Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Beleggings
Luno: ‘Reguleer bitcoin om swendelaars te keer’

AlphaCode, ’n waagkapitaalfiliaal van Rand Merchant Investments, het onlangs die tweede groot Suid-Afrikaanse firma ná Naspers geword wat in die bitcoin-verhandelingsplatform Luno belê het. Dié Suid-Afrikaans gebore platform gaan die geld gebruik om sy dienste na Europa uit te brei. In die lig van die vurige debat oor bitcoin se prys, ’n verbod op kriptogeld deur China en ander vraagstukke het Werner van Rooyen, bemarkingshoof, ’n paar vrae beantwoord.

    

Werner van Rooyen, bemarkingshoof van Luno.

Luno is op die oomblik ’n platform vir die verhandeling van slegs bitcoin. Gaan julle verhandeling in enige van die ander kriptogeldeenhede moontlik maak?

Ons visie is baie duidelik: Ons wil geld wrywingsvry en universeel toeganklik maak.

Op die oomblik is ons steeds oortuig dat die kortste pad om daardie visie te verwesentlik met bitcoin is. Dis die digitale geldeenheid met die meeste ontwikkelingswerk daaragter; dit het die grootste markkapitalisasie en verspreiding; meer reguleerders, banke en ondernemings verstaan dit; en meer verbruikers besit dit as enige ander digitale geldeenheid.

Ons monitor heeltyd die betalings- en digitalegeld-landskap, en luister na ons kliënte. Ons hoop om in die toekoms bykomende geldeenhede by te voeg.

  

Watter land verteenwoordig die grootste persentasie van Luno se verhandelings?

Die land met die hoogste volume verhandelings wissel van tyd tot tyd. Sommige maande was dit Nigerië, ander maande Maleisië, ander Suid-Afrika.

Suid-Afrika het oor die afgelope paar maande die hoogste volume getoon.

Voorverlede week het Suid-Afrikaners 6 252 bitcoin op Luno verhandel teen ’n waarde van R54 350 – dus verhandelings van nagenoeg R339 796 200 (byna R340 miljoen).

[Luno gaan nou 35 Europese lande betree waar hy nog nie op die oomblik verhandel nie.]

      

Wat is jou siening oor wat met die regulering van kriptogeldeenhede en die verhandeling daarin gaan gebeur?

Die meeste lande is steeds nie seker hóé om bitcoin te reguleer nie, aangesien dit regtig iets nuuts is, met elemente van ’n geldeenheid, elemente van eiendom (’n bate wat jy besit) en so meer.

Ek dink dis belangrik dat mense die grondliggende beginsels volg: Moet nooit belê in iets wat jy nie verstaan nie en moenie spekuleer met geld wat jy nie kan bekostig om te verloor nie.
Werner van Rooyen van Luno

Sommige lande – vernaam Japan – het regulasies uitgevaardig wat dit die status van ’n wettige betaalmiddel gee.

Wanneer daar innoverende en ontwrigtende nuwe tegnologie – of dit nou die ontwrigting van die taxibedryf deur Uber, die hotelbedryf deur Airbnb of die bekendstelling en evolusie van digitale geldeenhede soos bitcoin is – is daar ’n toename in wrywing met reguleerders.

Ons weet dat die reguleringsruimte nie altyd in dieselfde pas beweeg as vinnig bewegende beginnerondernemings nie.

Van dag een af het ons die proaktiewe benadering gevolg en alle stappe gedoen om te voldoen aan bestaande regulasies wat van toepassing is op soortgelyke instellings in die finansiële sektor, soos banke en betalingsplatforms.

Nie net wéét ons dat regulering vir die bedryf sal kom nie, ons verwelkom dit. Ons is deurentyd in gesprek met banke, reguleerders en ander finansiële-tegnologiefirmas – wêreldwyd – oor die bedryf.

Regulering bring eindelik duidelikheid vir ondernemings en verbruikers en hou swendelaars, boereverneukers en ander operateurs wat ’n klein belang (of vermoëns) het weg sodat klante se inligting en geld veilig bly.

