Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Beleggings
Sharemax: Talle beleggers sterf sonder hul geld

Nege jaar ná die eiendomsindikasie Sharemax se ineenstorting, stroom die klagtes van hoofsaaklik pensioenarisse steeds in na die ombud vir finansiële advies- en tussengangerdienste (Fais) oor die geld wat hulle verloor het.

  

Drie uitsprake is vandeesweek deur die Fais-ombud uitgereik oor klagtes wat oor Sharemax ontvang is, so ver terug as 2011. In al drie dié gevalle is ten gunste van die klaers beslis.

Daar is steeds hofsake oor die Sharemax-skandaal van nege jaar gelede. Foto: Getty Images

Volgens Marc Alves, ’n bestuurder van die kantoor van die ombud, is daar tans 1 141 klagtes oor eiendomsindikate wat aktief ondersoek word, waarvan Sharemax verreweg die meeste klagtes teen hom het.

“Die kantoor het dit nou geïdentifiseer as een van sy belangrike doelstellings, en stappe word gedoen om dié lang uitstaande sake so spoedig moontlik af te handel.”

Volgens Alves word talle van die inisiatiewe egter vertraag omdat dit op appèl na die Finansiëledienste-tribunaal geneem word, en wanneer dié tribunaal die beslissings bevestig, word met verdere regsgedinge gedreig.

Hy sê daar is tot op hede oor 109 sake beslis en die waarde van die beleggings wat deur die makelaars terugbetaal moet word, beloop reeds R41 miljoen.

Een van die finansiële adviseurs wat telkemale opduik in die sake, is Deeb Risk van D. Risk Insurance Consultants.

Die adres van Deeb Risk se onderneming is in Edenvale, Johannesburg. Luidens een van die uitsprake wat vandeesweek deur die ombud uitgereik is, is die onderneming reeds vanaf 2004 as ’n finansiëlediensteverskaffer gemagtig, en sy lisensie is steeds aktief.

Sewe beslissings is al teen hom gedoen.

Vandeesweek se drie uitsprake is:

1. Leslie John Raymond Wigmore en Nora Barnath Wigmore teen D. Risk Insurance Consultants en Deeb Risk

Sowel Wigmore as sy vrou is afgetredenes. Die Wigmores beweer die respondent het hulle in 2010 geadviseer om geld uit effektetrustfondse te onttrek en dit in Sharemax te belê.

Hulle het R784 000 belê. Hulle sou ’n inkomste van die belegging ontvang, maar dit het in Augustus dieselfde jaar opgedroog.

Volgens die ombud, Naresh Tulsie, moes hulle al vier jaar gelede hul kapitaal teruggekry het, maar daar is geen aanduiding van wanneer dit gaan gebeur nie.

In die uitspraak oor die klagte het Tulsie gesê: “Die respondent se nalatigheid lê daarin dat hy ’n produk aanbeveel het wat hy nie verstaan het nie en dat dit nie ooreengestem het met die klaers se behoeftes nie.

“Ongeag wat Sharemax se prestasie van die verlede was en die entoesiastiese resensies wat in daardie stadium deur baie finansiëlediensteverskaffers daaroor gegee is, is die gevare inherent aan dié produk steeds duidelik.

“Dat beleggers die gevaar loop om hul belegging te verloor, was ’n feit toe die respondent die klaers van advies bedien het. Hy het hulle gemaan teen ander beleggings wat nie hul kapitaal kon beskerm nie, maar het dit nie met Sharemax gedoen nie, skynbaar omdat hy die risiko as so laag beskou het dat hy nie gedink het dat daar enige werklike gevare is nie.

“Die waarskuwings in die prospektus moes hom egter ingelig het dat dit ’n werklikheid is, en moes hom daarvan weerhou het om dit aan te beveel.”

2. Alfred Christopher Collins in sy hoedanigheid as die eksekuteur van wyle Andries Petrus Johannes Diques Collins en Anna Cathrina Collins se boedel, teen Accredinet Financial Solutions en André van den Berg

Die kantoor is in Januarie 2011 vir bystand genader nadat in Sharemax belê is op Van den Berg se advies en die klaers geen inkomste op hul belegging ontvang het nie.

Hulle het R780 000 in The Villa Retail Park belê.

Hulle was onderskeidelik 71 en 68 jaar oud toe hule in The Villa belê het. Collins en sy vrou is onderskeidelik in April 2015 en November 2014 dood.

Accredinet se adres is in The Boardwalk in Faerie Glen, Pretoria, en ook sý lisensie, wat hy in 2004 gekry is, is steeds aktief.

