Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Beleggings
Laer rente – wat nou vir beleggers?

Die jongste rentekoersverlaging is nie goeie nuus vir spaarders nie.

spaarmaand
Op enige gegewe tydstip spaar jy dalk vir verskeie dinge - ’n vakansie, ’n nuwe motor, jou kinders se skoolgeld en ’n noodfonds. Jy het dalk meer as een spaarvarkie nodig! Foto: Pixabay

Mense met vaste deposito’s sal nie onmiddellik ’n verskil aan hul opbrengs sien nie, maar iemand wat van nou af ’n nuwe vastedepositobelegging wil doen, sal sien die koerse wat aangebied word, is minder, waarsku Nicholas Riemer, hoof van beleggingsopvoeding by FNB Wealth and Investments.

Die Reserwebank het rentekoerse sedert die begin van die jaar al met 2,75 persentasiepunte verlaag. In Januarie is die repokoers met ’n kwart van 'n persentasiepunt van 6,5% na 6,25% verlaag, in Maart met een persentasiepunt, in April met nog ’n persentasiepunt en die afgelope week met ’n halwe persentasiepunt tot 3,75%. In 2008 was die repokoers nog op 12%.

Graham Tucker, portefeuljebestuurder van Old Mutual se gebalanseerde fonds, sê kontant sal na verwagting oor die volgende vyf jaar ’n reële opbrengs van net 1% lewer, teenoor die vorige projeksie van 2%.

Hierteenoor kan plaaslike aandele en eiendom oor die volgende vyf jaar reële opbrengste van onderskeidelik 7% en 10% lewer, en dit boonop ondanks die negatiewe impak van Covid-19 op die ekonomie, meen Tucker.

Graham Tucker, portefeuljebestuurder van Old Mutual se gebalanseerde fonds.

Dit gaan jou tot 86 jaar vat om jou belegging se waarde te verdubbel as dit net in kontant bly, maar net tien jaar as jy dit in aandele belê, wys die jongste navorsing wat Tucker oor langtermyn-beleggingsopbrengste gedoen het.

Benewens die impak op kontant het die skerp laer rentekoers ook die volgende impak, verduidelik Riemer:

Effekte

Effekte raak aantrekliker vir beleggers as algemene rentekoerse daal, want die vaste rente van die effek is dan beter. Soos wat beleggers na effekte stroom om voordeel te trek uit die beter koerse, styg die prys van die effekte en bevoordeel dit die bestaande beleggings in die effekte.

Voorkeuraandele

Mense wat voorkeuraandele besit, hou ook nie van ’n laer rentekoers nie. Die dividende van voorkeuraandele is meestal aan die prima uitleenkoers gekoppel en laer koerse beteken dus kleiner dividende, wat ’n laer dividendopbrengs en laer prys van die voorkeuraandeel beteken.

Eiendomsaandele

Eiendomsmaatskappye verwelkom wel die nuus oor laer rente, want dié sektor steun swaar op skuld om bates te bekom. Die laer rentekoerse beteken eiendomsmaatskappye se finansieringskoste daal, wat hul netto wins verbeter, en die markwaarde van die eiendomme op hul balansstaat verbeter omdat die afslagkoers laer is.

Aandele

Die laer rente is positief vir sekere Suid-Afrikaanse aandele. Die laer rente beteken finansieringskoste is laer, die markwaarde van bates neem toe en verbruikers het effe meer geld om te bestee wat hulle andersins aan rentebelatings sou moes afstaan.

Maar Riemer beklemtoon die impak op aandele sal nie so dramaties as met vorige rentekoersverlagings wees nie weens die swak ekonomie en werkverliese.

Kleinhandelaandele en dié van enige maatskappye wat met verbruikers te doen het, sal wel baat, want verbruikers kan geld teen laer koste leen en hulle het meer geld in hul sak om aan verbruiksartikels te bestee.

Maatskappye met hoë skuldvlakke sal veral onmiddellik verligting kry danksy laer rentebetalings. Die ekstra kontantvloei bied hulle ’n geleentheid om hul skuldvlakke te verlaag.

Gontse Tsatsi, hoof van kleinhandelverspreiding by die Old Mutual Investment Group, sê beleggers wil dalk te midde van die onsekerheid rondom Covid-19 hul beleggings in kontant omskep, maar op lang termyn sal dit negatief wees vir hul doelwitte.

Laer rentekoerse is gevaarlik vir spaarders, want hulle loop die risiko dat die algemene lewenskoste vinniger duurder raak as wat kontant rente verdien, waarsku Tsatsi.

Hy meen blootstelling aan groeibates soos aandele en eiendom, asook effekte, is ’n slimmer skuif as om al jou geld tans in kontant te hou.

Meer oor:  Fnb  |  Old Mutual  |  Aandele  |  Rentekoers  |  Beleggings  |  Spaar  |  Effekte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.