Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Beleggings
Nico van Gijsen: ‘Gatvol’ is nie ’n goeie strategie nie

Gatvol, lees ek nou die dag, is die naam wat iemand uitgedink het vir ’n nuwe politieke party. Ek, en ek glo baie lesers, deel die onderliggende politieke stemming, maar gelukkig is die registrasie daarvan nie toegelaat nie.

Nico van Gijsen

In al my jare het ek nog nooit gesien dat ’n gatvol houding ’n positiewe bydrae tot enigiets lewer nie. Nie polities nie en allermins geldelik.

Die jaar wat verby is, was vir baie langtermynbeleggers rede om bietjie gatvol te raak. Wat ek nie gaan doen nie en waarteen ek lesers vandag wil waarsku, is om toe te laat dat ’n gatvol gevoel jou beleggings oorneem.

’n Leser wil juis die afgelope week van my weet of ek dink sy plan is ’n goeie een, om die geld in sy langtermynbelegging nou oor te skuif na ’n bank toe en elke ses maande die geld heen en weer te skuif vir beter groei. Die afgelope jaar was baie swak.

Ook die afgelope week wys iemand aan my uit dat fondse wat ek nogal gereeld aanbeveel en waarin ek self ook belê, tans wat opbrengs die afgelope jaar betref baie laag af op die ranglys van fondse lê.

Kom ek neem dit een punt op ’n slag. Die rede waarom die leser se langtermynbelegging (dis die sleutelwoord hier) die afgelope jaar so swak gevaar het, is waarskynlik omdat hy ’n groot deel van sy belegging in aandele het (sowel plaaslik as buitelands). Ek het nie die samestelling self gesien nie, maar dit sal vir my sin maak.

Die rede waarom die fondse wat dié ander persoon aan my genoem het, laer af op die ranglys van fondse is, is omdat dit fondse is wat grootliks in aandele belê is.

Al lyk dinge só op die aandelebeurs, moet langtermynbeleggers hul oog op die horison hou. Foto: AP

Soos ons weet, die aandelemark het nie goed presteer nie, en dis hoekom rentedraende fondse beter vertoon op ’n ranglys. Jy vergelyk hier egter nie appels met appels nie.

Hier is iets om aan te herkou in die feestyd. As jou doel met jou belegging langtermynspaar is, kan jy nie bekostig om nié in aandele te belê nie. Ek self kyk na fondse en fondsbestuurders wat hulself oor tyd al bewys het, eerder as die eenswaeltjie-somer op ’n gewoonlik niksseggende ranglys.

Moenie skuif op grond van korttermynprestasie nie. Dit is tyd in die mark wat jou geld laat groei, nie tydsberekening met die skuif van geld nie. Syfers wat ek van Investec gekry het, wys as jy tien jaar gelede R1 miljoen in aandele belê het, sou jy nou R2 838 519 gehad het.

Het jy die tien beste dae gemis, het jy nou net R1 629 515 gehad en het jy R1,2 miljoen se groei ingeboet. Het jy die beste 40 dae (oor die tien jaar) gemis, het jou belegging nou op R608 570 gestaan, byna R400 000 minder as wat jy belê het.

As jy (reg!) belê is, bly belê, moenie rondspring nie. Ons het in 2008 gesien hoe kontant 11% rente gebied het. ’n Suiwer aandelebelegging het -23% opgelewer. Net die volgende jaar spring aandele tot 32% en die jaar daarop 19%, terwyl kontant onderskeidelik net 9% en 7% kon bied.

Jou groei is in aandele. Vergeet van ranglyste, en byt vas.

  • Nico van Gijsen, ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en belastingpraktisyn, is besturende direkteur van Finlac en ’n lid van Fisa. Lesers kan navrae aan hom stuur deur te skryf aan Raad met jou Rande, Posbus 8422, Johannesburg 2000 of nico@finlac.com; Twitter: @Nicovangijsen
Meer oor:  Nico Van Gijsen  |  Geldmark  |  Aandele  |  Beleggings  |  Rente  |  Effektetrustfondse
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 2417,42 (6258)
  • Top 40 48865,06 (-69430)
  • All Share 54876,82 (-74598)
  • Resource 10 43434,32 (-38670)
  • Financial and Industrial 30 73805,91 (-119542)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.