Die respondent kon geen bewyse lewer dat hy sy plig nagekom het om hulle in te lig oor die gevare van The Villa nie. Daar is geen bewys van die respondent dat hy dit in eenvoudige taal aan hulle verduidelik het nie, luidens Tulsie se uitspraak. Hy meen die gevare was duidelik ingevolge die prospektus. Tulsie meen dis ’n hoogs tegniese dokument.

Die respondent het aangevoer geen besluit kan teen hom geneem word vir vergoeding voordat daar nie bepaal is dat The Villa misluk het nie.

“Dit is nou ’n feit dat The Villa misluk het. ’n Art. 311-skema van kompromie is aangegaan, maar het geen resultate gelewer nie. Daar is absoluut geen vooruitsig dat die klaer enige geld gaan terugkry nie,” sê Tulsie.

3. Cheryl Ann Phillips teen Seed Benefit Consulting en Lidia da Silva Derrica Nunes

Die klaer het Januarie 2012 die ombud vir bystand genader nadat sy in Sharemax belê het op advies van die respondent en sy nie ’n inkomste ontvang het nie en nie haar kapitaal kon onttrek nie.

Sy het R200 000 belê.

Seed Benefit Consulting is van Loevenstein in Bellville, Kaapstad.

Phillips het nog gewerk en het ’n belegging nodig gehad wat by haar behoeftes sou pas wanneer sy aftree.

Toe Phillips onraad begin vermoed het, het Nunes haar verseker die mediaberigte is oordrewe omdat sy al vir jare met Sharemax werk en alles in orde is daar.

Phillips was 62 toe sy belê het.

Sy het ’n leefstyl-vraelys ingevul en aangedui sy vereis kapitaalgroei om vir haar aftrede voorsiening te maak.

Geen bewys is verskaf dat Nunes vir Phillips in eenvoudige taal die gevare van die belegging verduidelik het nie.

Volgens Nunes het Sharemax ’n lisensie by die Raad op Finansiële Dienste (RFD) gehad en was geregistreer by die registrateur van maatskappye, en beleggers het vir jare lank hul beloofde inkomste gekry.

Tulsie sê as die prospektus deeglik gelees word, word gesien The Villa is nie soos ander Sharemax-produkte nie. Die ander beleggings het gehandel oor bestaande eiendomme wat reeds ’n inkomste skep, maar The Villa het nie enige eiendom besit of enige inkomste gekry nie.

Hoeveel is al terugbetaal?

Hoeveel van die beleggers deur hul finansiële adviseurs terugbetaal is vir die slegte advies wat hulle ontvang het, is onseker, want nadat die beslissing deur die Fais-ombud gegee is, het hy geen verdere jurisdiksie daaroor nie.

Die beslissings wat deur die kantoor uitgereik word, het dieselfde krag as ’n uitspraak in ’n siviele saak, het Alves verduidelik.

Sodra dit uitgereik is, het die respondent 30 dae om die klaer te betaal of om te appelleer.

Indien ’n respondent nie betaal het nie, of as daar geappelleer is by die Finansiëledienste-tribunaal, word die klagte by die relevante hof geregistreer en ’n saaknommer word aan die klaer verskaf.

“Dit gee aan die klaer die kans om lasbrief te bekom vir ’n balju van die hof om die geld in te vorder.”

Nunes het geen bewyse verskaf dat sy dié belangrike verskil aan Phillips verduidelik het nie.

Phillips het aangevoer haar beroepsversekering van R5 miljoen gaan nie genoeg wees as die klagte slaag en ander ook terugbetaal moet word nie, en dat sy finansieel geruïneer sal word.

Ook in die uitspraak sê Tulsie The Villa het nou misluk omdat die art. 311-kompromie wat tussen beleggers en die maatskappy gesluit is, geen resultate opgelewer het nie.

Ook Nunes moet die geld terugbetaal.

Tulsie vind die respondent het nie ingevolge die gedragskode van finansiële adviseurs opgetree nie. “Die kode bepaal ’n verskaffer moet te alle tye finansiële dienste op ’n eerlike, billike wyse en met die gepaste vaardigheid, sorg en noulettendheid en in belang van die kliënt en ingevolge die integriteit van die finansiëledienstebedryf optree.

“Die respondent het versuim om bewyse te lewer ter ondersteuning van hoekom dié belegging as geskik geag is vir die behoeftes van die klaer en dat advies verskaf is het soos deur die kode vereis word. Die respondent moet aanspreeklik gehou word om die bedrag van R200 000 aan die klaer te betaal.”

Meer oor:  Sharemax  |  Eiendom
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 2579,48 (5818)
  • Top 40 48247,95 (-18709)
  • All Share 53995,82 (-19210)
  • Resource 10 42465,54 (-4274)
  • Financial and Industrial 30 73008,97 (-35550)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.