SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Beleggings
Moenie met die bitcoin-koor swaarde kruis
Mike Schüss­ler, vorige Ekonoom van die Jaar.

Geld is ’n manier om prys te meet, dis ’n ruilmiddel en ’n bewaarder van waarde. Dit ontwikkel voortdurend. Van skulpe tot elektroniese debietkaarte het geld al baie vorme aangeneem.

Om te meet, te bewaar en as betaalmiddel op te tree, verg ’n groot mate van vertroue. Vertroue is die vernaamste kriterium vir iets wat as betaalmiddel aanvaar word.

Ons dink miskien nie baie van die rand nie, maar ons dryf daarmee handel en ons meet ons huise se waarde daarin. Soms spaar ons selfs daarin.

Vertroue is iets wat moeilik is om te definieer, maar in die algemeen beteken dit dat ander die waarde van die geld aanvaar wat jy vir hulle oordra.

Bitcoin is die nuwe geldeenheid, sê sy lofsangers. Dit is die nuwe belegging vir die nuwe eeu en die profete deel gou-gou nog ’n skrifgedeelte uit die internetbybel van bitcoin op hul Facebook-preekstoele.

Die profete deel gou-gou nog ’n skrifgedeelte uit die internetbybel van bitcoin op hul Facebook-preekstoele.
Mike Schüssler, ekonoom

Een manier om vertroue te meet, is wisselvalligheid en op die oomblik is Bitcoin tot 7,5 keer wisselvalliger as die rand.

Vertroue in die rand is dus hoër. Vir die euro of die dollar is die wisselvalligheid 12 keer minder as vir bitcoin. Dus is vertroue hoër vir die rand en die dollar.

Waarde is belangrik en sentrale banke werk hard om vertroue te behou in die waarde van die geldeenheid wat hulle bestuur. Hulle hou ’n ogie oor banke en diegene wat bankkaarte uitgee. Hulle vereis van banke om geld in reserwe te hou, dikwels in die vorm van goud en ander geldeenhede. Die banke se waarde lê ook in die steun wat hul reserwes bied.

Mites van heilige skaarsste

Bitcoin is ’n nuwe tegnologie, sing die kriptokoor. Dit doen weg met die behoefte aan sentrale banke en daar kan net 21 miljoen volle bitcoins geskep word.

Dit is skaars, dit is heilig, dit is geseënd en dit hou aan gee. Bitcoins en die mense wat “weet”, is geseënd, is die strekking van die boodskap.

Maar as 50% van die myners ten gunste daarvan is, kan bitcoin verdeel word, soos wat met bitcoin cash gebeur het en weer sal gebeur. “Meer vir ons,” sê die profete. “Manna uit die hemel,” sing die koor.

Verskeie batebestuurders in Suid-Afrika het die afgelope ruk gewaarsku dat die bitcoin ’n baie spekulatiewe bate is. Foto: iStock

So skaarsheid is nie meer ’n geldige kwessie vir die waardasie van bitcoin nie. Vandag is daar 872 kripto-geldeenhede teenoor 774 in Julie vanjaar. Dis reg, byna 100 nuwes binne twee maande – nóg ’n wonderteken vir die bitcoin-profete.

Kriptogeldeenhede kan met die druk van ’n knoppie geskep word. Elke nuwe geldeenheid benodig handelaars en onderlinge ruilbaarheid met die ouer kriptogeldeenhede.

Profete en pryssangers vertel jou van die wonders van die volgende een. Maar skaars is hulle nie.

Belangebotsing

Bitcoin maak ons vry van transaksiekoste en gee mense ’n inkomste. Dit neem weg van die banke en gee vir armes en diegene wat geseënd is met kennis en insig – aldus die profete.

Die verifieerders van transaksies word “myners” genoem. Myners word natuurlik in nuwe bitcoin en in transaksiegelde betaal. Hoe nader die skep van nuwe bitcoin aan die vasgestelde perk kom, hoe meer sal die myner uit transaksiegelde betaal word en hoe minder met nuwe bitcoin.

Om elke transaksie in bitcoin se verifikasie te hou, is ideaal vir die bou van vertroue, maar ná ’n ruk styg die aantal transaksies in elke bitcoin van duisende na miljoene en meer. Eenvoudig gestel: Die lys van inskrywings (“log”) word al hoe groter om die gedesentraliseerde vertroue te bewaar.

Dus vereis elke transaksies in die ketting meer verwerkingskrag en elektrisiteit. Dit verhoog die koste van die transaksie en myners benodig al hoe kragtiger grafiese verwerkers.

