Die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor (FSCA) het sy ondersoek oor Mirror Trading International (MTI) afgehandel en gaan nou die boetes en strawwe teen die individue en ondernemings betrokke oorweeg.

Mirror Trading word beskryf as ’n enorme piramideskema wat met behulp van kriptogeld soos bitcoin gepleeg is. Tot R8 miljard is glo verdoesel.
Pixabay
Die FSCA het ook ’n strafregtelike saak by die handelstak van die polisie in Stellenbosch teen MTI aanhangig gemaak en sal die nasionale vervolgingsgesag bystaan met sy vervolging.
“Die owerheid werk ook met buitelandse wetstoepassers saam om te verseker dat MTI se onwettighede nie in ander lande voortgesit word nie.”
Tot R8 miljard het glo by MTI verdwyn.
Die verslag is nie openbaar gemaak nie en is geslote vir die publiek. Die verslag gaan aan die likwidateurs verskaf word wat deur die meester van die hooggeregshof aangestel is.
“Die FSCA verstaan dat die likwidateurs van mening is dat die fondse of bates wat deur sekere lede van die publiek ontvang is ingevolge hul belegging met MIT, onwettig kan wees.

Johann Steynberg, hoof van Mirror Trading International (MTI). Foto: Facebook
“Die likwidateurs beoog om dié geld en bates van hierdie beleggers terug te kry. Dit is ’n stap wat die FSCA ondersteun. Geaffekteerde beleggers moet die likwidateurs in hierdie verband kontak.”
Die FSCA sê enigiemand wat ’n eis wil instel of inligting het wat van waarde kan wees, moet ook die likwidateurs kontak.
Die FSCA sê hy sal die likwidateurs bystaan in hul taak om die likwidasie af te handel en met die verspreidings wat aan eisers gedoen moet word.
Die likwidateurs sal op hul webtuistes inligting aan die publiek kommunikeer en eisvorms sal in die komende dae beskikbaar is.
Die likwidateurs is Adriaan Willem van Rooyen (Investrust Insolvency Practitioners), Herman Bester (Tygerberg Trustees), Jacolien Frieda Barnard en Deidre Basson (Tswhwane Trust Co).
Die webtuistes waar inligting gedeel sal word aan die publiek is www.tygerbergtrustees.co.za en www.investrust.co.za.