Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Beleggings
Magnus Heystek: Dom om oorsee te belê? Nee!

Dr. Roelof Botha se stelling in die artikel “Baie dom om nou geld uit SA te vat” dat dit dom sou wees om nou geld die land uit te neem, dui op ’n ernstige gebrek aan kennis oor beleggings en die noodsaaklikheid om internasionale diversifikasie na te streef.

Magnus Heystek is ’n medestigter, direkteur en beleggingstrateeg van Brenthurst Wealth. Foto: Jeremy Glyn Photography

Die kwessie van internasionale diversifikasie weeg veel swaarder as ’n bloot eenvoudige siening van die rand (sterk/swak) en om dan daarvolgens te reageer.

Die vooruitskatting van die rand se toekomstige beweging speel ’n betreklik klein rol in die besluit om geld oorsee te belê of nie.

Terwyl daar dalende tendens van verswakking van die rand op die lang termyn te bespeur is in die langtermyngrafieke, kan die rand op kort termyn soms teenintuïtief versterk wanneer alle plaaslike aanwysers dui op ’n verswakking van die makro-ekonomiese aanwysers.

Die ander faktore wat ’n rol speel, sluit in ekonomiese groei en winsgewendheid in ander lande en maatskappye, innovasie, reg en orde, belasting, en maatskaplik-politieke faktore.

Trouens, wyle dr. Simon Marais, legendariese hoof van Allan Gray, het altyd gereken dat reg en orde in ’n land die grootste aanwyser was van toekomstige sukses op ’n land se effektebeurs. Byna net op daardie grondslag moet ’n belegging op die JSE as riskant geag word.

Botha en ander voorstanders van plaaslike beleggings moet dan dalk vir lesers verduidelik hoekom die JSE die afgelope vyf jaar feitlik geen groei getoon het nie, ondanks die feit dat die rand rondom R16 per dollar vandag amper onveranderd was die afgelope vyf jaar. Volgens hierdie redenasie sou die JSE dan lustig meegedoen het in een van die grootste bulmarkte van alle tye.

Maar dit het nie.

Kyk gerus na die volgende vyfjaar-groeisyfers (totale opbrengs, dividend ingesluit) van die vernaamste groeimarkte ter wêreld tot einde Oktober, aldus Bloomberg.

  • Nasdaq +187%
  • S&P 500 +100%
  • MSCI Wêreldmarkte +75%
  • MSCI Opkomende Markte +69%
  • JSE +10%

Met die rand se vertoning wat geen rol hierin gespeel het nie, moet ’n mens derhalwe die vraag afvra: Hoekom geen groei vir JSE-beleggers nie?

Die antwoord lê op ander plekke waarvan die meeste lesers baie bewus is: die land se verswakkende fiskale situasie, staatskuld wat as persentasie van die bruto binnelandse produk meer as verdubbel het die afgelope vyf jaar, wetteloosheid en sporadiese maatskaplike onrus, verbrokkelende infrastruktuur en, les bes, staatskaping en korrupsie.

Die Suid-Afrikaanse ekonomie, wat reeds voor die Covid-19-pandemie in ’n resessie was, sal verskeie jare neem om net weer terug te wees op vlakke waar dit einde 2019 was. Foto: Pixabay

Die Suid-Afrikaanse ekonomie, wat reeds voor die Covid-19-pandemie in ’n resessie was, sal verskeie jare neem om net weer terug te wees op vlakke waar dit einde 2019 was.

Dis nie net oor vyf jaar dat die JSE so swak gevaar het nie. Dieselfde patroon word herhaal oor een, drie, sewe en selfs tien jaar.

Beleggers wat geen buitelandse bates of te min buitelandse bates gehad het oor dié termyn (insluitend miljoene lede van pensioenfondse en uittree-annuïteite) het wesentlik verarm.

Ten laaste: Voorstanders van buitelandse beleggings word voortdurend beskryf as “parasiete”, negatief, onpatrioties, en selfs as “skelms”. Ek verstaan eenvoudig nie dié jingo-istiese aanvalle nie. Ons leef in ’n globale wêreld, ons koop en leef globaal en alle beleggers soek tog die beste opbrengs op hul geld teen die laagste risiko.

Die JSE was die afgelope vyf tot sewe jaar die mark met die swakste opbrengs teen die hoogste risiko. Wat sal die situasie verander?

  • Magnus Heystek is ’n beleggingstrateeg by Brenthurst Wealth.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.