Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Beleggings
Nuwe bitcoin-skema: Miljarde in Africrypt ‘verdwyn’

Suid-Afrika se finansiële reguleerder sê sy hande is gebind om na bewering die grootste bitcoin-bedrogspul tot dusver aan die kaak te stel.

Suid-Afrika se finansiële reguleerder se hande is vas oor kripto-diefstal. Foto: Unsplash

Nagenoeg 69 000 bitcoin, wat vandag R32,6 miljard werd sou wees, is na bewering deur die platform Africrypt verduister. Op die hoogtepunt van bitcoin se prys vanjaar, in April, was die bitcoin R63,7 miljard werd.

Die twee broers aan die stuur van Africrypt, Ameer en Raees Cajee, het intussen ook spoorloos verdwyn. Daar word vermoed dat hulle in Brittanje is.

Suid-Afrika het wel ’n uitleweringsooreenkoms met Brittanje.

’n Kaapse regsfirma, Hanekom Attorneys, het ’n saak by die Valke aanhangig gemaak namens ’n handvol beleggers wat elk minstens R1 miljoen belê het.

Die bitcoin het na bewering in April binne ure verdwyn uit ’n aanlyn “beursies” wat deur die broers beheer is. Hulle het aan beleggers gesê hulle was die slagoffers van kuberkrakers, maar dat beleggers nie polisie toe moes gaan nie.

Die bitcoin wat in Africrypt verdwyn het, is drie keer die nagenoeg 23 000 digitale munte, tans ter waarde van sowat R10,9 miljard, wat in Mirror Trading International (MTI) verdwyn het. MTI is deur Chainanalysis as die grootste bitcoin-bedrogspul van 2020 beskryf.

Johann Steynberg, die beweerde baasbrein van MTI, het na Brasilië gevlug.

LEES OOK: MTI se Steynberg is die ‘fall guy’, meen sy vrou

Die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor (FSCA) het dié week gesê hy is magteloos om die bitcoin van Africrypt te probeer herwin.

Hoewel dit voorkom of dit ’n Ponzi-skema was, kan die FSCA nie self ingryp nie omdat “kriptobates nie gereguleer word ingevolge enige wet in die finansiële sektor in Suid-Afrika nie”.

“Die entiteit het buitengewoon hoë en onrealistiese opbrengste aangebied, soos dié van onwettige beleggingskemas wat algemeen bekend staan as Ponzi’s,” het die FSCA Donderdag in ’n verklaring gesê.

“Die publiek word gemaan om te begryp dat ’n onrealisties hoë opbrengs daarop dui dat ’n beleggingskema waarskynlik bedrieglik is.”

Riglyne vir die regulering van kriptogeld wat dié situasie kan verander, is middel Junie gepubliseer. Dit maak daarvoor voorsiening dat kriptogeld tot ’n finansiële bate verklaar word en dat finansiële advies om daarin te belê, gereguleer word.

LEES OOK: Só wil staat kripto-skelms nou vasvat

Africrypt is in 2019 van stapel gestuur en vanuit Johannesburg deur die Cajee-broers bedryf.

Hulle het ’n minimum opbrengs van vyf keer die belegging beloof, volgens ’n polisieverklaring deur een belegger wat deur Bloomberg gesien is. Uiteindelik het hy byna R1,8 miljoen belê, lui die verklaring.

Oproepe na die broers se selfone is onmiddellik na ’n stemposdiens herlei, volgens Bloomberg. Die maatskappy se webwerf is van lyn af.

Moneyweb berig dit lyk asof die Cajees dalk lede van ’n internasionale sindikaat was en dat die bitcoin wat verdwyn het, nie net aan Suid-Afrikaners behoort het nie.

Dit word as vreemd beskou dat beleggers gevra is om ’n ooreenkoms met ’n Hongkongse firma, RaeCreate Wealth, te onderteken wat die maatskappy vrywaar in die geval van verliese – insluitend verliese deur kuberaanvalle.

Meer oor:  Africrypt  |  Ameer Cajee  |  Raees Cajee  |  Bedrog  |  Kriptogeld  |  Bitcoin  |  Ponzi-Skema  |  Piramideskema
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.