Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Beleggings
OBK-plan met Eskom-effekte gekap
Dr. Reuel Khoza, voorsitter van die Openbare Beleggingskorporasie.

Die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) het nog nie amptelik gereageer op dr. Reuel Khoza, voorsitter van die OBK, se opmerkings dat die OBK van sy Eskom-effekte in Eskom-aandele wil omskakel nie.

Hoewel die idee nie nuut is nie, het Khoza in ’n televisieonderhoud met die nuusdiens eNCA Donderdag gesê die OBK het ’n voorstel ingedien om van sy Eskom-effekte in ekwiteit om te skakel, wat Eskom met sy skuldlas kan help en sy rentebetalings op dié effekte met die helfte kan sny.

Khoza behoort sy opmerkings terug te trek of dit te verduidelik, het Geordin Hill-Lewis, DA-woordvoerder oor finansies, in reaksie gesê. Hill-Lewis waarsku so ’n plan kan in stryd wees met die OBK se verpligtinge ingevolge die Wet op die OBK en ingevolge sy beleggingsmandaat van die staatsdienspensioenfonds (GEPF). Die mandaat sluit in dat die OBK volhoubare langtermyn- finansiële opbrengs aan sy kliënte moet lewer.

Adamus Stemmet, woordvoerder van die Vereniging vir die Monitering en Voorspraak van Staatsdienspensioene (Amagp), glo ook dit sal onwettig wees vir die OBK om so iets te doen.

In die onderhoud met eNCA sê Khoza die Eskom-effekte kos Eskom baie geld aan rentebetalings en as die effekte in ekwiteit omgeskakel word – d.w.s. in ’n aandelebelang pleks van effekte – kan die besteding aan rente gehalveer word. Khoza het wel gesê so ’n transaksie sal aan sekere beleggingskriteria moet voldoen.

Eskom het skuld van meer as R450 miljard en sy verdienste uit kragverkope is minder as wat hy op rente op sy skuld moet bestee. Die vakverbond Cosatu het voorheen al voorgestel dat die staat en die OBK saamwerk om sowat R250 miljard van Eskom se skuld oor te neem. Eskom het verlede week self aangedui dat as sy skuld tot R200 miljard verlaag kan word, hy ’n kontantbalans van R30 miljard het en ’n winsmarge van 35%, wys finansiële modelle dat hy finansieel volhoubaar kan word.

Uit Khoza se onderhoud Donderdag met eNCA asook uit opmerkings wat hy aan die nuusdiens Reuters gemaak het, blyk dit dat as die OBK, die GEPF en ander ontwikkelingsfinansieringsinstellings saamwerk, net minder as R200 miljard se Eskom-effekte betrek kan word by so ’n transaksie om dit in ekwiteit te omskep en sodoende Eskom se balansstaat van sy skuldlas te verlig.

Op sy eie besit die OBK sowat R90 miljard se Eskom-effekte namens die GEPF.

Hill-Lewis dink egter Khoza se opmerkings is onverantwoordelik en skep onsekerheid in die markte en vrees onder staatsdienspensioenarisse.

DA
Geordin Hill-Lewis, DA-woordvoerder oor finansies.

“Die idee om R90 miljard van die OBK se Eskom-effekte in ’n ‘ekwiteitsbelang’ te omskep is net ’n eufemisme om dié skuld af te skryf. Die OBK sal geen hoop hê om die geld terug te kry nie, want die regering kan nie bekostig om die ekwiteit by hulle te koop nie en Eskom maak nie enige geld om die OBK ’n opbrengs op die belegging te betaal nie.”

Dis nie die OBK óf die GEPF se werk om die regering se wanbestuur van staatsondernemings te subsidieer nie, voel Hill-Lewis.

Die nasionale tesourie, wie se amptenare al telkens in die parlement na die OBK se omskepping van Eskom-effekte in ekwiteit as ’n opsie verwys het om Eskom se skuldlas te verlig, wou nie Vrydag kommentaar lewer nie en het navrae na die OBK en die departement van openbare ondernemings verwys.

Volgens die tesourie doen die OBK beleggings in ooreenstemming met die mandate wat hy van sy kliënte het en het hy nie goedkeuring van die staat vir sy beleggingsbedrywighede nodig nie.

Eskom het in reaksie gesê hy is gereeld in gesprek met belanghebbers oor die beste oplossing vir sy balansstaat. "Eskom is van plan om konstruktief met al sy krediteure saam te werk aan 'n plan wat die balansstaat sal verbeter, en om terselfdertyd te voldoen aan die vereistes van leners en ander belanghebbers. Sodra daar 'n meer konkrete ooreenkoms met die verskeie belanghebbers is, sal Eskom die mark toepaslik inlig. Tot dan sal dit onvanpas wees om op opmerkings te reageer.

Meer oor:  Staatsondernemings  |  Openbare Beleggingskorporasie  |  Gepf  |  Obk  |  Eskom  |  Pensioene
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.