Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Beleggings
Reëls oor meer buitelandse blootstelling gestop

Nuwe reëls wat die Reserwebank ná die onlangse mediumtermynbegroting uitgereik het wat beleggers groter blootstelling sou gee aan buitelandse beleggings, is teruggetrek.

nasionale tesourie
Tito Mboweni, minister van finansies, het in sy mediumtermynbegrotingsrede aangekondig “verdere stappe word gedoen om sake oor grense heen te vergemaklik”, insluitende inwaartse noterings. Hy het aangekondig daar is ver gevorder met werk om kapitaalvloei oor grense heen te moderniseer. Foto: Jaco Marais

Die valutabeheer-omsendbrief 15 van 2020 wat handel oor die herklassifikasie van inwaartse genoteerde instrumente en buitelandse beursverhandelde fondse (ETF’s) is op 29 Oktober deur die Reserwebank uitgereik.

Die nasionale tesourie, die Reserwebank en die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor (FSCA) het Dinsdag in ’n gesamentlike verklaring gesê die omsendbrief word onmiddellik opgeskort vir openbare konsultasie.

Dit volg op talle navrae vanuit die finansiële sektor oor verskillende interpretasies oor hoe die omsendbrief die perke op buitelandse beleggings van aftreefondse, kollektiewebeleggingskemas en versekeraars beïnvloed.

Die omsendbrief is uitgereik nadat Tito Mboweni, minister van finansies, in sy mediumtermynbegrotingsrede aangekondig het “verdere stappe word gedoen om sake oor grense heen te vergemaklik”, insluitende inwaartse noterings. Hy het aangekondig daar is ver gevorder met werk om kapitaalvloei oor grense heen te moderniseer.

Die nasionale tesourie sê die aankondiging was bedoel om ’n omgewing te skep wat dit “makliker maak vir buitelandse beleggers om in Suid-Afrika te belê en by te dra tot die land se groei as ’n belegging- en finansiële sentrum vir Afrika”.

“Die nasionale tesourie wil beklemtoon dat die hervorming aan die kapitaalvloeibestuur nie bedoel is om die kapitaalvereistes wat van toepassing is op gereguleerde fondse, insluitende aftreefondse, kollektiewebeleggingskemas en versekeringsfondse, te wysig nie.

“Die omsendbrief word dus met onmiddellike ingang opgeskort om enige ruimte vir dubbelsinnigheid daaroor te verminder.”

’n Gewysigde omsendbrief sal uitgereik word vir openbare konsultasie.

Alle goedkeuring wat ingevolge die omsendbrief reeds gegee is, word ook opgeskort.

Die publiek is uitgenooi om teen 15 Desember kommentaar te lewer oor hoe die omsendbrief gewysig kan word. Insae is ook gevra oor afgeleide instrumente en ETF’s waar die onderliggende buitelandse bate deur ’n maatskappy uitgereik word wat nie op die plaaslike aandeelmark genoteer is nie.

Sygnia
Magda Wierzycka, uitvoerende hoof van Sygna Asset Management.

Die omsendbrief is vandeesweek deur Magda Wierzycka, uitvoerende hoof van die batebestuurder Sygnia, verwelkom. Sy het in ’n verklaring gesê die omsendbrief waarin beursverhandelde fondse wat buitelandse bates hou, as binnelandse bates geherklassifiseer word, het almal verbaas.

“Dit is ’n baie slim skuif. Dit is ’n effense verslapping van valutabeheer wat Suid-Afrikaanse beleggers en die ekonomie ’n broodnodige hupstoot sal gee terwyl die algehele perke op hoeveel Suid-Afrikaners fisiek uit die land kan neem, behou word.”

Sy het gemeen die nuwe reëls sal goed wees vir beleggers en vir die ekonomie.

Wierzycka het egter voorspel dat dié plan teenkanting van aktiewe batebestuurders gaan kry.

Helena Conradie, uitvoerende hoof van die beursverhandelde fondsbestuurder Satrix, sê aftreefondse word beperk deur regulasie 28 van die Pensioenfondswet om net 30% in buitelandse bates te belê.

Helena Conradie, uitvoerende hoof van Satrix.

Conradie sê daar is toenemende ontevredenheid onder beleggers oor die swak opbrengste van plaaslike bates oor die afgelope ses jaar tesame met ’n toename in wantroue in die regering se ekonomiese beleid. Sy sê dit het tot gevolg dat al hoe meer beleggers meer van hul spaargeld in oorsese bates wil belê.

Sy meen die herklassifikasie sou beteken beleggers sou 100% van hul aftreegeld in buitelandse beleggings kon belê deur in buitelandse beursverhandelde fondse te belê, wat as binnelandse bates geherklassifiseer word.

Satrix het agt sulke fondse.

Sy het gemaan daar is onsekerheid oor hoe die nuwe klassifikasie deur die FSCA in regulasie 28 aanvaar gaan word.

“Dit sal ’n groot wens van baie Suid-Afrikaners wees wat vir aftrede spaar dat die herklassifisering ook op regulasie 28 van toepassing is.

“Dit is geen geheim nie dat baie Suid-Afrikaners dit oorweeg om hul aftreegeld vroegtydig te laat uitbetaal met die hoofdoel om die oorsese blootstelling te verhoog.”

Meer oor:  Sygnia  |  Fsca  |  Satrix  |  Magda Wierzycka  |  Tesourie  |  Batebestuurders  |  Pensioenfonds  |  Buitelandse Beleggings  |  Aftrede
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.