Myners het dus belange-botsings, maar die profeet prys hulle omdat hulle die ‘duiwelse regering’ weghou.
Mike Schüssler, ekonoom

Elke bitcoin-transaksie gebruik meer as 180 kWh. Dis genoeg elektrisiteit om die gemiddelde Suid-Afrikaanse huis vir ’n week van krag te voorsien.

Dus, terwyl elke transaksie al hoe meer krag gebruik, terwyl die betaalvermoë van nuwe munte per myner kleiner word, sal al hoe meer van hierdie immer stygende koste deel van die transaksiekoste word. Daardie driedubbele slag sê die “myner”-koor is niks teen wat die banke hieruit maak nie.

Ja, banke maak ook geld uit ander dinge en gemeet per daaglikse transaksie is bankkoste ver minder. Om die waarheid te sê, menige bitcoin-profeet haal trots sy Visa-kaart uit wat net met bitcoin betaal. Die “myner” en die bankier glimlag altwee breed, want elkeen samel transaksiekoste in.

Dus trek die myners voordeel uit sowel die aantal transaksies en die kompleksiteit daarvan, maar hul koste, byvoorbeeld elektrisiteit, styg wanneer die blokketting groter word.

China het goedkoop elektrisiteit, daarom het China 80% van die wêreld se bitcoin-myners.

Wat het Warren Buffett, voorsitter van Berkshire Hathaway, is een van die beleggingskenners wat mense teen bitcoin waarsku. Foto: Scott Eells, Bloomberg

Belangebotsing

Myners soek ook meer werk en daarom is hulle mal oor meer bitcoins en dus meer verdelings. Dit is dus te verstane waarom hulle ten gunste van ’n verdeling sal stem.

Meer werk beteken groter inkomste.

Myners het dus belangebotsings, maar die profeet prys hulle omdat hulle die “duiwelse regering” weghou.

Nuwe geldeenhede vereis minder verwerkingskrag aan die begin, maar bou ewiggroeiende lêers wat boekhou van alle bitcoin-transaksies. Myners moet besig bly om geld te maak, so verwag dat die aantal geldeenhede sal groei.

Sentrale banke van Indië tot China, Duitsland en Australië het mense oor die risiko’s gewaarsku, maar ons bitcoin-hoëpriester kyk fronsend na die ongelowiges.

Bekeerdes sien bitcoin as die toekoms en daar is opleidingskursusse en lewenstylmentors wat mense in die fynere bitcoin-kunsies oplei.

Die bohaai is ongelooflik – van oumas tot studente moedig die kripto-geldeenhede aan.
Mike Schüssler, ekonoom

Profete veroordeel mense soos Warren Buffett en Robert Schiller wat waarsku dat dit ’n borrel is. Daar word na elke strooihalm gegryp in die hoop dat dit iemand se standpunt sal verander. Elke transaksie wat met bitcoin gedoen is, word op sosiale media aangekondig en suksesverhale word vinnig gedeel.

Die bohaai is ongelooflik – van oumas tot studente moedig die kriptogeldeenhede aan.

Wanneer ’n handelaar soos Pick n Pay ’n proeflopie doen, is die profete vinnig om die nuus op sosiale media te verkondig. Die proeflopie is verby en gou word ’n mens ingelig dat jy nou vliegkaartjies in Japan met bitcoin kan betaal.

Wys jy daarop dat die produk 12,5% meer kos via bitcoin vir ’n item ter waarde van R4 000 as wanneer jy daarvoor in rand sou betaal, skrik jy hulle nie af nie. Dis net “groeipyne van die toekoms”.

Ja, geld verander voortdurend en kriptogeldeenhede mag dalk ’n deel daarvan wees.

Maar vir nou sal ek aanhou om in goeie ou rande te betaal deur middel van kaarte en elektroniese oorbetalings. Hulle word wyer aanvaar, kos minder, bewaar waarde en ek gebruik hulle daagliks. Selfs bitcoin se waarde word in rand gemeet!

  • Mike Schüssler is ekonoom van Economists.co.za en ’n vorige wenner van Sake se Ekonoom van die Jaar-wedstryd.
Meer oor:  Mike Schüss­Ler  |  Virtuele Geld  |  Kriptogeld  |  Bitcoin
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 2417,42 (6258)
  • Top 40 48865,06 (-69430)
  • All Share 54876,82 (-74598)
  • Resource 10 43434,32 (-38670)
  • Financial and Industrial 30 73805,91 (-119542)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.