Ek kyk vandag na die aandelemark en waarom dit belangrik is om in aandele te belê vir kapitaalgroei. Dis die derde in ons kort reeks oor beleggingsmarkte, nadat ek in die vorige twee weke reeds die kapitaalmark (effekte) en geldmark (kontant) as beleggingsmoontlikhede bespreek het.

Nico van Gijsen
’n Belegging is niks meer nie as geld wat jy uitleen. En daarvoor betaal die lener ’n prys, gewoonlik rente in die geval van die kapitaal- en geldmark.
’n Aandelebelegging werk anders in baie opsigte. Daar is verskillende tipes aandele waarop ek nie nou ingaan nie. Ons bly maar by aandele soos ons verstaan vanuit die oogpunt van gewone beleggers.
Deur ’n aandeel in ’n maatskappy te koop, besit jy in werklikheid ’n stukkie van daardie maatskappy. Sy sukses is jou sukses, sy verlies is jou verlies. Dit is in wese die grondslag van opbrengs teenoor risiko. Die twee is verwant.
Deur in aandele te belê, trek jy voordeel uit die langtermynkapitaalgroei van die maatskappy, sowel as die langtermyngroei in die dividendinkomste wat maatskappye uit hul winste verklaar. Hierdie inkomste word ook anders belas as byvoorbeeld rente-inkomste.
Wanneer ’n maatskappy ’n dividend uitkeer, is dividendbelasting van 20% betaalbaar (as dit aan ’n individu uitkeer). Dividendbelasting is ’n terughoubelasting, wat beteken jy betaal dit dus nie self oor nie.
Hoe langer jou beleggingshorison, hoe groter behoort jou aandeleblootstelling te wees.
Op die groei in jou aandelebelegging is geen belasting betaalbaar nie, tot die dag dat jy die aandeel verkoop. En dan tree kapitaalwinsbelasting (KWB) in werking. Net 40% van jou wins – die verskil tussen die prys waarteen jy die aandeel aangekoop het en die prys waarteen jy dit verkoop – is belasbaar as inkomste in daardie jaar. En dan eers nadat jy die eerste R40 000 kapitaalwins per jaar as ’n korting afgetrek het.
Dit beteken effektief dat die maksimum koers vir KWB vir ’n individu net 18% is, teenoor ’n maksimum marginale koers van tot 45% op rente-inkomste (inkomste uit geldmark en effekte). Aandele het dus ook ’n belastingvoordeel.

Deur ’n aandeel in ’n maatskappy te koop, besit jy in werklikheid ’n stukkie van daardie maatskappy. Sy sukses is jou sukses, sy verlies is jou verlies.
Maar ’n mens belê nie net volgens belastingwette nie. Jy soek langtermyngroei aan die een kant, met ’n hanteerbare risiko aan die ander kant. Belasting is wel ’n risiko, maar dit is so met enige belegging en met aandele, soos ek hier noem, is dié risiko kleiner as met rente.
Die grootste enkele beleggingsrisiko is inflasie. Jou belegging moet inflasie klop. En dis waar aandeleblootstelling baie nodig is. Rente-inkomste, veral ná belasting, lewer oor ’n tyd nie naastenby dieselfde netto opbrengste as aandele nie. Op kort termyn is rentedraende instrumente veiliger opsies.
Wat jy dus eers moet oorweeg met aandele, is die termyn van die belegging. Begin by vyf jaar plus. Hoe langer jou beleggingshorison, hoe groter behoort jou aandeleblootstelling te wees.
Ons sien soms groei van 30% per jaar en meer in sekere fondse in sekere jare. Maar ons sien ook markdalings van tot 30% in sekere jare. Jou beleggingstrategie en veral jou gemoed moet hiervoor voorsiening maak.
En dít is waar kundigheid ter sprake kom. Jy soek ’n finansiële beplanner wat met jou beleggingsdoelwit alleen voor oë aanbevelings kan maak oor hoeveel van jou geld in aandele belê moet word, maar ook in watter aandelefondse. Sommiges is meer riskant as ander.
Self verkies ek effektetrustfondse, want dit bied blootstelling aan ’n verskeidenheid aandele wat jou risiko versprei.
Dit keer dat jy, soos die geval was met Steinhoff, al jou geld kan verloor.
En jy het die voordeel van fondsbestuurders wat meer in voeling is met die mark en vinnig besluite kan neem.
- Nico van Gijsen, ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en belastingpraktisyn, is besturende direkteur van Finlac en ’n lid van Fisa. Lesers kan navrae aan hom stuur deur te skryf aan Raad met jou Rande, Posbus 8422, Johannesburg 2000 of nico@finlac.com; Twitter: @Nicovangijsen