Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Beleggings
Nico van Gijsen: Keer dat korona spaargeld vreet

Ek wil vandag enkele riglyne aan die hand doen oor hoe jy kan keer dat die gevreesde koronavirus jou spaargeld doodmaak.

Nico van Gijsen

Die Covid-19-virus slaan ons en die ganse wêreld aan twee fronte: gesondheid en ekonomie. Aan die gesondheidsfront is meer as 200 000 mense oor die wêreld heen reeds besmet. Alles moontlik word gedoen om die verdere verspreiding daarvan te beperk en om te keer dat dié wat reeds besmet is, daarvan sterf.

Maar aan die ekonomiese front is almal van ons se geld op belegging reeds besmet. Die paniekverkope van bates wêreldwyd het nie een van ons met geld in ’n gediversifiseerde beleggingsportefeulje onaangetas gelaat nie. Die FTSE/JSE is reeds sowat 30% laer in randwaarde sedert die begin van die jaar.

Saam met die daling in die olieprys, ook koronaverwant, is ons basies waar ons was in 2013. Kortom, ons is finansieel gesproke baie, baie siek.

Maar net soos wat die mediese wetenskap en dokters en regerings almal saamstaan en deur kennis van die virus oplossings bring om verdere verspreiding te keer en teenmiddels sal kry wat keer dat dit meer mense doodmaak, net so kan ek en jy deur kennis en deur koelkop te bly, keer dat ons beleggings ’n sekere dood sterf.

Jou beleggingsgeld is siek, maar dit is nog lank nie dood nie. Kom ons kyk na die feite en enkele riglyne vir die pad vorentoe.

Loop wyd om die twakpraatjies van diegene wat nou probeer om beleggingsvoorstelle aan jou af te smeer met beloftes, soos ek dié week gesien het, van 3% bó inflasie.

Dié fondse het nog heeltyd bestaan en as jy nie daarin is nie, is dit waarskynlik omdat jou finansiële raadgewer gemeen het die fondsbestuurder is sy of haar sout nie werd nie. Of omdat dit nie voldoen het aan jou spaardoelwit nie. In elk geval is die 3% nie ’n belofte nie, dis op sy beste maar ’n “ons probeer”.

Ek en jy kan deur kennis en deur koelkop te bly, keer dat ons beleggings ’n sekere dood sterf.

Paniek lei tot emosionele besluite. En dit is dodelik as jy met geld werk. As jy goeie finansiële raad gekry het (jouself nie deur ’n smous op sleeptou laat neem het nie) en jou beleggingsportefeulje is saamgestel vir lang termyn en goed gediversifiseer, moenie krap daaraan nie.

Vermy “herposisionering” in hierdie stadium. Jy gaan net ’n tydelike papiersiekte terminaal maak. Ervaring oor baie jare wys dat geld, net soos gras in die Kalahari, wíl groei. Dit kort net water.

Jou spaargeld se water kom in die vorm van entrepreneurs. Entrepreneurs is mense wat hulle nie laat onderkry deur krisisse en probleme nie, wat met vindingrykheid en deursettingsvermoë ondernemings laat werk. En die beleggers wat bereid is om hulle geldelik te ondersteun, om só te help om die onderneming te ontwikkel, sodat hulle in die sukses kan deel. Ons noem dit aandelebeleggings.

Jou spaargeld se water kom ook in die vorm van batebestuurders wat soek na waarde-aandele om jou geld in te belê. Daar is ongetwyfeld geleenthede wat nou benut kan word. Weens die paniek het die pryse gedaal en is daar nou groot winskopies vir dié wat weet.

Paniek lei tot emosionele besluite. En dit is dodelik as jy met geld werk.

Geld groei oor tyd, nie oornag nie. Dis nou tyd om te belê. Nie om jou geld te gaan begrawe nie. Dit is nie dood nie, net siek.

  • Nico van Gijsen, ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en belastingpraktisyn, is besturende direkteur van Finlac en ’n lid van Fisa. Lesers kan navrae aan hom stuur deur te skryf aan Raad met jou Rande, Posbus 8422, Johannesburg 2000 of nico @finlac.com; Twitter: @Nicovangijsen
Meer oor:  Nico Van Gijsen  |  Covid-19  |  Geldsake  |  Koronavirus  |  Beleggings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.