Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Beleggings
Kommer oor Praesidium-kliënte se oorsese geld

Die ondernemings Praesidium Advisory en Praesidium Wealth het ’n afdwingbare onderneming onderteken om ’n bestuurder aan te stel wat die geld van kliënte wat in die buiteland belê is, terug te kry.

FSCA
Die FSCA se ondersoek na Praesidium duur voort en wetstoepassingstappe sal oorweeg word wanneer die ondersoek afgehandel is. Die FSCA het gesê hy werk ook saam met wetstoepassingsagentskappe wat die kwessie ondersoek.

Die afdwingbare onderneming is ingevolge art. 151 (1) van die Wet op die Beheer van die Finansiële Sektor van 2017 tussen die Gedragsowerheid van die Finansiële Sektor (FSCA) en Praesidium, asook sy huidige en voormalige direkteure, onderteken.

Dit kom nadat die FSCA op 27 Mei aangekondig het hy skort Praesidium Advisory Services se finansiëledienstelisensie voorlopig op. Dit is gedoen nadat inligting ontvang is dat Praesidium moontlik sy lisensie misbruik deur ’n niegoedgekeurde buitelandse kollektiewe beleggingskema te bedryf en geld van die publiek daarvoor in te vorder.

Die fondse waarin die publiek se geld belê is, was die Praesidium Global Fund en die Praesidium Mauritius Managed Fund.

Ingevolge die afdwingbare verbintenis stem die partye in om al die geld van Praesidium se kliënte wat oorsee gehou word te repatrieer na ’n Suid-Afrikaanse bankrekening.

Die partye het ook ooreengekom dat ’n bestuurder ingevolge die Wet op Finansiële Instellings (Beskerming van Fondse) aangestel sal word om die geld aan die kliënte te versprei.

Die FSCA wys kliënte van die welvaartbestuurder daarop dat die ooreenkoms nie beteken dat hulle hul volle beleggings sal terugkry nie.

“Om die waarheid te sê, op grond van die ondersoek tot dusver is daar ’n sterk aanduiding dat die meeste kliënte se geld waarskynlik nie verhaal sal word nie.”

Die ondersoek is begin ná klagtes van die publiek, onder meer dat Praesidium Advisory opbrengste van so hoog soos 40% per jaar beloof.

Die ondertekenaars van die afdwingbare onderneming is Praesidium soos verteenwoordig deur die huidige direkteure Andrew Norman Cunningham-Moorat en Brett Roderick Bukes en die voormalige direkteur van Praesidium Advisory Craig Massyn, in sy persoonlike hoedanigheid en in sy hoedanigheid as direkteur van Imagina FX, ’n private maatskappy, en Trius Capital Beperk, wat in die Britse Maagde-eilande opgerig is. Cunningham-Moorat en Bukes het ook die onderneming in hul persoonlike hoedanigheid onderteken.

Luidens die afdwingbare onderneming is kliënte van Praesidum se geld by Imagina FX en Trius Capital belê.

Imagina FX en Trius Capital het oorsese handelsrekeninge gekope in hul naam en kliënte se geld – of van die geld – in buitelandsevaluta-platforms belê.

’n Lys van rekeningnommers wat aan Praesidium se kliënte by Primus International en Hermes Markets verbind is, is aangeheg aan die ooreenkoms.

Die FSCA se ondersoek na Praesidium duur voort en wetstoepassingstappe sal oorweeg word wanneer die ondersoek afgehandel is.

Die FSCA het gesê hy werk ook saam met wetstoepassingsagentskappe wat die kwessie ondersoek.

Die FSCA het die publiek daarop gewys dat die entiteit wat ondersoek word, nie verbind is nie aan Praesidium Capital Management, wat ook gelisensieer is as ’n finansiëlediensteverskaffer.

Die bankrekening moet binne sewe dae geopen word vandat die ooreenkoms onderteken is.

Meer oor:  Fsca  |  Ondersoek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.