Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Beleggings
Nico van Gijsen: Pleks van ’n boete waag, belê só

Ek is seker, sê die ouma van my kleinkinders vandeesweek terwyl ons op die voorstoep sit met warm botterbroodjies – self gebak, NDZ, nie gekoop nie – daar is ruimte in ons begroting vir die boete.

Nico van Gijsen

Dít, net toe die polisievangwa hier verby patrolleer om seker te maak ek staan nie dalk op die sypaadjie en kou nie. Albei dienders nogal ewe gemasker. En in ’n oomblik van lawwigheid wonder ek: Het die lyn tussen gangsters en platpote nou al so vervaag dat maskers deel van die uniform is? Sowat 90 van hulle is mos al uitgevang, terwyl ons gewone mense in ’n korona-huisarres gedwing is.

Vroulief se gedagtes was ver van die polisie. Hulle het haar net laat dink aan die boete as sy vir haar kleinkinders gaan kuier. “Stella Ndabeni-Abrahams, die minister van kommunikasie, is met R1 000 beboet omdat sy die opsluit-regulasies oortree het. Ek is seker ons kan ook R1 000 bekostig.”

Dié gedagtes het begin by ’n gesprek oor spaar vir kleinkinders na aanleiding van ’n brief wat ek vroeër die oggend van ’n leser ontvang het. “Dit lyk my daar is ander oupas en oumas wat ook na hul kleinkinders verlang,” het ek begin. Toe kom die vangwa. En toe Stellatjie se boete.

’n Neseier sal ’n sinvoller voordeel vir die kinders wees, meen ek. Eendag. Kom ons spaar die boetegeld liewer vir hulle. Maar as ek so vir Ouma luister, gaan ons dit elke dag moet doen. Minstens totdat pres. Cyril Ramaphosa agterkom verstand neem ’n mens verder as kragdadigheid.

Goed, hoe spaar jy? Die leser wou weet van ’n polis. Hy het nou R50 000. Vir die eerste kleinkind. Maar daar is nog een.

Liewer nie ’n polis nie. Die kommissie is te veel. Die administratiewe tarief ook. En in baie gevalle is die belasting ook te hoog – veral as jy dit in die kind se naam belê.

Liewer nie ’n polis nie. Die kommissie is te veel. Die administratiewe tarief ook. En in baie gevalle is die belasting ook te hoog – veral as jy dit in die kind se naam belê.

’n Belegging direk in effektetrustfondse is myle beter. Ja, ek weet jy kan die polis in dieselfde fondse belê, maar die koste is gewoonlik minder. En jy kan bydra, ophou bydra of jou inbetalings wysig soos dit jou pas. Daar is nie beperkinge, of in die geval van maandelikse premies, penalisering nie.

Daar is ook die sg. belastingvrye beleggingsopsie. Jy kan R36 000 per jaar vir die kind daarin spaar, met ’n maksimum bedrag oor sy of haar lewe van R500 000. Die groei in die belegging is vry van belasting.

Klink darem fantasties, nè? Maar regtig, vir ’n minderjarige kind wat nie ’n inkomste het nie? Selfs al het hy die volle R500 000 op belegging, wat jou, terloops, 15 jaar se spaar gaan neem, gaan hy meer as 39% groei in daardie jaar moet kry voor hy belastingpligtig raak. As jy nie ’n kontantbedrag nou het nie, spaar dan maandeliks.

En hier moet jy veral ligloop vir polisse. Die kommissie word bereken oor die termyn en jy skuld dit aan die versekeraar nog voordat jy enige groei kry.

Aan al die ander grootouers op die stoep, besluit gerus hoeveel jou boete-begroting jou gaan toelaat. Kontak jou finansiële beplanner/makelaar en laat hy of sy die geld nou al belê. Dit kan oor e-pos gedoen word.

  • Nico van Gijsen, ’n gesertifiseerde finan­siële beplanner en belastingpraktisyn, is besturende direkteur van Finlac en ’n lid van Fisa. Lesers kan navrae aan hom stuur by Raad met jou Rande, Posbus 8422, Johannesburg 2000 of nico@finlac.com; Twitter: @Nicovangijsen.
Meer oor:  Nico Van Gijsen  |  Covid-19  |  Staat Van Inperking  |  Koronavirus  |  Beleggings  |  Inperking
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.