Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Beleggings
Nico van Gijsen: Taks en buitelandse beleggings
Om jou geld oorsee te belê, kan 'n goeie of slegte besluit wees.

Lesers weet ek is nie ’n lid van die koor wat sing “vat al jou geld buiteland toe” nie. Dis ’n vals koor met ’n vals boodskap. Dit maak nie saak hoe hard dit gesing of geskree word nie.

Maar jy hét buitelandse blootstelling nodig. Ek meen so tussen 20% en 30% is sinvol ter wille van risikoverspreiding en afhangend van jou beleggingsdoelwit en vermoëns.

Wat is die belangrikste faktore, beleggingsrisiko eers ter syde, met enige belegging? Ek sal sê opbrengs en belasting. Almal wil ’n opbrengs hê en niemand wil belasting betaal nie. Behalwe dat ons ou vriend Jan Taks nie verniet ook die ontvanger van inkomste genoem word nie. Hy ontvang graag.

Kom ons kyk na die drie opsies om in buitelandse fondse te belê en die uitwerking van belasting op jou groei.

Opsie een sal ons ’n randwaarde-fonds noem. Die fondsbestuurder belê jou geld in die buiteland deur bateruiling. Jy belê in rand en jou geld keer uit in rand.

Opsie twee is ’n direkte belegging in die buiteland. Jou rand word eers omgeskakel in, sê maar, Amerikaanse dollar. Jou belegging is in dollar, die groei is in dollar en jou geld keer uit in dollar.

Opsie drie is dieselfde as opsie twee, maar pleks daarvan dat jy direk in jou eie naam belê, belê jy in ’n “polisbaadjie”, wat sy eie belastinggevolg het. Die belasting word in die polishouersfonds betaal (dit kom van jou belegging af, verstaan tog net dit, want daar word baie gelieg hieroor).

Kom ons gaan belê nou. Ons beleggingsbedrag is R2 miljoen (ter wille van eenvoud neem ons nie beleggingskoste in ag nie). Die groei is in elke geval 5% per jaar en die termyn is vyf jaar, van Oktober 2014 (wisselkoers toe R11/dollar) tot Oktober 2019 (R15/dollar).

Kyk nou na die tabel hierby. Ná vyf jaar en met ’n gelyke opbrengs het ons in opsie een R3 480 768 en in opsies twee en drie elk $232 051. Maar kyk hoe lyk sake ná die belastingberekeninge. Die belasting (kapitaalwinsbelasting) betaalbaar is meer op die randwaarde-fonds as in die direkte buitelandse beleggings. Met die direkte buitelandse belegging is jy ná belasting R130 905 beter daaraan toe (opsie 2) en met die polis (opsie 3) is jy R173 715 ryker.

Nico van Gijsen

Dit is omdat KWB gehef word in die geval van die randwaarde-fonds op die volle wins in randwaarde, terwyl jy met die direkte buitelandse beleggings net op die werklike groei in dollar-waarde KWB betaal. Kortom, daar is ’n belasting-penalisering danksy die wisselkoers-verandering.

Die minder belasting van opsie 3 teenoor opsie 2 is omdat die inkomstebelastingkoers in die polishouersfonds net 30% is teenoor die 45%- (maksimum) marginale koers in die geval van individue.

En as die rand versterk? Wel, dan kan jy selfs ’n belastingverlies ly waarteen jy ander kapitaalwinste kan afskryf. Dit is hoekom ek sê buitelandse beleggings is ’n bykomende risiko wat oorweeg moet word. Dit is nie ’n eenvoudige, allesomvattende antwoord op almal se beleggingsbehoeftes nie.

  • Nico van Gijsen, ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en belastingpraktisyn, is besturende direkteur van Finlac en ’n lid van Fisa. Lesers kan navrae aan hom stuur by Raad met jou Rande, Posbus 8422, Johannesburg 2000 of nico@finlac.com; Twitter: @Nicovangijse

Meer oor:  Nico Van Gijsen  |  Spaar  |  Geldsake  |  Jan Taks  |  Belasting  |  Beleggings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.