Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Beleggings
OBK se geldhoof nog langer met betaalde verlof
Matshepo More, finansiële hoof van die Openbare Beleggingskorporasie, is nou nog langer met betaalde verlof, al is sy in ’n tugverhoor onskuldig bevind.

Die finansiële hoof van die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) is onskuldig bevind aan die twee klagte waarvoor sy aan ’n tugverhoor onderwerp is.

Maar sy gaan steeds met betaalde verlof bly omdat sy betrek word by bewerings in die Mpati-verslag. Dit beteken die OBK betaal haar minstens R574 654 per maand, gegrond op haar basiese salaris van R6,895 miljoen soos aangeteken in die OBK-jaarverslag vir 2019.

Matshepo More is daarvan beskuldig dat sy ’n skikkingsmemo oor die OBK se beleggingstransaksie in Ayo Tecnhologies onderteken het nog voordat die OBK se portefeuljebestuurskomitee die transaksie kon goedkeur.

Sy is ook daarvan beskuldig dat sy nagelaat het om die OBK se belange te dien deur nie aan die komitee te sê dat die skikkingsmemo reeds onderteken is nie.

Die OBK bestuur namens die staatspensioenfonds byna R2 000 miljard se aftreegeld namens duisende staatsamptenare.

Adv. Kennedy Tsatsawane het luidens ’n verklaring van die OBK More onskuldig bevind op albei klagte teen haar.

More is op betaalde verlof, maar die OBK-direksie het besluit om haar steeds op betaalde verlof te hou, ondanks die uitslag van die tugverhoor. Dit is omdat sy ook by bewerings betrek word wat in die Mpati-kommissie se verslag oor die OBK genoem word.

Die Mpati-kommissie het verlede jaar ondersoek gedoen na bewerings van omstrede beleggings van die OBK, insluitende die belegging in Ayo, wat deel is van die sakeman dr. Iqbal Survé se Sekunjalo-groep.

Die OBK-direksie het intussen aangekondig hulle het regter Yvonne Mokgoro aangestel as hoof van ’n paneel kundiges om die OBK advies te gee oor hoe om die aanbevelings in die Mpati-verslag tot uitvoering te bring.

More sal op betaalde verlof bly totdat al die aanbevelings van die Mpati-kommissie “gefinaliseer is”, lui die OBK se verklaring.

More is in Maart verlede jaar geskors, en het dus nou al vir 14 maande by die huis gesit maar ’n vergoeding van meer as R8 miljoen ontvang, gegrond op haar 2019-salaris. Dit sluit kort- en langtermyn-aansporingsbetalings en ander byvoordele van meer as R3,7 miljoen uit wat sy ontvang het as deel van haar totale vergoedingspakket, soos blyk uit die OBK se 2019-jaarverslag.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.