Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Beleggings
Nou is nié die tyd om aandele te verkoop

Die JSE se indeks van alle aandele wat tot dusver vanjaar reeds sowat 31% van sy waarde verloor het te midde van vrese oor Covid-19 en ’n wêreldresessie, het plaaslike beleggers angstig oor hul aftreegeld.

’n Verlate straat in Rome, wat ’n staat van inperking beleef. Foto: Reuters

Maar paniekverkope is allermins nou die antwoord – net soos paniekaankope van verbruikersgoedere soos toiletpapier en handreinigers nie die oplossing is nie, sê adviseurs.

Maarten Ackerman, hoofekonoom van Citadel, sê die geskiedenis wys in wisselvallige tye soos dié moet jou emosies nie die oorhand kry oor jou langtermynbeleggingstrategie nie.

Moenie die verkeerde ding op die verkeerde tyd doen nie.

As jy nie jou geld in die volgende jaar of so nodig het nie, sal dit onwys wees om aandele te verkoop wanneer aandelemarkte met tot 30% gedaal het. Dan realiseer jy daardie verliese en skakel die moontlikheid uit om te deel in die herstel, sê Ackerman.

Navorsing deur Old Mutual Investment Group (OMIG) Macrosolutions, wys watter negatiewe uitwerking paniekverkope op jou belegging kan hê.

As jy tussen Junie 1997 en Desember 2018 R100 se belegging op die JSE se indeks van alle aandele gehad het, sou jy ’n opbrengs van sowat 17% gehad het as jy vir die volle tyd belê was.

Sou jy net die beste 10 dae op die mark in dié tydperk misloop, sou jou opbrengs tot 12,6% daal.

Swaarste getref

Onder die aandele op die JSE wat die swaarste getref is, tel

  • Sasol (-88% sedert begin vanjaar),
  • Redefine (-64%),
  • Anglo American Platinum (-64%),
  • Impala Platinum (-60%), en
  • MTN (-53%).

Bankaandele het ook deur die bank slae gekry, het Simon Brown van JustOneLap aan Business Insider gesê.

OMIG sê in tye van korttermynwisselvalligheid verkoop beleggers dikwels bates op die slegste moontlike tyd. Dit gebeur baie gereeld dat die beste dae op die JSE kom ná slegte nuus of gedurende onsekerheid.

Wynand Gouws, welvaartbestuurder by Gradidge Mahura Investments, sê die mark kan elke ses jaar ’n ineenstorting of beermark (’n daling van meer as 20% vanaf sy vorige hoogtepunt) verwag.

Volgens hom wys die geskiedenis dat markte herstel ná erge verliese of beermarkte, dat gebalanseerde fondse aan beleggers beskerming bied teen markregstellings, en dat gebalanseerde fondse wat minder aandele hou aansienlike beskerming bied in onseker tye, maar nie so vinnig inhaal wanneer die herstel kom nie.

Amelia Morgenrood, ’n finansiële beplanner van PSG Wealth Faerie Glen, stem saam beleggers moenie nou oorhaastig optree en verliese realiseer deur nou te verkoop nie. Wees geduldig.

Só val, herstel beurs

In 2008 met die wêreldwye finansiële krisis het die Suid-Afrikaanse aandelemark met meer as 30% gedaal, maar in 2009 het die mark meer as 20% teruggewen. In 2010, 2012 en 2013 het aandele dubbelsyfer-opbrengste gelewer, sê Gouws.

In die meeste gevalle van markregstellings het die Suid-Afrikaanse aandelebeurs binne 18 tot 30 maande tot vorige hoogtepunte herstel.

Voornemende beleggers kan nou die meeste aandele koop teen 2013-pryse en minstens 30% goedkoper as ’n maand gelede. Dié geleenthede kom nie gereeld nie, sê Morgenrood.

Sy sê sedert die ineenstorting van die olieprys twee weke gelede en die gepaardgaande ineenstorting van Sasol se aandeelprys, is daar skielik ’n spekulasie-lus onder Suid-Afrikaners nadat kleinhandelbeleggers se belangstelling in direkte aandele die laaste twee jaar weens verskeie redes heeltemal opgedroog het.

“Aandelemakelaars het ongekende belangstelling van oud en jonk ervaar wat navraag gedoen het om moontlik Sasol-aandele te koop.”

Sy sê dit is nie net die prys van ’n aandeel wat belangrik is nie, maar ook sy balansstaat en vooruitsigte. Indien die olieprys lank so laag bly (Vrydag $30 per vat) sal dit vir Sasol moeilik wees om winsgewend sake te doen. “Hul geweldige skuldlas sal moeilik wees om te delg as daar nie winste is nie.”

Haar raad is dat as jy aandele wil koop, jy minstens die helfte nou bestee en dalk ’n maand of twee wag om te sien wat gebeur.

“Aandele bly ’n langtermynbelegging. As jy aandele koop, moet dit vir tien jaar of langer wees. Aandeelpryse kan vir lang tye ondergewaardeer bly en onvoorsiene faktore kan intree. Dan moet jy tyd hê om dit deur te sien en die vrugte op lang termyn te pluk.”

Bank- en finansiële aandele wat nou spotgoedkoop is, is Standard Bank, Nedbank en FirstRand.

Wat winkels en kos betref, kyk na Shoprite, Spar en AVI, en vir eiendom na Resilient, Fortress A en Redefine.

Ander aandele wat die oog vang, is Naspers, Prosus, British American Tobacco, Reinet, ABInbev, MultiChoice en AECI.

Dan is daar verskeie kleiner maatskappye, sogenaamde SA inc-aandele wat interessant lyk. Kleiner maatskappye het gewoonlik meer risiko en likiditeit is soms ’n probleem. ’n Paar wat dalk ondersoek kan word, is African Rainbow Capital, Metair, Transaction Capital, Afrimat, Hudaco, Equites en Storage.

Ackerman sê die groot voordeel in Suid-Afrika is dat bates wat vaste inkomste lewer, stewige opbrengste in reële terme lewer.

Dít is tans meer as 4,5% gegewe dat die opbrengs op staatseffekte in die omgewing van 9% is, terwyl inflasie sowat 4,5% is. Dit is veral handig as jy ’n aftreeproduk het waar jy nie belasting op rente betaal nie en dit is dus die veiligste skuilplek op die oomblik, sê hy.

Meer oor:  Koronavirus  |  Jse  |  Beleggings  |  Covid-19  |  Aandele
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.