Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Beleggings
Nico van Gijsen: Belastingvry is nie áltyd so vry
Bron: Old Mutual Investment Group

Ons kyk vandag na ’n leser se vrae oor ’n belastingvrye belegging. En sommer ook na ’n paar mites oor “belastingvry”.

Hy het gelees, skryf hy, om belastingvry te spaar by dood wel belasbaar is en hy klink heel omgekrap. “Dit maak nie vir my sin dat daar op ’n belastingvrye belegging by dood weer belasting betaal moet word nie.”

En dan noem hy nog ’n punt: “Daar is ook onduidelikheid of ’n belastingvrye spaarplan (vanweë swak opbrengs) na ’n ander belastingvrye spaarplan by dieselfde of ’n ander instelling geskuif kan word (vir beter opbrengs).”

Kom ons gesels eers belasting. Daar is twee tipes beleggings, of beleggingsprodukte, wat belastingvry is. ’n Uittreeannuïteit (UA) en die sogenaamde belastingvrye spaarrekening.

Werklik belastingvry

’n Uittreeannuïteit is die enigste werklike belastingvrye spaarproduk as dit gaan net om belasting. Ek dink daar is in sommige oorde verwarring hieroor. Ek het byvoorbeeld ’n tyd gelede ’n vreeslike neerhalende brief ontvang van ’n rekenmeester op Springs wat my mooi vertel ek skryf twak as ek sê ’n UA is belastingvry. En hy haal toe ook nog sy vriend, kwansuis ’n Sanlam-agent, aan as verdere gesag.

Die waarheid is, die Inkomstebelastingwet (Wet 58 van 1962) is baie duidelik dat bydraes tot ’n UA aftrekbaar is vir inkomstebelasting. Sanlam self sê dit op sy webblad.

Die groei in jou UA-fonds is eweneens belastingvry. En by dood val die waarde van die UA nie in jou boedel vir boedelbelasting (Wet 45 van 1955) nie.

Natuurlik is daar sekere beperkings.

Op jou bydraes tot die UA is daar ’n perk van R350 000 per jaar, of 27,5% van inkomste, welke een die laagste is. Maar dit wat jy in ’n jaar bydra wat meer is as die maksimum toegelate aftrekking kan jy in daaropvolgende jare aftrek.

En dit wat jy – die deel wat meer was as wat jy kon aftrek – nie oor die jare kon aftrek nie, is vir jou beskikbaar as ’n belastingvrye pensioeninkomste wanneer jy uittree uit die fonds. Meer “belastingvry” as dit kan jy kwalik verwag.

Die Boedelbelastingwet kan jou net vang by dood as jy vooraf geld in ’n UA belê het wat jy nie kon aftrek vir inkomstebelastingdoeleindes nie. Dit sal dan in jou boedel val en in berekening gebring word vir boedelbelasting. Dié reël is onlangs ingebring om te keer dat mense boedelbelasting ontduik deur groot bedrae geld in ’n UA te belê.

Belastingvry vooraf belas

En die belastingvrye spaarplan? Jy is beperk tot R36 000 per jaar wat jy in die produk kan spaar, met ’n beperking van R500 000 oor jou lewe. Spaar jy meer as die R36 000 per jaar word jy beboet met 40% addisionele belasting op die bedrag wat meer is as R36 000.

Jou groei, net soos die groei in ’n UA, is vry van belasting. Die belastingvrye spaarrekening skiet ver tekort uit ’n belastinghoek, as ons in ag neem dat jou R36 000 per jaar gespaar moet word uit nabelaste geld. In die UA spaar jy, soos ek hierbo uitwys, met voorbelaste geld.

Dit is die eerste groot verskil.

Die tweede is dat, anders as wat die geval is met ’n UA, val die totale waarde van die belastingvrye spaarrekening by dood as eiendom in jou boedel en word dit in berekening gebring vir boedelbelasting. Net soos alle ander beleggings, die geld in jou bankrekening inkluis.

Kortom, die belastingvrye spaarrekening bied net belastingvrye groei. Niks meer nie. Al die ander belastings bly ter sake. Plus, jy is erg beperk op hoeveel jy mag spaar.

Jy mag skuif

En die vraag oor die skuif van jou belastingvrye spaarplan na ’n ander batebestuurder as die opbrengs by die een swak is?

Eerstens, loop lig daarvoor. Jy kan jou maklik deur emosies laat lei. Markte daal soms. Hou by jou doelwit as jy ingeligte raad vooraf ingewin het.

Tweedens, dit is ook een van die grootste onderduimshede in die finansiëledienstebedryf. Die skuif van ’n kliënt se geld van een batebestuurder na ’n ander, omdat die opbrengs by die een dan so swak sou wees.

Tweedens, dit is ook een van die grootste onderduimshede in die finansiëledienstebedryf. Die skuif van ’n kliënt se geld van een batebestuurder na ’n ander, omdat die opbrengs by die een dan so swak sou wees.

Die werklikheid is dat in baie sulke gevalle is dit die fondskeuses, gewoonlik die gevolg van beloftes oor groot opbrengste, wat die probleem onderlê. En dan word die geld geskuif na ’n ander batebestuurder, pleks van om net die fondse te hersien. Die meeste instellings bied ’n groot keuse van fondse.

Dit is jou makelaar of finansiële raadgewer se plig om die regte fondse vir jou spaardoelwit voor te stel – en dan verantwoordelikheid daarvoor te aanvaar. Jy hoef nie van batebestuurder te verander nie. Verander eerder van makelaar.

Jy kan ’n belastingvrye spaarplan by enige van ’n aantal batebestuurders uitneem. Jy kan verskeie belastingvrye spaarprodukte by verskeie batebestuurders hê, solank as wat jy binne die perk van R36 000 per jaar bly. En jy kan van die een na die ander skuif as jy wil.

  • Nico van Gijsen, ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en belastingpraktisyn, is besturende direkteur van Finlac en ’n lid van Fisa. Lesers kan navrae aan hom stuur deur te skryf aan Raad met jou Rande, Posbus 8422, Johannesburg 2000 of nico@finlac.com; Twitter: @Nicovangijsen

Meer oor:  Nico Van Gijsen
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.