Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Beleggings
Nico van Gijsen: Aandele riskant, maar onmisbaar

Foto: Shutterstock
Kom ons gesels oor beleggingsrisiko, iets wat niemand van hou nie. En oor beleggingsopbrengs, waarna almal streef.

Die twee loop hand aan hand, maar is nie maats nie.

Ek het al hier geskryf oor risiko. Belasting is ’n risiko. Inflasie is ’n risiko. Beleggingsmarkte wat soms lyk of hulle net een pad ken en dit is ondertoe is ’n risiko. Maar dit is risiko’s wat bestuurbaar is. Die moeilikste beleggingsrisiko om te bestuur, sit tussen ’n mens se ore.

Mense glo wat hulle wil glo. Mense sal eerder die risiko van mislukking aanvaar deur die skare te volg as om die risiko van sukses aan te gryp deur nie die meerderheid na te aap nie.

Dink maar daaroor in die lig van wat ek hieronder noem.

’n Goeie balans

Kom ons kyk wat het oor die afgelope jaar gebeur met ons beleggingsmark.

Ja, die een waaroor die grootbekke so geraas en geskreeu het en sommige het mense selfs aangeraai om al hul geld in die buiteland te belê.

Ek het in my voorbereiding vir vandag se rubriek drie beleggingsfondse gekies, nie op grond van groei nie, maar sommer net uit die groep fondse wat ons in ons praktyk gebruik, en sonder om vooraf te kyk na hoe hulle gevaar het. Dit is tipies van die fondse wat gebruik sal word in ’n kliënt se portefeulje.

Die eerste is ’n gebalanseerde fonds wat aktief bestuur word. Sy risikoprofiel is matig en hy is goed gebalanseer tussen binne- en buitelandse aandele, kontant en effekte. Die doel van die fonds is stabiele groei met ’n redelike vermoë om inkomste te kan voorsien. Ons noem hom die Bestuurde fonds.

Die tweede fonds is ’n suiwer aandelefonds, wat waarde soek in ondergewaardeerde en minder gewilde aandele. Sy risikoprofiel is hoog (aggressief). Sy doel is om oor tyd skaamteloos groei te jaag. Dit is nie ’n korttermynfonds nie. Ons noem hom die Waardefonds.

Die derde fonds is ’n laerisikofonds (konserwatief), wat gemik is daarop om kapitaal te beskerm en ’n inkomste te bied. Die bateklasse waarin hy belê, is kontant en effekte. Ons noem hom die Inkomstefonds.

Ek het as voorbeeld dié drie saam in ’n beleggingsportefeulje geplaas met ’n belegging van R10 000 daarin ’n jaar gelede. Die verdeling tussen die fondse is 40% in die Bestuurde fonds, 40% in die Waardefonds en 20% in die Inkomstefonds. Dis sommer lukraak gedoen; daar is geen gekoppelde kliëntbehoefte nie.

Kyk nou na die eerste grafiek. Belangrik is die totale batesamestelling deur die drie fondse saam geneem. Die verspreiding van bates (diversifisering) is die volgende baie belangrike komponent in die bestuur van jou beleggingsrisiko, soos ons later sal sien.

In dié geval het ons sowat 18% in effekte, sowat 19% in kontant (albei baie veilige bateklasse) en 57,45% in aandele, waarvan 72,68% plaaslike aandele is en 27,32% buitelandse aandele. Die res kan ons ignoreer.

Met so ’n bateverdeling versprei jy jou risiko. Sou jy byvoorbeeld op kort termyn geld nodig kry, is daar genoeg in effekte en kontant, wat nie so aan markskommelings blootgestel is as aandele nie. En die aandelekomponent sorg vir groei oor tyd. Dis benewens die feit dat dit ook meer belastingvriendelik is, synde jy nie inkomstebelasting daarop betaal nie, maar kapitaalwinsbelasting.

Dus, nog ’n risiko wat bestuur word met aandele.

Grafiek 2 wys vir ons die groei in hierdie fondse die afgelope jaar. Dit toon duidelik die verskil tussen die groeipotensiaal van aandele en die laer groei as jy te veilig wil speel.

DieInkomstefondshet 5,15% groei gelewer, terwyl die Bestuurde fonds18,56% groei en die Waardefonds ’n allemintige 63,63% groei toon. Die gemiddelde groei in die portefeulje was 32,20% oor die jaar.

Dit wys ook op ’n verdere risiko. Die risiko van nié in die mark wees nie. As jy jou kapitaal wil laat groei, moet jy eenvoudig in aandele belê; daar is net geen ander manier nie. Uiteraard sal die hoeveelheid in aandele afhang van jou vermoëns en behoeftes, maar jy kan nie heeltemal daarsonder nie.

Net so kan jy ook nie alles in aandele belê nie (tensy jy baie jonk is en geld elders hou vir ’n noodgeval). Hoewel die Waardefonds byvoorbeeld al in sy beste 12-maande-periode groei van 88,31% kon wys, het hy in sy swakste 12-maande-periode -27,15% getoon. Dit is wanneer jy bly is jy het ook meer konserwatiewe fondse in jou portefeulje.) Nico van Gijsen, ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en belastingpraktisyn, is besturende direkteur van Finlac en ’n lid van Fisa. Lesers kan navrae aan hom stuur deur te skryf aan Raad met jou Rande, Posbus 8422, Johannesburg 2000 of nico@finlac.com; Twitter: @Nicovangijsen

Meer oor:  Nico Van Gijsen  |  Aandele
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.