Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Beleggings
Nico van Gijsen: Ons is al deur groter pyne

’n Leser wat my rubrieke nou al lank volg, vra nou die dag hoe kan ek nog so positief bly as almal so negatief is: oor die land, oor die ekonomie, oor die politiek, noem maar op.

Nico van Gijsen

My antwoord? Ek kan nie bekostig om negatief te wees nie. ’n Negatiewe mens kan nie onbevange in ’n ander se belang optree nie – as finansiële beplanner, as pa en as oupa. In elk geval, wie stel nou regtig in ’n ou kla-gat belang?

Tog hoor ek alte gereeld grootbekke wat heeltyd loop te vertel dat jy al jou geld oorsee moet belê. Let wel, alles. En dan kry hulle soms sommer ook “bewyse” van uitstekende opbrengste êrens vandaan. Dit alles omdat Suid-Afrika kwansuis gedoem is.

Eintlik beweeg hulle vir my baie na aan parasiete. Hulle wil geld maak uit ons, maar hou nie van ons nie.

Alles in die ou Suid-Afrika was nie sleg nie. Net so is alles in die nuwe Suid-Afrika ook nie sleg nie. Maar dit as agtergrond. Kom ons kyk na beleggings.

Dis belangrik om te verstaan dat markte beweeg. As jy groei wil hê, moet jy in die mark wees met ’n groot deel van jou geld in aandele.

’n Buitelandse belegging is nie ’n aparte bateklas soos wat ek sien sommige wil voorgee nie. Dit is bloot ’n ander ekonomie waar aandele ook styg en daal, net soos hier.

Om te sê jy moet nou jou geld buiteland toe oorplaas omdat buitelandse aandele tot in Junie met 23% gegroei het teenoor Suid-Afrikaanse aandele se -7.5%, is nie goeie finansiële raad nie. In die jaar tot Junie 2009 het buitelandse aandele byvoorbeeld met 30% geval. Oor tyd het plaaslike aandele soms beter en soms swakker gevaar as buitelandse aandele.

’n Buitelandse belegging is nie ’n aparte bateklas soos wat ek sien sommige wil voorgee nie. Dit is bloot ’n ander ekonomie waar aandele ook styg en daal, net soos hier.

Verder is dit meesal bitter dom om jou aandele te verkoop as die mark swak gevaar het. En dis veral sleg om dit dan byvoorbeeld alles oorsee te neem, net omdat die opbrengs daar so goed was. Jy verkoop nie laag en koop hoog nie. Elke mark, elke ekonomie, elke bateklas, kry sy beurt. Jy soek diversifikasie.

Onthou dit: Vir elke verkoper moet daar in ’n koper wees. Iemand gaan jou blootstelling aan Suid-Afrikaanse aandele koop. Dit moet, anders kan jy nie verkoop nie. Is daardie persoon dom? Of is dit die ouens wat geld maak? Jy koop tog liewer laag en verkoop as dit hoog is. Dis hoe jy geld maak.

Kyk byvoorbeeld wat het die Covid-19-paniek aan kliënte se beleggings gemaak. Die bygaande grafiek wys ’n beleggingsopbrengs van ’n werklike kliënt van my by Allan Gray. Op 27 Februarie was sy belegging R4 194 889. Toe kom die pandemie, mense raak paniekerig, verkoop en die markwaarde val. Sy belegging op 16 Maart was net R4 022 333, ’n verlies van R172 556 in minder as ’n maand.

k

Vandeesweek staan die belegging op R4 919 511. Dit is groei van meer as 22% sedert Maart. Sy korona-verlies is meer as uitgewis. Gelukkig het hy geluister en vasgebyt. Maar ander het verkoop. En ander het gekoop. Die een het geld verloor, die ander het groei van meer as 20% in vier maande gehad.

Iemand maak dus geld. En dis nie mense wat verkoop as markte sleg vaar nie. Dit is hulle wat dan die winskopies opraap. Hou jou oë oop. Hou jou ore toe. Nie alles in Suid-Afrika is altyd sleg nie.

  • Nico van Gijsen, ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en belastingpraktisyn, is besturende direkteur van Finlac en ’n lid van Fisa. Lesers kan navrae aan hom stuur deur te skryf aan Raad met jou Rande, Posbus 8422, Johannesburg 2000 of nico@finlac.com; Twitter: @Nicovangijsen
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.