Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Beleggings
OBK: Werkers kla oor ongenoteerde beleggings

Senior werknemers by die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) se Isibaya-fonds beskuldig die OBK se bestuur dat hy ’n “bestaanskrisis” veroorsaak weens die reeks beleggingskandale van die afgelope paar jaar.

Die OBK se hoofkantoor in Menlyn Maine, Pretoria. Foto: Elvira Wood

Die OBK is die grootste enkele fondsbestuurder in Afrika met bates van byna R2 000 miljard. Die Isibaya-fonds is sy afdeling wat ongenoteerde bates bestuur.

Die OBK se grootste kliënt is die staatspensioenfonds (GEPF).

Die personeel by die Isibaya-fonds het ’n lys van klagtes gestuur waarin hulle onder meer hul kommer uitspreek dat ’n mandaat om bates vir die GEPF te bestuur nie hernuwe is nie. Daar is ook klagtes oor algemene swak bestuur, blyk uit die brief van nege bladsye wat aan die OBK se beleggingskomitee gestuur is en wat Bloomberg onder oë gehad het.

Die OBK laat toe dat ’n ooreenkoms van 2016 wat hy met die GEPF het tot ’n einde kom, waarsku die skrywers van die brief gedateer 7 Mei. Die OBK het bevestig dat die brief ontvang is.

“ ’n Versuim van hierdie omvang en die ernstige gevolge daarvan, wat die OBK in ’n netelige posisie plaas, sal gewoonlik verantwoordbaarheid vereis,” lui die Isibaya-werkers se brief. “Ons is nie bewus van enige stappe wat gedoen is teen die verantwoordelike persoon vir dié kwessie nie.”

As die OBK beleggings in ongenoteerde bates sou staak, sal dit sy doelwit belemmer om ’n ontwikkelingsrol te speel in die bevordering van swartbeheerde ondernemings in Suid-Afrika en om in projekte met ’n maatskaplike impak te belê, meen die groep werknemers.

Dit kom ook te midde van die OBK se stryd om te herstel van die Mpati-kommissie se ondersoek, wat gevind het die bestuur het oor jare heen interne prosedures verontagsaam en twyfelagtige beleggingsbesluite geneem.

Die Isibaya-fonds hou maar net 4,3% van die OBK se totale bates onder bestuur en sluit nie ongenoteerde eiendom in nie. Die span van sowat 100 werknemers sal nie nuwe beleggings kan doen of kan voortgaan met bestaande beleggings totdat ’n nuwe ooreenkoms met die GEPF aangegaan is nie, het ’n persoon gesê wat bekend is met die situasie, maar wat anoniem wou bly.

Ingevolge die OBK se riglyne kan hy tot soveel as 20% van sy bates aan ongenoteerde beleggings toeken, het die persoon gesê.

In antwoord op vrae het die OBK laat weet die kwessie word intern hanteer. Die GEPF se reaksie op navrae was dat hy nie bedryfsake tussen hom en die OBK in die openbaar bespreek nie.

Die Isibaya-span eis ook ’n vergadering met die beleggingskomitee om hul klagtes oor die afdeling se waarnemende hoof, Lusanda Kali, te bespreek. Volgens hulle het Kali binne drie dae van haar aanstelling op 27 Maart met ’n herstrukturering van die afdeling begin. Dit het ingesluit dat die indiensnemingskontrakte van sommige personeel oortree is. Hulle beskuldig haar daarvan dat sy die span op ’n “onderdrukkende, antagonistiese en wraaksugtige” manier bestuur.

Volgens hulle het belangrike personeel bedank, ander het siekverlof geneem en nog ander wil padgee weens haar bestuurstyl.

Oproepe deur Bloomberg na die OBK met versoeke om met Kali te praat is nie beantwoord nie. Die Isibaya-fonds is in 1995 gestig om in kommersieel lewensvatbare projekte in Afrika te belê wat ’n “sterk, positiewe ontwikkelingsimpak en transformasie” ten doel het. Dit wissel van hernieubare energie tot gesondheidsorg, lui die OBK se webblad. – Bloomberg

Meer oor:  Obk  |  Staatsdiens  |  Mpati-Kommissie  |  Staatsamptenare  |  Vakbonde  |  Gepf  |  Pensioenfondse
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.