Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Beleggings
Nico van Gijsen: Die lesse van die jaar wat was

Dit is dalk ’n goeie tyd om te kyk na die jaar wat was. Vanuit ’n beleggingsoogpunt bekyk, het dit maar geknor. Kom ons kyk na die lesse te leer daaruit.

Verlede Sondag het ek hier geskryf dat om groei te kry (werklike groei) moet jy in aandele belê wees. En dat dit wys is om nou vas te byt en nie sommer jou geld te skuif nie. Gegewe natuurlik dat jy in die eerste plek reg belê was. In die regte fondse, nie die “wenners” op sinlose ranglyste nie.

Kom ons kyk kortliks na die bewegings in die indeks van alle aandele op die JSE. In November verlede jaar, met die politieke gestoei tussen Jacob Zuma en Cyril Rama­phosa, was die beurs op 59 515. Negatiewe sentiment oor die Zuma-kabaal.

Nadat ons van Zuma ontslae is, vroeg in die nuwe jaar, klim die beurs tot 61 475. Almal is positief en opgewonde. Maar daar het nog niks werklik gebeur nie.

Toe die werklikheid begin insink en veral die openbare debat oor grondonteiening momentum kry, met ’n ekonomie wat net-net asemhaal daarby ingesluit, daal die mark begin April tot 54 864.

Toe begin die Zondo-kommissie met die ondersoek na staatskaping en Pravin Gordhan begin om die trogvreters se leisels in te trek. Ons president blaas die vure oor grondonteiening effe koeler en skielik gryp ’n positiewe gees ons almal beet. Die beurs klim einde Augustus tot 59 655.

Dié week met die skryf hiervan het hy weer tot 51 549 gedaal. Die negatiewe nuus? Wysigings aan art. 25 van die Grondwet om grond te onteien sonder vergoeding gee ’n tree nader aan die werklikheid en Eskom skenk vir ons ’n kers vir Kersfees.

Dit wys vir ons hoe beleggingsbesluite deur emosie gedryf word. As die nuus sleg is, hol mense weg. As een begin hardloop, is die res soos ’n trop skape agterna, sonder om te weet waarheen, of waarom.

Wat ons moet besef, is dat Suid-Afrika ’n ontwikkelende land is. Aan die een kant, vanuit ’n beleggingshoek, is dit positief, want dit tel in ons guns. Hier is geleentheid vir goeie groei. En beleggers soek die beste groei.

Maar daar sal altyd ’n senuagtigheid wees. Afrika het immers al oor en oor bewys dat korrupsie en politieke oneerlikheid nie ’n vreemde politieke styl is nie.

Die ANC-regering is nie veel anders nie. Wat wel positief is, is dat daar tog stemme in die party is wat die verskil sien tussen selfverryking en landsbelang.

Hoe ek en jy hierop gaan reageer, sal afhang van of ons gaan toelaat dat emosie ons onderkry en of ons gaan help met ’n positiewe gees.

’n Aandelefonds wat ek graag gebruik, het oor die afgelope jaar -9,5% opbrengs getoon. Maar sedert sy ontstaan in 1998 is die gemiddelde groei steeds 21,6% per jaar. En ons is deur moeilike tye tussenin.

Belê reg. Belê met ’n doelwit. Bly op jou pad.

  • Nico van Gijsen, ’n gesertifiseerde finan­siële beplanner en belastingpraktisyn, is besturende direkteur van Finlac en ’n lid van Fisa. Lesers kan navrae aan hom stuur deur te skryf aan Raad met jou Rande, Posbus 8422, Johannesburg 2000 of nico@finlac. com; Twitter: @Nicovangijsen
Meer oor:  Nico Van Gijsen  |  Jse  |  Beleggings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 2085,82 (-20024)
  • Top 40 51145,55 (37671)
  • All Share 57123,78 (34185)
  • Resource 10 44133,06 (45362)
  • Financial and Industrial 30 78010,93 (42741)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.