  

Daar is ’n algemene opvatting in die beleggingsbedryf dat die bitcoin ’n prysborrel is. Blaas verhandelingsplatforms die situasie aan en verhoog die risiko dat die borrel kan bars? Of reken jy daar is ’n langtermynsaak uit te maak vir bitcoin (spesifiek) of kriptogeld (in die algemeen) as ’n belegging (benewens die gebruik van blokkettings in die finansiële sektor)?

Bitcoin is bruikbaar op baie maniere, maar vernaam drie:

  • As ’n betalingsmetode – om geld tussen twee mense te stuur, kan dikwels goedkoper en vinniger wees met ’n digitale geldeenheid as die bestaande finansiële stelsel;
  • As gedesentraliseerde tegnologie – wat beteken geen sentrale mens, maatskappy of land het beheer daaroor nie.
  • As stoor van waarde – ’n alternatiewe bateklas en verskansing teen waardevermindering, danksy vraag, beperkte voorraad en die langtermynpotensiaal van die tegnologie.

Baie mense noem dit digitale goud, iets baie interessants vir die volgende generasie.

Ek stem saam, die prys het die afgelope paar maande ’n bietjie te vinnig gestyg. Dit kan toegeskryf word aan groeiende belangstelling en begrip oor die tegnologie deur verbruikers. Dis waarskynlik ook danksy die netwerk-effek: Hoe meer mense bitcoin besit, hoe nuttiger word dit (dieselfde is waar vir dinge soos e-pos, WhatsApp of Facebook).

Ons weet nie wat die toekoms inhou nie, maar digitale geldeenhede soos bitcoin hou beslis enorme potensiaal in om die finansiële stelsel te ontwrig en waarde toe te voeg.
Werner van Rooyen van Luno

Ek dink dis belangrik dat mense die grondliggende beginsels volg: Moet nooit belê in iets wat jy nie verstaan nie (leer dus so veel oor bitcoin as wat jy kan) en moenie spekuleer met geld wat jy nie kan bekostig om te verloor nie.

Sommige verhandelaars maak dalk op kort termyn geld uit die wisselvalligheid, maar vir die meeste is dit die maklikste om ’n klein hoeveelheid bitcoin-fraksies te koop en dit vir lank te hou.

Ons weet nie wat die toekoms inhou nie, maar digitale geldeenhede soos bitcoin hou beslis enorme potensiaal in om die finansiële stelsel te ontwrig en waarde toe te voeg.

  

Wat gaan die impak wees van die verwagte “harde vurk” in die bitcoin-tegnologie wat in November verwag word?

Soveel mense het my al gevra: ‘So, het die bitcoin nog nie in duie gestort nie?’ dat ek ’n domein geregistreer het as tong-in-die-kies-respons: www.sohasbitcoincrashedyet.com.

En dit was so lank gelede as 2013.

Data wys dat meer mense bitcoin koop wanneer die prys styg . . . nie gegrond op langtermynpotensiaal nie, maar op blote bespiegeling, in die hoop dat die prys vir ewig sal styg. Dit sal nie.

Wanneer daar ook negatiewe nuus oor die bitcoin is – soos onlangs met die verklarings deur China – begin die prys daal. Dit skep ’n kettingreaksie soos mense begin verkoop soos hulle die waarde van die digitale geldeenheid sien styg en daal, sonder om te weet hoeveel verder dit sal val. Uiteindelik kom dit tot rus en herstel, maar die ervaring laat baie mense bewerig.

Moenie die basiese beginsels vergeet nie: Moenie belê wat jy nie kan bekostig om te verloor nie; moenie in enigiets belê wat jy nie verstaan nie.

Meer oor:  Rmi  |  Naspers  |  Virtuele Geld  |  Bitcoin  |  Kriptogeld  |  Blokketting
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 2417,42 (6258)
  • Top 40 48865,06 (-69430)
  • All Share 54876,82 (-74598)
  • Resource 10 43434,32 (-38670)
  • Financial and Industrial 30 73805,91 (-119542)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.