Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Beleggings
Nog makelaars moet opdok vir raad oor Sharemax
Die ombud vir finansiëlediensteverskaffers het bevind makelaars moet opdok oor raad verskaf oor Sharemax. Foto: Getty Images

’n Makelaar van Krugersdorp aan die Wes-Rand en een van Henneman in die Vrystaat moet opdok vir die advies wat hulle aan afgetredenes oor beleggings in die eiendomsindikasie van Sharemax gegee het.

Naresh Tulsie, die ombud vir finansiëlediensteverskaffers, het vroeër vandeesmaand twee uitsprake bekend gemaak wat gelewer is op grond van ’n aanbeveling om die klagtes vinnig deur bemiddeling op te los.

Die respondente het glo nie op die aanbeveling reageer nie.

In die een uitspraak het Tulsie bepaal die afgetrede Delores Kies se R500 000 wat in Highveld Syndication 22 en haar R200 000 wat in Zambezi Retail belê is, moet deur haar makelaar aan haar terugbetaal word.

Highveld Syndication is ’n eiendomsindikasie wat ook probleme ondervind het en Zambezi Retail was deel van die Sharemax-eiendomsindikasiegroep.

Kies se adviseur was DFF Property and Investments wat as Bergsma & Van Heerden Brokers handel dryf. DFF is ’n gemagtigde verskaffer van finansiëledienste van Krugersdorp. Sy lisensie is in 2007 toegeken. Die tweede respondent is Hendrik Lodewyk Erwee, wat die sleutel-individu van DFF is.

Tulsie het in sy uitspraak gesê die respondente was gelisensieer om finansiële advies oor aandeelbeleggings te gee, maar nie om advies oor skuldbriewe en gesekureerde skuld te gee nie.

“Dit beteken die respondent was nooit voldoende gelisensieer om finansiële dienste te lewer met betrekking tot die Zambezi Retail Beperk-sindikasie nie.”

Die respondente moet ook rente van 10% per jaar betaal vanaf die datum van die uitspraak tot die finale terugbetaling.

In nog ’n uitspraak het die ombud bevind Johannes Frederick Kruger, ’n pensioentrekker, se R70 000 moet terugbetaal word wat hy in die The Villa-sindikasie verloor het. Rente beloop ook 10% van die dag van die uitspraak af.

Die respondent is Ernest Lehanie (voorheen bekend as Ernest Venter), wat die alleeneienaar van Ernest Venter Makelaars was. Lehanie word as ’n gemagtigde finansiëlediensteverskaffer van Henneman beskryf. Sy lisensie was geldig van 2004 af en het in November 2015 verstryk.

Hy was ook geregistreer om advies oor ongenoteerde aandele te lewer, maar nie oor skuldbriewe en gesekureerde skuld nie. “Dit beteken die respondent was nooit voldoende gelisensieer om finansiële dienste oor The Villa te verskaf nie,” lui Tulsie se uitspraak.

Netwerk24 het voorheen berig Sharemax is in 2011 in sakeredding geplaas en sowat 33 000 beleggers het meer as R4 miljard in dié eiendomsmaatskappy belê.

In Desember 2018 het die appèlhof in Bloemfontein ’n rigtinggewende uitspraak gegee teen ’n versekeringsmaatskappy, Centriq Insurance, wat ’n makelaar van Sharemax teen persoonlike aanspreeklikheid verseker het.

Lees oor Marisa Oosthuizen se hofsaak: Weduwee wag byna 9 jaar vir erfgeld wat wanbelê is

Centriq het appèl aangeteken teen ’n uitspraak in die hooggeregshof in Bloemfontein van September 2017 dat hy moet opdok vir die eis wat Marisa Oosthuizen teen die makelaar José Castro ingestel het.

Die hooggeregshof het in 2017 beveel Castro moet Oosthuizen haar kapitaal van R2 miljoen terugbetaal, plus rente van R718 600. Centriq was die derde party in die saak wat versekering teen persoonlike aanspreeklikheid aan Castro verskaf het. Die regter het toe beveel dat Centriq vir Castro se aanspreeklikheid moet opdok.

In Februarie vanjaar het die hooggeregshof in Bloemfontein ook gelas ’n makelaar van Welkom moet ’n vrou se spaargeld aan haar terugbetaal wat in die mislukte Sharemax-beleggingskema belê is.

Lees ook: Makelaar moet geld terugbetaal ná Sharemax-verlies

In nog ’n uitspraak in Desember 2018 het die hooggeregshof in Pietermaritzburg bevind die makelaar Rob Roy Investments, wat as Assetsure handel dryf, kan nie aanspreeklik gehou word vir die Symons-familietrust se verlies van R5 miljoen in Sharemax nie.

Rob Roy Investments se alleeneienaar was Peter Griffin wat geregistreer was as ’n finansiëlediensteverskaffer, en het in 2006 Symons se adviseur geword.

Die regter het bevind die bewyse in die Symons-saak verskil drasties van Oosthuizen s’n. “Symons was ’n slim, ryk persoon wat amper twee weke geneem het om ’n besluit te neem nadat hy met Griffin ontmoet en die prospektus en ander dokumente oor die belegging gekry het.

“Hy het die risiko’s verstaan en het die belegging met oop oë gedoen,” het regter Ploos van Amstel in sy uitspraak gesê.

Van Amstel het gesê Griffin het sy boekhouer en nakomingsbeampte oor die belegging gekonsulteer; het aanbiedings bygewoon daaroor en selfs ’n toets daaroor afgelê.

Symons het middel 2009 R2 miljoen belê en daarna in November nog R1 miljoen. Hy het gereeld rentebetalings op die twee beleggings ontvang. In Julie 2010, toe hy nog R2 miljoen belê het, het hy geen rente gekry nie en die maandelikse betalings van sy eerste twee beleggings het ook gestop.

Nadat Griffin navraag aan Sharemax gerig het, is hy vertel die Reserwebank het ’n probleem met die skema. Dit het later geblyk die Reserwebank het ingegryp omdat hy die finansieringsmodel beskou het as die onwettige neem van deposito’s van die publiek, en het Sharemax opdrag gegee om sy finansieringsmodel te verander. Sharemax kon dit nie doen nie en omdat hy nie verdere geld kon insamel nie, het die skema ineengestort.

Van Amstel het bevind die eisers kon nie toon Griffin is aanspreeklik vir hul verlies nie en dat hy nie kon voorsien dat die Reserwebank sou ingryp by die skema nie.

Meer oor:  Sharemax  |  Beleggings  |  Makelaar  |  Eiendomsbeleggings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 2417,42 (6258)
  • Top 40 48865,06 (-69430)
  • All Share 54876,82 (-74598)
  • Resource 10 43434,32 (-38670)
  • Financial and Industrial 30 73805,91 (-119542)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.