel by hom is laat vaar. Sedert einde Maart het Fortress se aandeelprys aansienlik gestyg, maar is dit net tydelik of is die ergste van sy probleme dalk nou agter die rug?
  • TFG: Die eienaar van winkels soos Markham, Foschini, @home en SportScene brei steeds in die buiteland uit met die aanskaffiing van nog kleinhandelkettinggroepe in onder meer Brittanje. Maar plaaslik probeer The Foschini Group steeds die pap ekonomie hanteer. Voor beurtkrag en die skerp styging in die brandstofpryse het kleinhandelverkope effentjies kop opgetel. Kan dit volgehou word, of gaan die pyn voortduur?
Meer oor:  Kies ’N Aandeel  |  Beleggings  |  Aandeelpryse
Stem
Resultate
Kies 'n Aandeel: Wag sukses in week ses?
  • 31%
    Comair
  • 14%
    Netcare
  • 39%
    AB InBev
  • 6%
    Fortress
  • 11%
    TFG
  • MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

    • INDEKS
    • GELDEENHEDE
    • KOMMODITEITE
    Data word met 15 min. vertraag
    • Gold Mining 2417,42 (6258)
    • Top 40 48865,06 (-69430)
    • All Share 54876,82 (-74598)
    • Resource 10 43434,32 (-38670)
    • Financial and Industrial 30 73805,91 (-119542)

    Sakegesprek

    Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.