Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Beleggings
Onrus oor wat Steinhoff nié sê
Steinhoff se hoofkantoor in Stellenbosch. Foto: Getty Images

Steinhoff se aandeelprys het Vrydag opgeflikker nadat die maatskappy laat Donderdagmiddag ’n omvattende verklaring uitgereik het. Ontleders waarsku egter daar moet steeds met groot omsigtigheid met dié aandeel gehandel word.

Dit is wat nié in die verklaring staan nie, wat onrusbarend is, sê Francois du Plessis, besturende direkteur van Vega Batebestuur. Daaronder tel dat Steinhoff nog geen aanduiding gegee het van wanneer sy finansiële resultate bekend gemaak gaan word nie.

Wayne McCurrie, ’n ontleder van Ashburton Investments, sê fondsbestuurders wil drie dinge weet en net een van die drie vrae is in die verklaring beantwoord.

  • Eerstens wil hulle weet wat die omvang van die rekeningkundige onreëlmatighede of moontlike bedrog is.
  • Tweedens wil hulle ’n aanduiding hê van hoe groot die gevolglike boetes en eise weens groepsgedinge kan wees.
  • Derdens wil hulle weet of die onderskeie maatskappye genoeg geld het om met hul onderneming voort te gaan.

“En dit is waaroor die verklaring gegaan het. Hulle het gesê die ondernemings in Suid-Afrika kan voortgaan, en ook dié in die VSA, Brittanje en Australië.”

Maar in Europa kan hulle nie hul krediteure betaal nie. Steinhoff kan die rente op hul skuld betaal, maar beplan om krediteure te nader vir uitstel om die kapitaal af te betaal. “Hulle is seker hulle kan dit regkry, en ek is ook, maar daar is geen waarborg nie.”

Steinhoff is nie regtig in ’n posisie om te onderhandel nie.
Francois du Plessis van Vega

Du Plessis is egter nie oortuig dat Steinhoff die banke kan oortuig nie. Hy sê ook Steinhoff sal ál die krediteure moet oortuig, want as net een instem, gaan daardie krediteur benadeel word. “En Steinhoff is nie regtig in ’n posisie om te onderhandel nie.”

Die maatskappy vergader weer op 26 Januarie met Europese krediteure.

Steinhoff sê ook in die verklaring hy gaan in Februarie ’n handelsoorsig gee vir die drie maande tot Desember verlede jaar. Fondsbestuurders vra al sedert Markus Jooste op 6 Desember as uitvoerende hoof bedank het en die aandeelprys ingesink het vir meer inligting.

Is daar nog waarde?

Momentum het in Desember aan Rapport gesê hulle glo daar is steeds onderliggende waarde in Steinhoff. Die afgelope week het hulle egter gesê hulle wag om nuwe inligting te kry voordat hulle kan sê of hulle steeds so dink.

Twee van Momentum se effektetrusts het voor Desember noemenswaardige blootstelling aan Steinhoff-aandele gehad.

Die Momentum Industrial Fund het einde Oktober 8,47% blootstelling gehad, wat 112 335 eenhede verteenwoordig het. Hulle het weens die skandaal aandele verkoop en het nou 93 405 aandele. Die FNB Momentum Growth Fund het teen einde Oktober 224 757 aandele besit; nou 165 975.

Momentum sê hoewel Steinhoff se onderliggende waarde moontlik meer is as wat in die mark gereflekteer word, het hulle besluit om te verkoop weens die onsekerheid oor die finan­siële state vir 2016, wat weer uitgereik sal moet word.

Die aandeel kan net sowel meer werd wees as die huidige prys in die mark, as wat dit minder kan wees.
Karl Leinberger van Coronation

Die Stanlib Value Fund, wat einde September blootstelling van 6,37% gehad het, het kort ná die aankondiging dat daar rekeningkundige ongerymdhede was al sy aandele verkoop.

Die Stanlib Industrial Fund het einde September blootstelling van 5,32% gehad en het ook kort ná die aankondiging alles verkoop. Stanlib sê dit is omdat daar “min ruimte” is vir beleggers om ’n betekenisvolle opbrengs op hul belegging te sien.

Coronation, wie se Coronation Industrial Fund einde September blootstelling van 7,46% gehad het en die Coronation Top 20 Fund 6,2%, sê in ’n inligtingstuk aan beleggers sonder genoeg inligting oor die aard en die skaal van wat fout is, is dit nie moontlik om te bepaal wat die waarde van die maatskappy is nie.

“Die aandeel kan net sowel meer werd wees as die huidige prys in die mark, as wat dit minder kan wees.”

Daarom gaan hulle nie nou aandele verkoop nie, maar wag totdat meer inligting beskikbaar is.

Old Mutual, wie se Old Mutual Industrial Fund blootstelling van 7,33% gehad het en sy Old Mutual Top Companies Fund 6,48%, wou die afgelope week nie kommentaar lewer nie.

Die maatskappy het op 12 Desember gesê hulle sal die situasie evalueer namate meer inligting beskikbaar raak.

Meer oor:  Steinhoff  |  Allan Gray  |  Stanlib  |  Coronation  |  Christo Wiese  |  Markus Jooste  |  Kleinhandel  |  Aandele  |  Beleggings  |  Kleinhandelaars
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

  • INDEKS
  • GELDEENHEDE
  • KOMMODITEITE
Data word met 15 min. vertraag
  • Gold Mining 2417,42 (6258)
  • Top 40 48865,06 (-69430)
  • All Share 54876,82 (-74598)
  • Resource 10 43434,32 (-38670)
  • Financial and Industrial 30 73805,91 (-119542)

Sakegesprek

Jy moet ‘n intekenaar wees om ons weeklikse Sakegesprek-nuusbrief met Theo Vorster te ontvang.

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.