Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Beleggings
Kry buitelandse blootstelling só
Maria Smit, finansiële adviseur by Brenthurst Wealth Pretoria.

Moenie dink buitelandse blootstelling in ’n beleggingsportefeulje is net diegene beskore wat ’n halfmiljoen of meer het wat rondlê nie.

Maria Smit, finansiële adviseur by Brenthurst Wealth Pretoria, sê teen so min as R1 000 per maand is dit moontlik om geld landuit te neem.

Hetsy jy op aftrede staan, diskresionêre geld tot jou beskikking het of net begin werk, daar is verskeie maniere om buitelandse blootstelling in jou portefeulje in te sluit – ongeag die grootte of hoe lank jy die portefeulje al het.

Individue wie se belastingsake in orde is, kan R10 miljoen per persoon per jaar as regstreekse buitelandse belegging landuit neem met die toestemming van die Suid-Afrikaanse Reserwebank (SARB). Dan is nog R1 miljoen toelaatbaar vir reis en ander doeleindes wat so gebruik kan word (en waarvoor ’n belastingklaringsertifikaat nie vereis word nie).

Egpare kan saam R2 miljoen per kalenderjaar uitneem.

Volgens Smit word die geld gewoonlik van ’n Suid-Afrikaanse bankrekening na ’n bank in die buiteland geskuif, van waar dit vir beleggings van jou keuse gebruik kan word.

Regstreekse buitelandse belegging is geskik vir beleggers wat ’n diskresionêre R400 000 of meer beskikbaar het, ’n langtermynbeleggingshorison van sewe tot tien jaar het en/of beplan om in die volgende vyf jaar te emigreer.

Onregstreekse buitelandse beleggingsopsies is geskik vir jong beleggers wat met ’n maandelikse debietorder kan begin, afgetredenes wat ’n lewende annuïteit het en ’n mate van buitelandse blootstelling in hul lewende of aftree-annuïteit wil hê en/of individue wat ’n enkelbedrag van minder as R400 000 het om te belê.

Onregstreekse buitelandse belegging in wêreldwye bates sonder dat die geld Suid-Afrika verlaat, soos deur byvoorbeeld bateruiltransaksies is beleggings wat tipies in rand gedoen word. Dit beteken die impak van die wisselkoers is reeds in ag geneem in die eenheidsprys van die fonds-/portefeuljewaarde.

Buitelandse ekwiteitsfondse of portefeuljes uitgedruk in rand is plaaslike effektetrusts wat tipies in ’n fonds van fondse belê wat bestuur word en gesetel is in ’n ander land, soos voerfondse.

Smit sê sulke beleggings is administratief gesproke taamlik maklik vir beleggers en adviseurs en ’n maandelikse debietorder is al wat nodig is om daarin te belê. Die nadeel van die opsies is dat beleggers se geld steeds in rand onttrek word. Omdat die geld nie landuit gaan nie, is dit dus steeds blootgestel aan plaaslike likiditeitsrisiko.

“Beleggers is ook beperk tot ’n paar randverskansingsfondse wat in Suid-Afrika beskikbaar is.”

Buitelandse blootstelling is ook diegene beskore wat nou ’n beleggingsportefeulje wil begin bou.

Sekere plaaslike effektetrusts en beursverhandelde fondse (ex­change-traded funds oftewel ETF’s) met spesifieke mandate bied ’n verskeidenheid opsies vir jou eerste smakie van die buitelandse beleggingspoel.

As jy R1 000 of meer per maand vir ’n belegging het, oorweeg iets soos ’n ETF van ’n platform soos Satrix, wat ook onlangs ’n produk bekend gestel het wat op China fokus.

Of oorweeg ’n opsie van een van Brenthurst Wealth se beleggingsassosiate soos Sygnia, wat verskeie opsies bied en blootstelling gee aan buitelandse bates in verskeie vorms en maniere, verduidelik Smit.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.