Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Beleggings
Kontant is beste bateklas in Mei

Mei was ’n droewige maand vir spekulante, met drie uit die vier groot bateklasse wat ’n negatiewe opbrengs behaal het.

Net kontant het in Mei ’n positiewe maandopbrengs, van 0,59%, opgelewer, maar medium- tot langtermynbeleggers moet versigtig wees om gevolgtrekkings daaruit te maak.

Net kontant het ’n positiewe maandopbrengs, van 0,59%, opgelewer, wat dié bateklas die toppresteerder vir plaaslike korttermynbeleggers gemaak het.

Dis die eerste keer sedert Junie 2017 dat kontant die kroon dra en nogal ’n verrassing gegewe die daling in die rentekoers in Maart, wat die opbrengs op rentedraende beleggings effens laat daal het.

Die opbrengs word gemeet aan die STeFi, ’n geldmarkindeks.

Genoteerde eiendom het van die beste bateklas in April tot die vrotste in Mei geval, met ’n maandopbrengs van -5,92%. Dis soos gemeet aan die Suid-Afrikaanse eiendomsindeks (Sapy).

Volgens Mvula Seroto, ontleder van die eiendomsfonds Catalyst, is die sektor steeds afgerem deur die daling in die aandeelprys van Resilient (-6,96%) en firmas waarin hy belange het, soos Fortress B (-14,94%) en Nepi Rockcastle (-9,88%).

Hyprop het ook geval (-9,21%), deels omdat die beoogde notering van sy sustermaatskappy Hystead uitgestel is.

Wat aandele betref, is Mei dikwels ’n baie wisselvallige maand en vanjaar is dit vererger deur die politieke onsekerheid in Italië en Spanje. Beleggers het in die algemeen wegbeweeg van aandele en veral die aandele van ontluikende lande, volgens Wei Li van BlackRock. Wêreldbeleggers het groter sekerheid in vermeende toevlugsoorde, soos Amerikaanse effekte en goud, gaan soek.

Op mediumtermyn gemeet

Oor 12 maande gemeet – ’n beter aanduiding van opbrengs vir medium- tot langtermynbeleggers – het Suid-Afrikaanse effekte koning gekraai met ’n opbrengs van 10,44%. Dis soos gemeet aan die indeks van alle effekte.

Effekte was ook in Maart en April die bateklas met die beste jaaropbrengs. In Januarie en Februarie het aandele die beste gevaar.

Die verskil tussen die opbrengs op aandele (8%) en kontant (7,39%) was skraal, maar dit beteken darem drie uit die vier groot bateklasse het ’n opbrengs opgelewer wat inflasie geklop het.

Hoewel die inflasiekoers vir Mei nog nie uitgereik is nie, sal dit na verwagting in die omgewing van 4,6% tot 4,8% wees (dit was in April 4,5%%).

Aandele weerspieël die JSE se indeks van alle aandele.

Genoteerde eiendom het ’n jaaropbrengs van -6,45% opgelewer. Dit is die vierde opeenvolgende maand dat genoteerde eiendom – op lang termyn die beste bateklas in die land – vasbrand.

Die sektor gaan na verwagting onder druk bly. SBG Securities reken dat die Edcon-groep (wat Edgars, Jet en CNA insluit) winkels gaan toemaak en sy totale ruimte met tot 500 000 m² gaan verminder, oftewel met ’n derde.

Landwyd staan 4,2% van winkelsentrums leeg, ver bo die langtermyngemiddelde van 2,7%.

Só lyk April se opbrengskoerse op Suid-Afrikaanse bateklasse:

Maandopbrengs

  • Kontant 0,59%
  • Effekte -1,95%
  • Aandele -3,47%
  • Genoteerde eiendom -5,92%

Jaaropbrengs

  • Effekte 10,44%
  • Aandele 8%
  • Kontant 7,39%
  • Genoteerde eiendom -6,45%
Meer oor:  Kontant  |  Jse  |  Genoteerde Eiendom  |  Bateklasse  |  Effekte  |  Aandele
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.