Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Beleggings
Maak planne vir meer rente op jou beleggings

Rentekoerse was in 1973 laas so laag soos nou. Vir mense wat op die rente van hul beleggings leef – baie van hulle bejaardes – is dit baie slegte nuus. Liesl Peyper het kenners gevra wat jy kan doen om seker te maak jy verdien soveel rente as moontlik.

Met rentekoerse op hul laagste punt in byna vyf jaar, sukkel beleggers wat van rente leef om kop bo water te hou. Foto: Getty Images

Die Reserwebank het sover vanjaar rentekoerse met altesaam 300 basispunte verlaag. Dit beteken mense wie se geld in rentedraende instrumente soos geldmarkfondse en banke belê is, se opbrengste het in 2020 alleen met ’n derde gekrimp.

“In September 2019 kon beleggers ’n voorbelaste inkomste van 7% in geldmarkfondse en met sekere hoë-opbrengs-bankdeposito’s verdien,” sê Wynand Gouws, ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en welvaartbestuurder by Gradidge Mahura Investments. Dié voorbelaste opbrengs het nou verminder na tussen 3,5% en 4,5%.

Die kanse dat die Reserwebank koerse binnekort weer sal verhoog, is boonop skraal, gegewe die swak ekonomie en met inflasie wat in bedwang is, sê Johan Gouws, hoof van adviesdienste by Sasfin Wealth. Lae rente-inkomste bring mee dat beleggers wat op rente staatmaak vir ’n inkomste genoop is om hul kapitaal te begin gebruik namate hul inkomste verminder.

Die laer rente-opbrengs hou ook nie met inflasie tred nie, wat beteken dat die koopkrag van hul beleggings nog verder weggekalwe word. Mense wat maandeliks van ’n inkomste uit hul beleggings afhanklik is kan kwalik bekostig om enige risiko’s te loop, maar die swak rentekoersomgewing laat hulle met geen ander keuse nie as om ander opsies te oorweeg ten einde hul rente-opbrengs te verhoog.

Vergelyk rentekoerse

Johan Gouws stel voor dat ’n mens die rentekoerse van ’n paar beleggingsinstrumente vergelyk en jou geld belê waar die opbrengskoers hoër is as inflasie.

Geldmark-effektetrusts is ’n goeie opsie: die fondsbestuurder sal namens jou by verskillende banke die beste instrumente koop oor verskillende looptye – soos 30, 60 of 90 dae. “Iemand gaan soek namens jou die beste geleenthede en benut dit.”

Hy waarsku egter dat dié fondse dikwels bestuursgeld het. Oorweeg dus die opbrengs nadat dié geld afgetrek is.

Inkomstefondse is ook ’n moontlikheid waar opbrengste 1% tot 2% hoër kan wees as geldmarkfondse, sê Wynand Gouws. Geld word belê in instrumente wat bietjie riskanter is as geldmarkfondse. Inkomstefondse is veral geskik vir mense met ’n effens langer beleggingshorison, soos twee of drie jaar. (Vir geldmarkfondse is die horison gewoonlik een of twee jaar.)

Kleinhandel-staatseffekte – waar beleggers in staatskuld belê – maak beleggers soms onrustig, maar dit is ’n relatief veilige belegging, sê Wynand Gouws. “Hierdie soort beleggings lewer tans ’n opbrengs van 5,25% oor ’n tweejaar-beleggingstydperk. Rente kan uitbetaal word of mens kan dit herbelê, maar die kapitaal is vir 12 maande opgesluit en daar is ’n boete as jy die geld vroeër wil onttrek.”

Belastingvrystelling op rente

Mense met vaste-inkomste-beleggings, soos by banke waar jou geld vas belê word vir ’n sekere tydperk, moet bedag wees daarop dat net ’n sekere gedeelte van die rente wat hulle verdien belastingvry is. Vir diegene onder 65 is die bedrag R23 800 en bokant 65 is dit R34 500. Wynand Gouws raai beleggers aan om seker te maak hulle belê hul geld net totdat hulle by die punt van belastingvrystelling is. “As jy eers begin belasting betaal op die rente wat jy verdien, gaan jou opbrengs ver onder inflasie wees.” Hy raai beleggers wat hul belastingvrye drempel bereik, aan om bietjie meer risiko met hul beleggings te loop om inflasie te probeer troef.

Hoër-risiko-beleggings

Sasfin se Johan Gouws stel voor dat beleggers die geld wat hulle binne die volgende twee jaar gaan nodig kry, in ’n soort geldmarkfonds belê, maar die geld wat hulle vir vyf jaar of langer nié nodig het nie, in ’n gebalanseerde effektetrustfonds.

Gebalanseerde effektetrustfondse gee aan beleggers blootstelling aan kontant, eiendom, aandele en buitelandse fondse.

“Die geld wat jy nie vir die volgende drie jaar gaan nodig hê nie, kan vir jou dalk die beste kans gee om beter opbrengste te kry,” sê hy.

As dit te goed klink om waar te wees . . .

In hierdie tye van swak rentekoerse kan beleggers swig voor die versoeking om hul geld te belê waar hulle buitengewoon hoë rentekoersopbrengste belowe word. “Die groot gevaar is dat mense kan oorweeg om risiko’s te neem op hul beleggings en dat hulle geld in verkeerde skemas kan belê,” sê Johan Gouws. “Maak seker jy belê by ’n instelling wat gereguleer word.”

Meer oor:  Rentekoers  |  Lenings  |  Ekonomie  |  Skuld  |  Repokoers  |  Reserwebank  |  Geldsake
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.