Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Beleggings
Nico van Gijsen: Geldmark is nie sonder risiko

Ek hou by ons huidige tema van beleggingsmarkte en kyk vandag na die geldmark.

Nico van Gijsen

Verlede week het ek die kapitaalmark bespreek. Dit is ’n belegging in effekte. Die groot ooreenkoms tussen effekte en die geldmark is dat albei rentedraend is, met ander woorde, jy verdien rente op die geld wat jy belê.

Die groot verskil tussen die twee is dat effekte ’n meer langtermyn-beleggingsoogmerk het – byvoorbeeld vyf jaar en selfs tot 20 jaar – met gewoonlik ook ’n inkomstekomponent. Die geldmark daarenteen is meer op die kort termyn gefokus, met die klem op likiditeit.

Dit word ook beskou as ’n belegging met ’n relatief lae risiko, juis vanweë die likiditeitsfaktor.

Die grondliggende beginsel waarop die geldmark werk, is dat geld ’n prys het. Byvoorbeeld, ek sit met ’n klomp kontant wat ek nie nou nodig het nie, jy soek geld om iets te koop of te finansier waarvoor jy nie nou geld het nie. Jy leen die geld by my en die prys wat jy betaal vir die lening is rente.

’n Belegging in kontant, die geldmark, of die bank, is ’n korttermynbelegging waar jy geld “parkeer” wat jy weet jy binnekort, sê maar ses maande of ’n jaar, gaan nodig kry.

Die rente (of dan die prys) wat betaal word op so ’n lening (of dan belegging vanuit ons oogpunt gesien), word tot ’n groot mate bepaal deur die normale gevolg van vraag en aanbod in die mark. Dit word egter nie suiwer deur markkragte bepaal nie. Die Reserwebank bepaal die hoeveelheid geld in die ekonomie.

Die Reserwebank doen dit deur sy rentekoersaanpassings. In tye van groot aanvraag (mense maak meer skuld) sal die prys van geld verhoog word, dus hoër rentekoerse, en andersom.

Goed, dis nou genoeg agtergrond. Belangriker vir my is waar pas geldmarkbeleggings in as ons kyk na langtermyn- finansiële beplanning. Dit sluit in om kapitaal te skep vir “eendag”, sowel as belê vir inkomste as “eendag” al hier is.

As ek nou iemand gaan skok, dan is dit maar so. Dit pas nie in nie. Nie vir kapitaalbou nie en nie om kapitaal te beskerm vir inkomste nie.

Ek weet daar is baie mense wat redeneer dat ’n belegging in die geldmark, of by die bank, meer sekerheid bied. En dit is dalk waar. Maar daar is ’n ander sekerheid ook: Inflasie gaan jou geldwaarde opvreet.

Jy bou nie kapitaal met ’n opbrengs van minder as inflasie nie. En jy verarm nog vinniger as jy boonop inkomste moet trek uit jou belegging. Kortom, dis bloot finansiële gekheid.

Ek weet daar is makelaars wat hul kliënte se geld in en uit die geldmark skuif om bewegings in die aandelemark te probeer benut. Ek sien hoe sleg hul kliënte verloor in die proses, want hulle skuif gewoonlik te laat uit aandele en dan weer te laat daarin.

Benewens inflasie op jou geldmarkopbrengs, is daar ook nog belasting. Ná jou jaarlikse rentevrystelling is alle rente belasbaar teen jou inkomstebelastingkoers van tot 45%.

’n Belegging in kontant, die geldmark, of die bank, is ’n korttermynbelegging waar jy geld “parkeer” wat jy weet jy binnekort, sê maar ses maande of ’n jaar, gaan nodig kry. Dit kan ook ’n klein rol speel in ’n beleggingsportefeulje om korttermynrisiko te oorbrug.

Maar dis al.

Dit gesê, wees veral bedag vir ouens, waaronder selfs makelaars en ’n paar pastore, wat vir jou “beter” rente aanbied vir ’n lening as die geldmark. Weet dat hulle reeds vrot is van die skuld. Bly weg.

  • Nico van Gijsen, ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en belastingpraktisyn, is besturende direkteur van Finlac en ’n lid van Fisa. Lesers kan navrae aan hom stuur deur te skryf aan Raad met jou Rande, Posbus 8422, Johannesburg 2000 of nico@finlac.com; Twitter: @Nicovangijsen
Meer oor:  Nico Van Gijsen  |  Bateklasse  |  Geldmark  |  Beleggings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.